Ons mors tyd op doellose dinge

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Jesus het my gewys hoeveel kosbare tyd Sy kinders besig is om te verkwis op dinge wat geen ewigheid waarde het nie…

Ek skryf normaalweg nie twee boodskappe op een dag nie, maar hierdie is ‘n noodgeval.

Jesus het vir ons twee gebooie gegee om volgens te lewe en dis opgeteken in Mattheus 22:37-39 en ek wil hê dat julle mooi moet oplet. Ek weet julle ken hierdie gedeelte, daarom vra ek dat julle my sal verdra.

[37]  En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. [38]  Dit is die eerste en groot gebod. [39]  En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” [Mattheus 22:37-39]

Die eerste gebod en die grootste van die twee gebooie is dat jy die HERE jou God moet lief hê met jou hele hart, jou hele siel en jou hele verstand. Dit beteken dat jy alles in hierdie liefde moet werp en niks moet terug hou nie. Jesus moet jou alles wees; jou begin in die oggend en jou einde aan die aand as jy gaan slaap. Jou hele lewe moet aan Hom behoort van die oomblik wat jy jou hart vir Hom gegee het tot die dag wat jy oorstap van hierdie lewe in die volgende in.

Dit klink na ongelooflik baie om te vra, maar dit is nie. Jy kan nog steeds jou eie ding doen, maar Jesus moet altyd nommer een wees daarin, want Hy is die hele tyd by jou en deel van jou. Hy ken jou, want Hy het jou gemaak en jou by die naam geroep nog voor jy gebore was! Nou wil Hy hê dat jy Hom moet leer ken soos Hy jou ken.

Stelselmatig sal jy vind dat jy al hoe meer tyd saam met Jesus WIL spandeer. Dinge wat die wêreld as belangrik beskou, sal later vir jou nie meer so belangrik wees nie, want Jesus het nou daardie plek ingevat. Die dag as Jesus ons gaan kom haal, dan gaan die wat Hom op daardie vlak ken, die wees wat sal saamgaan, want Hy sê so in Mattheus 25:10-12.

[10]  En onderwyl hulle gaan om te koop, het die bruidegom gekom. En die wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof, en die deur is gesluit. [11]  Later kom toe die ander maagde ook en sê: Meneer, meneer, maak vir ons oop! [12]  Maar hy antwoord en sê: Voorwaar ek sê vir julle, ek ken julle nie.” [Mattheus 25:10-12]

Die gebod wat hiermee saam gaan is dat jy jou naaste moet lief hê soos jouself. Soos Jesus jou lief het met al jou foute, met al jou tekortkominge en deur al jou oortredinge teen Hom, so moet jy jou naaste lief hê. Onmoontlik hoor ek sommige sê? Nie as die Gees van die HERE werklik in jou is nie, want kyk wat skryf Paulus in 1 Korintiërs 13:4-7.

[4]  Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, [5]  handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, [6]  is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. [7]  Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.” (1 Korintiërs 13:4-7)

Hierdie, liewe Kinders van die God is die goed wat ewigheid waarde het. Dis die goed wat jy as Jesus jou kom haal, saam met jou vat na die volgende wêreld. Hierdie is goed wat niemand, nie eers satan van jou kan wegvat nie. Dis die skatte wat jy in die Hemel bymekaar maak, waar roes of mot dit nie kan verniel nie.

As ons hele lewe dan deur hierdie goed in beslag geneem word, waar kry ons dat die tyd vir al die nuttelose dinge? Iewers moet ons tog afskeep, nie waar nie? Waar kry ons dan die tyd om te sit en wonder of Kersfees ‘n heidense vakansie dag is? Waarom kraak ons mense van ander gelowe af? Waarom is dit so belangrik om mense te oortuig dat jy nie op ‘n Saterdag kan kerk toe gaan nie? Begin julle nou verstaan?

Ons het Jesus lief met ons hele hart, ons hele siel, ons hele verstand en ons het ons naaste lief soos onsself. Daardie liefde soek nie sy eie belang nie, raak nie verbitterd nie en reken die kwaad nie toe nie. Daardie liefde hoop alles, glo alles en verdra alles.

Verstaan julle waaroor hierdie boodskap gaan? Ons mors tyd op doellose dinge. Dinge wat geen waarde het nie en wat jy ook nie saam met jou kan vat nie. Hierdie is die goed wat jou geluk in Jesus steel, jou kwaad maak en jou verbitterd maak. Waarom hou jy jou dan hiermee besig? Hou op om ander te oordeel! Ja, jy kan maar sê dat jy nie oordeel nie, maar dis oordeel daardie! Ek weet, want ek was ook daar en het ook hierdie dinge gedoen!

Jesus sê in Sy Woord: “Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter.”  (Jesaja 5:20)

Ons is nie van die wêreld nie en daarom hoort die wêreld ook nie in ons nie. Ons taak is maklik; om Jesus lief te hê met alles wat ons het en daarmee saam mekaar lief te hê soos Jesus self ons liefgehad het. Dis al wat belangrik is, want dis wat waarde het. Alles anders is nutteloos; afleidings van satan, om ons besig te hou sodat ons minder tyd aan God bestee.

Julle weet; ons almal raak die pad soms byster; ek ook, want ek is ook net ‘n mens, maar ons het die tyd nou om reg te maak, so kom ons doen dit.

“Hemelse Vader, ons kom vandag voor U om U vergifnis te vra en u rigting en leiding te soek. Deursoek ons vandag, o God, en ken ons harte vandag; reinig ons van elke sonde en maak ons ​​vry. Amen!”

Mag die HERE hierdie boodskap aan elkeen wat dit lees se harte seen!

(Visited 378 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , , .