Moenie verskrik word nie

Jesus het vir my die volgende boodskap in Mattheus 24 gegee om vir julle te bring.

Nou voor julle vir my sê dat julle Mattheus 24 al ten harte ken; ek het dit ook vir Jesus gesê en hy het my oog gevestig op ‘n gedeelte van vers ses. Kom ek gee vir julle die boodskap.

[6]  En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie. [7]  Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. [8]  Maar al hierdie dinge is ‘n begin van die smarte.” (Mattheus 24:6-8)

Kan julle sien watter gedeelte Jesus vir my uitgewys het? Daardie gedeelte is “moenie verskrik word nie”, maar kyk ook na die res van die vers: “want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie”.

Eers het ek nie verstaan waarom ek hierdie boodskap gekry het nie, maar ek het op Jesus vertrou dat die betekenis aan my uitgewys sal word en Jesus was getrou! Prys Sy Naam!

Die COVID-19 pandemie is al ‘n jaar saam met ons en kyk net hoe gemaklik het ons samelewing geword om saam met dit te lewe. Ons sien nie meer die hand van ‘n Liefdevolle God in hierdie krisis wat wag vir ‘n wêreld om terug te keer na sy Skepper toe nie. Nou dat die inentings hier is, kom dit voor asof mense onverskillig geword het en die virus glad nie meer vrees nie.

Ek kan nie sien wat in die toekoms gaan gebeur nie, maar ek weet dat Jesus nie vir my sal sê dat ek nie moet vrees uit dowe neute nie. Ek weet ook dat God nie met hom sal laat spot nie en dis waarom ek baie seker is dat daar iets anders aan die kom is wat baie erg gaan wees en dat dit die rede is waarom ek hierdie vers gekry het om aan julle te bring.

As Kinders van God hoef ons niks en niemand te vrees nie, want ons HERE sorg vir ons en niks sal met ons gebeur sonder die uitdruklike Wil van God die Vader nie. Jesus sê self so in Sy Woord in Mattheus 10:29-30, maar as ons dan wil vrees sê Jesus in vers 28 wie eerder gevrees moet word! Dit wat ‘n mens aan jou kan doen is niks in vergelyking met Hom wat na die dood by magte is om in die hel te werp nie! Om enige mens te vrees is dus sinneloos!

Ek weet nie wat gaan gebeur nie, maar ek weet dat wat dit ook al is, dat ons dit nie hoef te vrees nie. Ons moet eerder bly wees as ons hierdie dinge sien gebeur, want net soos met COVID-19 pandemie, is dit ‘n teken dat ons verlossing naby is! Prys die Naam van Jesus!

Weet dat Jesus met jou is, liewe leser en dit niks met jou sal gebeur nie. Dit is ‘n waarborg! Glo en vertrou op Jesus en wees bly, want ons verlossing is naby!

Prys Sy Naam!

(Visited 142 times, 1 visits today)
Tagged , , , , .