‘n Lewe in afhanklikheid van die Here

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Mag die HERE julle harte vandag aanraak met sy wysheid sodat ons die eie ek kan afsweer vir ‘n lewe wat geheel en al afhanklik is op die HERE se wysheid en Sy beste oordeel.

Ons lewens is ‘n boek vol verkeerde keuses en besluite wat op eie wil gemaak is en so raak ons betrokke in dinge wat die lewe elke dag uit ons uit suig. As jy in so ‘n situasie vasgevang is, wil ek vir jou sê dat daar niks meer is wat jy kan doen vir die HERE om jou meer lief te hê nie. Jy het reeds gesien hoe die HERE jou lei en hoe Sy arm jou uit veelvuldige gevaar situasies gered het: situasies wat jou vroeë dood kon veroorsaak het.

Daar is so baie geskenke wat die HERE jou mee toevertrou het; so baie talente en so baie genade. Hy verwag nie van jou om al hierdie geskenke in jou leeftyd te gebruik nie. Elkeen sal ontvou in sy eie tyd. Net soos die HERE met ander mense werk, net so sal Hy met jou ook werk.

Ons almal begin ons lewens in die wêreld met trotsheid en daarop uit om ons merk in die lewe te maak. In daardie toestand kan die HERE nie met jou werk nie, want jy is te in die wêreld. Daarom wag Hy geduldig dat jy eers moet uitbrand voor Hy jou kan gebruik vir die doel waarvoor jy gemaak was en jy gaan besef dat die HERE se wysheid beter is as jou eie wysheid.

Jy is iemand met baie talent en die HERE weet dit, maar voor jy daardie talent kan gebruik, moet jy eers opgelei word. Op ‘n soortgelyke wyse kan ‘n jong perd nie sommer dadelik voor ‘n koets saam met ander perde ingespan word nie. Daardie perd moet eers opgelei word om in ‘n span te kan trek en daardie opleiding is nie maklik nie.

Die HERE weet jy sukkel met rigting in jou lewe. Baie keer het Hy jou gelei en jy het gevolg. Daarvoor is die HERE baie dankbaar, maar ander kere het jy gerebelleer en jou eie rigting ingegaan. Nou gaan jy deur ‘n tyd waar jy die vrug van jou eie keuses oes. Sommige is goed, maar ander is nie so goed nie.

Hierdie is die tyd van wysheid in jou lewe waarvoor die HERE so geduldig gewag het. Hy het gewag vir die tyd waar jy gaan besef dat jy nie op jou eie kan aangaan of om meer besluite op jou eie te maak nie. Dis een van die redes waarom die HERE jou tot hier gebring het. Die HERE weet jy wonder waarom dinge altyd verkeerd gaan as jy die regte besluit probeer maak. Die HERE sê dis omdat daar altyd weerstand teen die regte besluite gaan wees.

“My liewe Kind; waarom probeer jy om dinge op jou eie te doen; op jou eie krag en met jou eie verstand? Waarom soek jy nie eerder na My en My wysheid nie. Ek laat hierdie dinge in jou lewe toe sodat jy jou lewe totaal kan oorgee in My hande. Dis waarom Ek hierdie dinge in jou lewe toelaat.”

“Jy hoef My nie te oortuig hoe mooi of waardevol jy is nie, want Ek het jou gemaak en Ek weet dit reeds. Ek wil egter nie sien hoe jy jou lewe vermors op verkeerde besluite nie, dis waarom Ek jou tot hier gebring het. Dis nie ‘n sonde om swak te wees, hulp te vra of liefde nodig te hê nie. Die werklike sonde is trotsheid, en om te dink dat jy onafhanklik is en dat jy My nie nodig het nie.”

Die HERE het ‘n plan met jou: ‘n blink nuwe toekoms, maar voor Hy hierdie deur kan oopmaak in jou lewe, het Hy eers jou samewerking nodig. Jou samewerking om oor te gee in Sy Wil vir jou lewe en totaal op Hom te vertrou. Jy kan op die HERE vertrou, want dis die regte besluit! Maar eers moet die verlede afgesluit word, want die HERE kan nie sy geskenke vir jou lewe op ‘n dooie verlede spandeer nie.

Jou lewe gaan weer begin om vrug te dra: goeie vrugte van lojaliteit en jy gaan die soet vrug van jou arbeid pluk. Net die HERE ken die pad wat jy moet loop; laat Hom dus toe om jou te lei. Vertrou op Hom soos jy nog nooit vertrou het nie. Die HERE het jou doelbewus hier geplaas sodat jy moet leer en dis net hier waar jy dit kan leer, as jy bereid is.

“Al wat Ek vra my liewe Kind is vir jou erkenning dat jy My nodig het. Soek My wil vir jou eerste en wanneer Jy my in jou gedagtes hoor fluister, let dan op en volg, want Ek wil jou die regte pad wys. As jy nie seker is nie, gebruik dan die dinge in jou lewe om bevestiging te kry. Op hierdie manier sal jy weet jy is op die regte pad, want op My pad, werk alles altyd uit!”

“Alles wat Ek het is joune as jy net vra. Vra My om hulp, vra My om te voorsien en laat Ek jou in My wysheid lei. Op hierdie manier sal jy meer vooruitgang maak in jou lewe. Moenie bang wees om vir hulp te vra nie. Wees eerder bang om op jou eie te loop sonder My beskerming en wysheid. Ja, Ek sal jou beskerm solank jy onder My wil is. Dit is die regte pad om op te wees.”

(Visited 166 times, 1 visits today)