Ek let hierdie week weer eens op hoe baie mense mislei word deur vals predikers… Dit bewys maar net hoeveel mense daar is wat nie die Woord van God lees nie, maar eenvoudig aanvaar wat iemand anders daaroor sê as die waarheid!
Kom ons kyk na die bekering: dis ‘n twee stap proses. In stap een bely jy jou sonde voor God en toon jy berou daaroor. In stap twee onderneem jy om dit nooit weer te doen nie. Ek stem saam dat ons almal struikel. Ek struikel ook, maar dan moet jy dadelik gaan vergifnis vra. Jy moet ook ‘n daadwerklike poging aanwend om nie meer te sondig nie! Jesus sê verskeie kere self in die Nuwe Testament: “Gaan heen en sondig nie meer nie.” Hoe op aarde kan ons wat roem dit ons tot bekering gekom het, aanhou sondig en aangaan met ons ou lewens asof niks verander het nie?
Maklik is dit nie en jy gaan struikel, want niemand van ons is volmaak nie! Ek struikel ook nog na al die jare, maar die verskil is dat ons wat volwasse is die Gees die donkerheid van ons eie harte ken en daarom weet ons om dadelik vergifnis te gaan vra as ons gestruikel het. As ons dan vergifnis vir ons oortreding het, dan probeer ons om dit nie weer te doen nie, selfs al lyk dit vir ons na ‘n onmoontlike taak.
Ek ken al die verskonings: “Jesus was self ‘n mens en Hy sal verstaan.” Word wakker! Satan lieg vir jou! Kyk wat staan in Johannes 15:22: “…maar nou het hulle geen verskoning vir hul sonde nie.” Liewe leser; wat se verskoning gaan jy gebruik, nou dat jy geen verskoning meer het nie?
Die Bybel gee vir ons duidelike riglyne hoe ons moet optree en hoe ons ons lewens moet inrig. Die doel van hierdie riglyne is nie om jou te bind nie, maar om jou te weerhou van die vernietigende impak van sonde op jou lewe. Waarom tugtig ons ons kinders? Om hulle te weerhou om dieselfde foute te maak wat ons as kinders gemaak het. Dis waarom ons vir ons kinders riglyne gee waarvolgens ons wil hê hulle moet lewe. Net soos ons kinders hierdie riglyne nie altyd verstaan nie, verstaan ons ook nie altyd God se wil nie, maar as ons later terugkyk, dan besef ons waarom daardie riglyn daar was! Hou dus op om soos ‘n stout kind te wil optree!
In 1 Korintiërs 6:10 staan dit vir ons baie duidelik: “Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie.” As jy enige van hierdie laasgenoemde dinge doen, sal jy NIE Hemel toe gaan nie. Klaar gelag! Maak nie saak wie wat ook al sê nie. Jy gaan eers jou sonde moet bely en dan gaan jy moet onderneem om dit nie meer te doen nie! Moet dus nie dwaal nie! As jy geneig is tot sondes en jy het tot bekering gekom, dan gaan jy moet werk maak daarvan, want jou ewigheid is op die spel, liewe leser! Moenie dink dat God sal “verstaan” nie… Jy is besig om jouself te flous!
As ons tot bekering kom, dan word ons een liggaam met Christus (1 Korintiërs 6:15). Ons kan nie sê ons het tot bekering gekom en dan aanhou sondig nie! As ons dit doen, maak ons ‘n bespotting van God. In Galasiërs 6: 7 staan: “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie;”
Dit is waar dat Jesus ons lief het; meer as wat ons ooit sal besef, maar God is ook heilig en as ons Sy Kinders wil wees, dan gaan ons heiligmaking moet nastreef en ons gaan sonde uit ons lewens moet uitkry sover as wat dit vir ons moontlik is, maar nie saak hoe moeilik dit is nie!
Liewe leser: As jy in ‘n situasie is waar jy iemand ken wat roem daarop dat hy tot bekering gekom het, maar aanhou sondig, dan is dit jou plig om daardie persoon te waarsku. Mense gaan sê jy is onverdraagsaam, maar ek is liewer onverdraagsaam as ongehoorsaam. Ons kan nie meer dwaal hieroor nie. Die tyd het te min geword…
Mag die Here hierdie boodskap seën en laat die wat ore het om te hoor, hoor!