Moenie die krag van gebed onderskat nie

Die kerke van vandag is nie meer soos dit in die verlede was nie, maar dis ‘n teken van die tyd waaroor Jesus ons gewaarsku het.

Dis dan ook die rede waarom so baie die krag van gebed onderskat of dit glad nie verstaan nie. Dis waarom dit so ‘n wonderlike ondervinding is om in ‘n kerk te wees waar die Gees van God vrylik kan beweeg. Om te kan sien hoe die Gees mense genees van hulle kwale, hoe mense wat nie sonder ‘n bril kan lees nie, skielik hulle Bybels oop maak en lees sonder daardie bril, hoe mense wat nie kan loop nie, opspring en hardloop; dis wat die Gees van God kan doen! Dit is die krag van gebed daardie!

Vandag sien jy dit nie meer nie en ek mis daardie tye so baie. Nee, hierdie was in die tyd voor mense hierdie goed vir die skyn gedoen het net om hulleself te verryk…

As ware Kind van God is ons gebede hier op aarde is kragtig, want dit hou die volle geweld van satan se mag op aarde terug. Ons is die rede waarom satan nie toegelaat word om te kan doen wat hy wil nie. Ons gebede is die rede waarom die wegraping nog nie plaasgevind het nie. Ons gebede is wat God die Vader elke slag oortuig om die verdrukking op aarde met sekondes uit te stel.

Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is;” (2 Tessalonisense 2:7)

Waarvan word hier gepraat? Die skrywer praat hier van die koms van die Antichris en die begin van die verdrukking. Ons en ons gebede is wat daardie proses keer om te begin. Solank ons op aarde is, kan die Antichris nie sy verskyning maak of die verdrukking begin nie. Die wegraping moet eers plaasvind voor die Bedeling van Genade waarin ons nou is tot ‘n einde gebring kan word en die Bedeling van die Oordeel kan begin.

Moet dus nie daardie gebed wat jy in die oggend of in die aand saam met jou Skriflesing doen as gering ag nie, want dis alles behalwe gering! Jesus self sê in Lukas 11:10 “Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word.” As jy bid en vra, SAL jou ontvang! Prys die Naam van Jesus!

Moet dus nie jou gebed afskeep nie! Gesels met Jesus! Hy wil jou so graag beter leer ken en Hy wil so baie graag deel van jou lewe en elke besluit wat jy maak wees. Moet Hom nie daardie voorreg ontneem nie.

Bou daardie gebed altaar van jou op, liewe leser! Versamel daardie klippe en moenie jou gebed afskeep of as gering beskou nie, want dis alles behalwe dit!

Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën!

(Visited 557 times, 1 visits today)
Tagged , , , .

One Comment

  1. Amen! Baie dankies vir die boodskap en, bevestiging – ons elkeen wat op Jesus Christus wag en dag en nag bid vir geliefde mense se (terugkeer na) bekering het dit só nodig!

    God se rykste seën aan u.

Comments are closed.