Waarom slegte dinge moet gebeur

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media
Print Friendly, PDF & Email

Die vorige keer het ek vir julle ‘n getuienis gebring van iemand wat se kind deur ‘n dronk bestuurder omgery was. Ek besef maar net te goed dat daar mense is wat wonder waarom die HERE sulke dinge sal toe laat. Ek wil net vir julle sê dat dit heel normaal om so te dink, maar dis net omdat ons nie die groter prentjie kan sien nie.

Ek was self in die Polisie gewees en ek kan nie eers begin om vir julle te verstel hoeveel beseerdes en dooies ek in my loopbaan gesien het nie. Ek het letterlik die goeie en die slegste in die mensdom gesien en ek kan vir julle met alle eerlikheid sê dat ek meer as een keer gewonder het waarom die HERE toelaat wat Hy toelaat om te gebeur.

Iemand het op geleentheid vir my gesê die lewe is soos ‘n legkaart en ons kan nie sien hoe die hele legkaart lyk as ons die hele tyd net na die een stukkie staar nie. Dis ons as mens se grootste probleem. Ons probeer so hard om sin te maak uit die een stukkie van die prentjie dat ons nie eers oplet dat ons besig is om ‘n legkaart te bou nie. Later as die stukkie eers in plek is, dan sien ons waarom daardie gedeelte van ons lewens nodig was.

In my eie lewe het ek al verskeie sulke lesse gehad en ek kan vandag met alle eerlikheid sê dat ek weet waarom die meeste van hulle daar was. Dit was of as gevolg van my eie sonde of dit was om ander redes, maar in beide gevalle het dit ‘n koersverandering teweeg gebring.

Die HERE sien watter rigting elkeen van ons op pad is in ons lewens boot en dis waarom Hy toelaat dat dinge met ons gebeur. As ons aanhou op die rigting waarop ons is, sal dit sekerlik lei tot groter skade en dat ons moontlik van Hom afvallig word en dit sal die HERE altyd probeer keer.

Kom ons gaan nou terug na die getuienis van die vorige keer. ‘n Dronk bestuurder het ‘n kind op ‘n fiets raakgery en daar was geen ambulans wat kon help nie. Einde ten laaste is ‘n helikopter ingekry om die beseerde kind na die hospitaal te vervoer.

Ek kan julle waarborg dat daardie dronk bestuurder nooit weer sou gedrink het nie. Vir hom sou daar ‘n lewens verandering van epidermiese proporsies gewees het. Die HERE het in mense se harte gewerk daardie dag soos nog nooit, want almal op die toneel het begin bid. Dit sou sekerlik die wat nie gelowig was nie ingesluit het. Die wonderwerk wat daar afgespeel het sou by mense bly vir die res van hulle lewens. Die persoon wat die gebeurtenis in skrif gestel het, sal nog meer mense bereik het met die storie en so nog meer siele vir die HERE wen. Die kind wat in die ongeluk was, het wonderbaarlik herstel met net ‘n litteken op sy kop!

Kan julle nou sien hoe die HERE werk? Iets vreeslik het gebeur, maar kyk net hoe baie goed het daaruit gevloei. Satan het gedink hy wen, maar hy het eintlik so ver verloor, dis net nie snaaks nie!

Liewe lesers, vertrou die HERE! Altyd! Selfs al lyk dinge vir ons as mense so deurmekaar dat ons geen sin daarvan kan maak nie, sit jou hand in Syne en weet dat jy veilig is en niks sal gebeur sonder Sy Wil nie!

Prys die HERE vir hierdie boodskap!

(Visited 116 times, 1 visits today)