Ek weet dat baie van julle Mattheus 24 ter harte ken, maar vandag is daar iets spesiaal wat Jesus met julle wil deel.
Kom ek gee vir julle die boodskap: “[6] En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie. [7] Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. [8] Maar al hierdie dinge is ‘n begin van die smarte.” (Mattheus 24:6-8)
Kan julle sien watter gedeelte Jesus vir my uitgewys het? Daardie gedeelte is “moenie verskrik word nie”, maar kyk ook na die res van die vers: “want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie”.
Ons sien reeds verskriklike dinge plaasvind. Op politieke gebed is daar dinge aan die gebeur wat ons nog nooit voorheen gesien het nie. Die weer patrone het ook geheel en al verander. Daar van sneeu op plekke waar daar nog nooit voorheen sneeu geval het nie en daar is verspoelings op plekke waar daar ook nog nooit voorheen was nie, maar dis nie al nie! As dit reën, dan reën dit uitermatig baie! Alles wat deesdae gebeur, gebeur in die oortreffende trap en net daardie een bietjie ekstra erger as wat ons aan gewoond is!
Maar vandag wil Jesus vir julle sê dat julle nie moet vrees oor wat besig is om te gebeur nie. Hierdie dinge moet gebeur vir die wêreld as ‘n getuienis. Julle kan gerus wees dat ons as Kinders van God nie deur hierdie dinge geraak sal word sonder die uitdruklike goedkeuring van God die Vader nie. Jesus sê self so in Mattheus 10:29-30, maar as ons dan wil vrees sê Jesus in vers 28 wie eerder gevrees moet word! Dit wat ‘n mens aan jou kan doen is niks in vergelyking met Hom wat na die dood by magte is om in die hel te werp nie! Om enige mens te vrees is dus sinneloos!
Ek weet nie wat nog alles gaan gebeur nie, maar ek weet dat wat dit ook al is, dat ons dit nie hoef te vrees nie. Om die waarheid te sê moet ons eerder bly wees as ons hierdie dinge sien gebeur, want dis ‘n teken dat ons verlossing naby is! Prys die Naam van Jesus!
Plaas dus jou vertroue op die HERE. Vertrou Hom met alles wat jy het; jou lewe en ook die lewens van jou geliefdes; jou eiendom; jou kontant en alles anders wat jy mag besit en weet dat Jesus met jou is en dit niks met jou sal gebeur nie. Dit is ‘n waarborg!
Glo en vertrou op Jesus en wees bly, want ons verlossing is naby!
Prys Sy Naam!
