Moenie dwaal oor die bekering nie

Pasop dat satan jou nie mislei nie, want daar is net een manier om tot bekering te kom en daarom moet julle versigtig wees.

Ek wil hê dat julle moet oplet, want die dag wat iemand tot bekering kom, dan word die ou mens geestelik gekruisig en word ‘n nuwe skepsel gebore. Dis daarom belangrik om te onthou dat die bekering is ‘n drie stap proses is, naamlik:

  1. Sonde oortuiging – Jy word oortuig dat jy ‘n sondaar is en jouself nie kan red nie.
  2. Sonde berou – Jy kry berou oor jou sonde asook alles wat jy tot op datum gedoen het en jy vra vergifnis by Jesus daarvoor. Dis die gedeelte waar die ou mens geestelik gekruisig word.
  3. Ommekeer – Jy moet afskeid neem van sonde en ‘n poging aanwend om op te hou om sonde te pleeg. Hierdie is die kern gedeelte van my boodskap van vandag!

Om so ‘n ommekeer te doen is geen maklik taak nie, want jou liggaam is uit die stof van die aarde gemaak en dis waarom die wil om te sondig so sterk is. Jy baklei letterlik teen jou eie aardse swakheid en dis ‘n ewigdurende stryd wat ons as Kinders van die HERE stry omdat ons lief is vir Jesus en so ons liefde vir Hom bewys deur die poging wat ons aanwend om ons te weerhou van sonde!

Die beste beskrywing van ons stryd teen ons sondige wil vind ons in Paulus se sendbrief aan die Galasiërs: “want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie.” (Galasiërs 5:17)

Ja, jy gaan struikel en jy gaan val. Dis arrogant om te dink dat niemand ooit val nie, want as jy so dink; maak jou maar klaar vir ‘n baie harde ontmoeting met die aarde! Niemand van ons is perfek nie, nie eers ek nie, want ek struikel en val ook! Die belangrike deel bly egter die poging wat ons aanwend om Heilig te lewe, want daardie poging tel meer as wat ons ooit sal dink!

In Johannes 8 lees ons hoe die Skrifgeleerdes en die Fariseërs ‘n owerspelige vrou na Jesus gebring het. Na alles sê Jesus aan haar hierdie woorde: “Gaan heen en sondig nie meer nie.” (Johannes 8:11) Hierdie is die heel belangrikste deel van die verhaal, want as Kinders van God moet ons nadat ons tot bekering gekom het, juis dit doen: heen-gaan-en-nie-meer-sondig-nie!

As iemand wat hoereer tot bekering kom en daardie persoon hou nie op met hoereer nie; van watter nut is die bekering dan? Ek sê vir jou: as jy tot bekering gekom het en jy wend geen poging aan om op te hou sondig nie, dan het Jesus se kruis dood vir jou geen betekenis nie.

‘n Handige verskoning deesdae is dat Jesus my so gemaak het en dat Hy sal verstaan… Jy is weer verkeerd! God skape nie mense met enige vorm van afwykings nie. God maak net perfekte mense, maar deur na satan se leuens te luister, glo ons later dat ons so gemaak is deur die Skepper van Hemel en Aarde en dan aanvaar ons dat dit so moet wees!

As jy in ‘n kerk is waar enige vorm van sonde goed gepraat word en daar vir jou gesê word dat God jou so gemaak het, liewe leser, hardloop vir die berge, want jy is in die verkeerde kerk en jy word mislei! God is nie in ‘n kerk waar sonde goedgepraat word nie! Kyk maar wat sê Jesus in Mattheus 15:8 “Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af.” Is jy in ‘n kerk soos dit? Wees gewaarsku!

In Korintiërs 6:10 asook in Galasiërs 5:19-20 word vir ons ‘n hele lys van sondes gegee wat sal maak dat ons die Koningryk van God nie sal beërwe nie tensy jy hierdie sonde laat staan, vergifnis daarvoor vra en ‘n daadwerklike poging aanwend om dit nie meer te doen nie. Onthou dat daar geen goue middelweg is as dit by sonde kom nie. Dis of jy doen of jy doen nie en as jy struikel en val, bid dan dadelik vir vergifnis sodat jy vergewe kan word! Moenie uitstel nie! Sonde van die vlees is ernstig dinge, liewe leser! Moenie hieroor dwaal nie!

Ek wil nie hê dat een van die skape wat Jesus aan my toevertrou het die oomblik na die wegraping in die lug moet opkyk en vra: “Hoekom is ek nog hier nie, HERE?” Dis waarom ek hierdie baie ernstige waarskuwing nou uitstuur sodat almal gewaarsku kan word. Die bekering is ‘n ernstige saak met God. Wees dus gewaarsku, liewe leser!

Die bekering en ‘n heilige leefwyse gaan hand aan hand, liewe leser. Kyk wat staan in 1 Petrus 1:14-16 geskryf: [14]  Soos gehoorsame kinders moet julle nie jul lewe inrig volgens die begeerlikhede wat tevore in julle onwetendheid bestaan het nie. [15]  Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, [16]  omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.” Gaan julle nou heen en doen net so!

Prys die Naam van die EEN LEWENDE HERE!

(Visited 443 times, 1 visits today)
Tagged , , , , .