Die pad saam met Jesus

Die pad wat ons saam met Jesus loop verskil van mens tot mens en daardie pad begin die dag wat elkeen van ons tot bekering gekom het.

Maar elkeen van ons se pad is nie dieselfde nie. Die end resultaat is dieselfde, maar nie die pad wat elkeen van ons loop nie. Sommige loop vinnig, terwyl ander stadiger loop. Sommige loop net ‘n ent en dan slaan hulle kampie op en bly net daar sonder om verder te vorder met hulle geloof pad saam met Jesus. ‘n Baie klein groepie loop die pad end uit met Jesus en dis hulle wat die groot geloof geskenke ontvang.

Soos jy die pad loop, gaan jy op verskillende plekke langs die pad kampies kry met mense wat gekom het in hulle geloof waar hulle wil wees en gelukkig is met wat hulle bereik het. Hulle het geen begeerte om enigsins verder te beweeg met die pad nie. Vir sommige van ons gaan dit snaaks wees om dit te sien, met al die mag wat ons tot ons beskikking het, maar ons moet onthou dat Jesus hierdie mense net so lief het as vir ons en dat Hy hulle glad nie oordeel nie.

Baie van die wat so kampie opslaan is die wat vasgevang geword het in die juk van diensbaarheid. Persoonlik sien ek dit baie onder die Kinders van die HERE. Hulle word vasgevang deur bepalings in die Woord of deur iets wat hulle iewers gelees het en hulle het besluit om hierdie juk op te neem en op hulle eie verder te dra omdat dit in hulle oë reg is om te doen. Hulle sal in baie gevalle oor ander mense probeer oortuig dat hierdie sware juk wat hulle dra die Wil van God is en so ander te oortuig om by hulle aan te sluit om te help dra aan hierdie juk wat hulle self opgetel het om te dra. Dis tragies om te aanskou, maar ons moet nooit vergeet dat Jesus hulle net so lief het soos vir al sy ander Kinders en dat ons hulle geensins mag oordeel nie.

Ek gaan nou openlik gesels. In al die jare wat ek die Wood van God bedien, word ek elke slag stom geslaan as ek sien hoe getrou sommige mense daardie juk van diensbaarheid dra! Sommige dra ‘n klein juk terwyl ander sommer groot gewig op hulle skouers laai! Hulle loop glad krom en kan nie eers regop staan om Jesus in die oë te kyk nie, maak hulle dra daardie gewig asof hulle op een of ander manier hulle geloof daarmee wil regverdig!

Jesus het vir ons twee reëls gegee om volgens te lewe soos in Mattheus 22:37 – 39 opgeteken “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Dis al wat jy hoef te doen en ek kan jou nou sê dat naasteliefde die grootste van hierdie reëls is!

Dis vir die wat op die pad bly en die Juk van Diensbaarheid vermy; gaan ‘n vryheid in die geloof ontdek wat vir min beskore is. Dis vir ons wat Jesus gaan vertrou met die groot geskenke wat Jesus baie graag vir sy Bruid wil gee. Vir ons gaan daar ‘n lewe van oorvloed wag met geen bekommernisse nie. By oorvloed bedoel ek nie rykdom nie, maar genoeg om van te lewe. Dit wat jy van die Vader vra gaan jy kry, maar dan gaan jy absoluut moet glo en moet vertrou en jou lewe geheel en al in die hande van die Vader moet plaas. Plek vir daardie Juk van Diensbaarheid gaan daar nie wees nie.

Die wat Jesus so volg op die pad gaan die lewe uit ‘n ander oogpunt uit sien. Hulle gaan leer dat dit belangriker is om te gee as om te neem. Hulle gaan leer om hulle geskenke weg te gee om so nog meer te kan ontvang. Hulle gaan leer dat om bagasie saam met jou te dra te veel gewig is en hulle gaan leer om daarvan ontslae te raak. Hulle gaan leer dat alhoewel hulle nie altyd verstaan waarheen Jesus hulle vat nie, daar altyd ‘n doel daarmee is en hulle gaan dit so aanvaar.

Ons vordering in Jesus hang dus van onsself af, maar soos ek gesê het, Jesus sal nooit minder lief wees vir enige van Sy Kinders gebaseer op die pad wat hulle saam met Hom stap nie. Daarvan kan julle verseker wees. Die enigste verskil gaan die geskenke wees wat jy gaan ontvang en daarmee saam die vryheid wat jy in die Geloof gaan voel.

As daar dus iets is wat jou terughou om Jesus ten volle te doen soos dit hoort, gooi dan daardie juk van jou af! Daardie bagasie wat jy die hele tyd saam met jou dra weeg swaar en dit hou jou so terug. Gooi dit weg, man! Maar moet dit nie nou weggooi en dan later weer gaan optel omdat dit so gemaklik in jou lewe inpas nie! Gooi dit weg en hou dit uit jou lewe uit! Ja, dit gaan snaaks voel in die begin, maar as jy eers gewoond raak om sonder daardie gewig te loop, dan gaan jy agterkom net hoe lekker jy kan loop! Prys die Naam van die HERE!

Mag die HERE hierdie boodskap in julle harte seën.

(Visited 412 times, 1 visits today)
Tagged , , , .