Seëninge van God of satan?

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Ons as Christene hou daarvan om te dink dat al die seëninge wat ons ontvang van Jesus af kom, maar dan is dit nie altyd so nie.

Ek preek ook hier vir myself, want ek het ook vir die een geval en Jesus het dit toegelaat sodat ek vandag vir julle hierdie waarskuwing kan bring.

Ons kan nie daarop aanspraak maak dat ons Kinders van Jesus is as ons na die vlees leef nie. Wanneer ons behoefte na geluk en materiële dinge groter is as ons behoefte om na die Wil van Jesus te lewe of om in gehoorsaamheid met die Woord van Jesus te leef, dan is jy in doods gevaar!

Die Bybel sê vir ons in Romeine 8:14 “Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God.” Makliker kan ek dit nie stel nie! Wie lei vir jou, liewe Kind van Jesus? Is dit die Gees van Jesus of die wil van jou eie vlees?

In Galasiërs 6:7-8 lees ons ook  [7]  Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.  [8]  Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai.”

Met ander woorde, liewe leser, dit wat jy aan ander doen, sal weer na jou toe terug kom. As jy alles in jou vermoë doen om iemand in eie munt terug te betaal, moet dan nie verbaas wees as jy self in daardie gat val nie.

Wees wys en wakker, liewe leser, want Jesus sal jou nie seën met iets wat jou van Hom af gaan wegvat nie. Dit was die slaggat waarin ek getrap het. Ek het gedink dis ‘n seëning van Jesus en toe was dit nie! Jesus sal jou nooit seën met seëninge wat jy nie vir sy Koningryk kan aanwend nie. As jy iemand in eie munt wil terug betaal deur te sê “nou is dit my beurt”, dan is jy lankal nie meer afhanklik van Jesus of Sy leiding nie. Dan het jy vir die aanbod van satan geval…

Onthou liewe Kind van God, ons teenstander is slinks! Moet nooit dink dat jy nie vir sy slimstreke kan val nie. Die oomblik wat jy dit dink, kan jy jou maar klaarmaak vir ‘n harde ontmoeting met die aarde; dit kan ek vir jou waarborg!

Kom ons kyk wat het in Lukas 4:5-8 met Jesus gebeur het [5]  Toe bring die duiwel Hom op ‘n hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld in ‘n oomblik se tyd.  [6]  En die duiwel sê vir Hom: Ek sal U al hierdie mag gee en hulle heerlikheid, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil.  [7]  As U my dan aanbid, sal alles aan U behoort.  [8]  En Jesus antwoord en sê vir hom: Gaan weg agter My, Satan, want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.”

Moenie dink dat satan nie ook dinge kan gee nie. Hy doen! En hy gee baie! Dis waarom dit so belangrik is om seker te maak van wie die aanbod kom. Kom dit van Jesus af of van satan af? As satan vir Jesus, die Seun van God ‘n rat voor die oë kon probeer draai het, hoekom nie dan vir jou en my nie? Maar Jesus was vol van die Gees van God en Hy kon dit af gewys het. Ons lees daarvan in Lukas 4:1  “En Jesus het vol van die Heilige Gees teruggekeer van die Jordaan af, en is deur die Gees in die woestyn gelei,”

Is ek en jy vol van die Gees van God in dit wat ons van Jesus vra of wil vra? Besluit jy!

Prys die Naam van Jesus!

(Visited 380 times, 1 visits today)
Tagged , , , , .