Voltooi die wedloop!

In een van my vorige boodskappe het ek met julle gesels oor die gevaar van wellus en begeertes en dat ons heiligheid moet nastreef.

Kyk nou net hoe getrou is ons Jesus met hierdie opvolg boodskap spesiaal om julle aan te moedig om vol te hou met die stryd om heilig te leef vir Hom! Prys die Naam van die HERE!

Paulus skryf in 1 Korintiërs 9:24-27 die volgende: [24]  Weet julle nie dat die wat op die baan hardloop, wel almal hardloop, maar dat een die prys ontvang nie? Hardloop só dat julle dit sekerlik kan behaal. [25]  En elkeen wat aan ‘n wedstryd deelneem, onthou hom in alles—húlle nogal om ‘n verwelklike krans te ontvang, maar ons ‘n onverwelklike. [26]  Ek hardloop dan soos een wat nie onseker is nie; ek slaan met die vuis soos een wat nie in die lug slaan nie. [27]  Maar ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie.”

Om heiligheid na te streef is nie maklik nie en Paulus vergelyk dit hier met atlete wat om ‘n baan hardloop om ‘n prys te ontvang. Ons hardloop, maar ons hardloop op die baan van die ewigheid. Waar werklike atlete hardloop waar net een van hulle ‘n verganklike prys te ontvang, gaan ons almal die prys van die Ewige Lewe ontvang deur die wegraping.

Let op dat hierdie prys net is vir die wat die wedloop klaarmaak en nie vir die wat langs die baan sit nie… As jy toelaat dat satan jou aandag aftrek met wellus en vleeslike begeertes, dan gaan jy nie daardie wedloop kan klaar maak nie. Sien julle die gevaar van wat satan doen? Moet daarom nie dat hy jou aandag aftrek nie!

Mense gaan dink jy is van lotjie getik omdat jy so aanhou, selfs al slaan die lewe jou plat, maar kyk wat sê Paulus hieroor. Ons neem deel aan hierdie wedloop net soos mense wat onseker is oor ons toekoms nie. Ons slaan ook nie met ons vuiste in die lug nie, hopende om iets raak te slaan nie. Is dit nie mooi gestel nie? Ons wat deelneem aan hierdie wedloop weet waarheen ons op pad is en ons weet dat die prys wat vir ons wag ons stoutste verwagtinge gaan oortref! Prys die Naam van Jesus!

Ons kasty ons liggame op hierdie manier deur nie in te gee vir vleeslike begeertes en wellus nie juis omdat ons weet waarheen ons op pad is en weet dat die wegraping en die Prys van die Ewige Lewe vir ons wag as ons  aanhou en uithou. Dis waarom ons doen wat ons doen en aanhou staan teen satan en sy aanvalle. Prys die Naam van Jesus!

Ek hoop hierdie boodskap het vir iemand betekenis gehad en dat dit daardie persoon gaan versterk op ‘n bonatuurlike manier om aan te hou om die wedloop te hardloop. Om aan te hou teenstand te bied teen wellus en vleeslike begeertes is nie maklik nie, maar binnekort gaan al hierdie swaarkry so die moeite werd gewees het! AMEN!

Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën!

(Visited 125 times, 1 visits today)
Tagged , , , .