Vandag gaan ons kyk na die gelykenis van die huis heer wat vier keer uitgegaan het om mense te huur om in sy wingerd te kom werk.
Hierdie gelykenis is opgeteken in Mattheus 20. Vier keer in dieselfde dag en op verskillende tye het hierdie huis heer uitgegaan na die mark en mense wat op die mark rondstaan te huur om in sy wingerd te kom werk. Die eerste groep het hy vroeg in die môre gehuur, die tweede groep om en by die derde uur in die oggend, die derde groep om en by die sesde uur in die middel van die dag en die laaste groep om en by die elfde uur wat laat in die middag is.
Die ure van die dag waarvan hierbo gepraat word, was gereken op die aantal ure na sonsopkoms. Die derde uur was daarom die derde uur nadat die son opgekom het. Omdat daar tipies twaalf ure sonskyn in ‘n dag is, was die huur van mense op die elfde uur gereken as baie laat omdat daar dan net nog een uur oor was om in te kan werk.
Met elke groep het hy ooreengekom om hulle ‘n penning tye betaal vir hulle dag se werk. Nou ‘n Joodse penning vir ‘n dag se werk was standaard betaling in daardie tyd. Een Joodse penning was rofweg R480 werd was in vandag se terme, met inflasie bygereken. Dit was dus glad nie so min soos dit vandag lyk nie!
Toe die son ondergaan het die huis heer die opsigter van die wingerd geroep en beveel dat die werkers betaal moes word, maar hy moes begin by die wat heel laaste gehuur was en die wat eerste gehuur was laaste betaal. Almal het die ooreengekome salaris van een penning ontvang, maar die wat eerste gehuur was, was nie gelukkig nie. Hulle het gedink dat hulle meer sou kry omdat hulle die hele dag gewerk het teenoor die wat net een uur gewerk het. Die huisheer het geantwoord dat die salaris van een penning dit was waarop hulle ooreengekom het en dat hy met sy eiendom kon maak soos hy wil, selfs al wil hy goedhartig wees teenoor die wat laaste was.
Baie mense dink dat hoe langer hulle gereddes was, hoe groter gaan die beloning wees wat hulle gaan ontvang as hulle in die Hemel kom, maar hier sien ons dat dit nie so gaan wees nie. Dit maak nie saak of Jesus jou siel gered het 35 jaar gelede of net een uur gelede nie. Almal se beloning dat hulle vir Jesus gekies het gaan dieselfde wees. Die rede hiervoor is omdat ons as mense dink dat omdat ons langer Kinders van die HERE is, ons op een of ander manier meer werd is as die wat korter gered is. Weereens is dit nie so nie, want by Jesus is ons almal dieselfde en gaan ons almal dieselfde behandel word!
Wat wel ‘n verskil gaan maak is die hoeveelheid werk wat jy vir Jesus op aarde gedoen het. Eintlik, die oorgawe waarmee jy daardie werk gedoen het. As jy passievol is en jy doen dinge vir Jesus omdat jy wil en omdat jy Hom lief het, dan gaan jy ‘n baie hoër kwaliteit werk doen as iemand wat net werk omdat hy ‘n beloning gaan ontvang. Jesus weet dit en dis waar die verskil gaan inkom en nie by hoe lank jy al ‘n Kind van die HERE is nie.
Verstaan julle hoe dit werk? Doen daarom wat jy vir Jesus kan doen terwyl jy nog kan, want die nag kom wanneer niemand kan werk nie. As jy vir Jesus iets wil doen, doen dit dan met oorgawe en met ‘n lied in jou hart en jy sal mildelik daarvoor beloon word, dit kan ek jou belowe!
Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën!
