Hoe kan ‘n liefdevolle God mense hel toe stuur?

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Iemand het ‘n video oor hierdie onderwerp op Suider Kruis se Telegram Kanaal gepos en van daardie tyd af, praat die Gees van God met my om hieroor te skryf.

Een van satan se gunsteling taktieke is om die liefde van God vir die mens goedkoop te maak en af te kraak as niksseggend. God het almal van ons lief, ook die wat nie gered is nie. Jesus self sê tog in Matteus 5:45 “…want Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges.” Weet daarom dat God jou lief het, liewe leser, en dat sy liefde vir jou nie beperk is nie, selfs al is jy nie gered nie.

Ja, ek weet, dit antwoord nog nie die vraag waarom ‘n liefdevolle God enige iemand hel toe sal stuur nie. Om daardie vraag te antwoord moet ons kyk na Romeine 3:23 “…want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God.” Dit beteken dat ons almal sondaars is en daarom die ewige dood verdien! Die “ewige dood” beteken nie die dood in ‘n graf nie; dit beteken om ‘n ewigheid verwyder te word van God; ‘n ewigheid in die hel weg van die HERE af. Ek is ‘n sondaar en ek weet dat ek ‘n ewigheid in die hel verdien. Daar is by my geen twyfel daaroor nie; die Bybel sê so: “Want die loon van die sonde is die dood.” (Romeine 6:23)

Maar die lewe is soos ‘n baie groot skip sonder reddingsbootjies wat besig is om te sink. Uiteindelik sal daardie skip onder die water verdwyn en dan gaan ons almal vir ‘n rukkie spartel om te oorleef voor die moegheid ons oorval en ons gaan oorgee en sterf. Jesus het dit geweet en dis waarom Hy aarde toe gekom het. Hy het gekom om ‘n reddingsboot te bou sodat daar ‘n uitweg is, ‘n uitweg vir sondaars soos ek en jy sodat ons nie uiteindelik hoef te verdrink in ons eie sonde nie.

Daardie reddingsboot het Jesus langs hierdie sinkende skip in die water gelos en enige een wat wil kan in hom inklim en gered word. Nie een van ons hoef uiteindelik te verdrink as die skip finaal sink nie. Daar is ‘n ander uitweg; Prys die Naam van Jesus!

Maar daardie keuse, liewe leser, die keuse om in die reddingsboot te klim en gered te word van hierdie sinkende skip is ons s’n om te maak! Net jy kan besluit of jy in die reddingsboot wil klim of nie. Dis skip is besig om te sink en jy gaan uiteindelik verdrink, maar jy hoef nie te verdrink nie, want daar is ‘n reddingsboot, maar dan moet jy die keuse maak om in die reddingsboot te klim! As die skip dan uiteindelik sink en jy verdrink sonder dat jy van die reddingsboot gemaak het, dan kan jy nie vir God blameer nie, want daar was ‘n ander uitweg vir jou beskikbaar gestel. Jy wou dit egter nie gebruik nie.

Dit is die vryheid van keuse in aksie. God laat toe dat elkeen van ons ons eie keuses maak en Hy sal nooit ooit inmeng by jou vryheid van keuse nie, selfs al maak jy die grootste fout op aarde. Die keuse bly joune, maar onthou: die feit dat ons die vryheid van keuse het, beteken nie dat ons vry is van die gevolge van daardie keuse nie.

Om alles saam te vat, ons is almal op pad hel toe; elke een van ons. God stuur niemand van ons hel toe nie, want ons is klaar op pad daarheen deur ons eie vryheid van keuse! Romeine 3:23 bevestig dit, want ons almal het gesondig en volgens Romeine 6:23 verdien ons almal ‘n ewigheid in die hel. Maar Jesus is die uitweg; die reddingsboot wat jou kan wegvat van daardie pad hel toe, maar dan moet bereid wees om in die boot te klim!

God stuur dus niemand hel toe nie. Ons gaan hel toe omdat ons nie vir Jesus wil kies nie. Ons wil nie gered word nie en ons wil nie van die reddingsboot wat God daargestel het gebruik maak nie. Dis waarom mense hel toe gaan en nie omdat ‘n liefdevolle God hulle daarheen stuur nie!

Jy wat hier lees kan NOU van daardie reddingsboot gebruik maak en dan hoef jy ook nie hel toe te gaan nie, maar die keuse is joune en joune alleen om te maak. Jesus kan daardie keuse nie vir jou maak nie, net jy kan. As jy dus gereed is, gaan dan af op jou knieë en bid die volgende gebed saam met my. As jy dit doen en jy bedoel dit uit jou hart uit, sal jy die hel nooit binnegaan nie. Jou naam sal geskryf staan in die Boek van die Lewe saam met myne en jy SAL vir Jesus sien en Sy onbeskryflike liefde vir jou ervaar! Prys Sy Heilige Naam!

Jesus, ek is ‘n sondige mens en ek doen die hele tyd die verkeerde goed, maar vandag wil ek voor U kniel my God en ek wil vra dat U my sal vergewe. Ek het diep berou oor al die verkeerde goed wat ek gedoen het en selfs al kan ek nie alles onthou nie of al voel ek skaam om dit op te noem, HERE, weet ek dat U my nou vergewe daarvoor en my wit was in U bloed. Ek wil vra Jesus dat U my sal help om op die reguit pad te bly. Ek weet dat dit nie maklik gaan wees nie, HERE, maar ek weet dat U saam met my daardie pad gaan stap en dat ek nooit ooit meer alleen sal wees nie. Dankie HERE dat U aan die kruis gesterf het vir my. ‘n Groter geskenk as dit kon ek sekerlik nooit gekry het nie. Dankie ook Jesus dat U my vergewe het en dat ek nou vir seker weet dat my Naam in die Boek van die Lewe geskryf staan. AMEN!

Prys die Wonderlike Naam van Jesus!

(Visited 232 times, 1 visits today)
Tagged , , , .