Jesus se koms is voor die deur; dit kan ons almal aanvoel, maar ons weet nie wanneer dit gaan kom nie; dit kan egter enige oomblik gebeur!
Om gereed te maak vir hierdie oomblik behoort enige Kind van die HERE se nommer een prioriteit te wees en deel van hierdie proses is Heiligmaking.
“Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.” (1 Petrus 1:15-16)
Bid vir vergifnis van sonde en was jou kleed in die Bloed van die Lam so veel kere as wat dit nodig is. Moenie bang of skaam wees om hierdie proses soveel kere te herhaal as wat nodig is nie, want as mense oortree ons baie maklik.
Lees jou Bybel en maak tyd om dit te lees. Lees jou Bybel so veel kere as wat jy kan, want dis waar ons krag en sterkte om teen die magte van satan te kan baklei vandaan kom. Laat die mense maar weet dat jy anders is en as hulle wil spot; laat hulle, want ons weet dat daardie gespot van korte duur gaan wees.
Gesels met Jesus soveel kere as wat jy kan: in jou motor as jy ry, by jou huis as jy die tuin nat spuit of as jy skottelgoed was of wasgoed ophang. Jesus is verlief op jou stem en Hy wil so graag daardie stem van jou hoor. Vertel Hom van jou dag, vertel Hom wat jou bang maak en vertel Hom wat jou bly of gelukkig maak. Hierdie is almal sterk en kragtige gebede sonder dat mens dink dat dit gebede is.
Onthou dat die wegraping nie is vir die wat lang gebede doen of dae lank vas nie, maar die wat Jesus ken en van Hom ‘n persoonlike vriend gemaak het. Jesus sê nie verniet in Mattheus 25:12 vir die vyf onverstandige maagde “Voorwaar ek sê vir julle, ek ken julle nie.” Hierdie is ‘n waarskuwing! Die vraag is dus, liewe leser: ken Jesus jou?
Onthou dat die wegraping nie vir almal is nie. Die feit dat jy gered is, beteken nie dat jy geneem gaan word in die wegraping nie. Jesus het standaarde wat Hy aan ons gegee het en daardie standaarde gaan nie verlaag of verander word terwille van sekere individue nie. Moenie dat satan jou flous nie. Moenie dat satan vir jou oortuig dat God sal verstaan nie, want dis ‘n leuen daardie!
Daardie standaarde is opgeteken in Mattheus 22:37-39 “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Jy moet Jesus en daarmee saam God die Vader lief hê en Hom eerste stel in alles. Hy is jou begin en jou einde en jy moet as te ware niks doen sonder dat Jesus nie eerste daarvan weet nie. Dan moet jy jou naaste lief hê soos jouself, want naasteliefde bedek baie sonde! Jesus gaan daardie klein oortredinkies wat ons elke dag doen baie makliker oorsien as jy jou naaste lief het soos jouself. Beoefen dit dus en maak dit deel van jou daaglikse roetine.
Onthou die Vrugte van die Gees soos opgeteken in Galasiërs 5:22, want dis hoe ons die ware Kinders van God uitken! “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.” (Galasiërs 5:22) As jy wil weet of jy die Heilige Gees in jou het en of jy werklik gereed is, dan is hierdie jou maatstaf! Prys die Naam van Jesus!
Kom ons bid saam: Vader Jesus, ek wil vra dat die wat hierdie boodskap lees, dit ter harte sal neem en dit in hulle harte sal bewaar, omdat dit so belangrik is. U waarsku ons al baie lank deur U Gees dat hierdie dag gaan kom en dat dit skielik gaan kom. Ek kan maar net bid en vra dat U ons sal help om gereed te wees op daardie dag as U gaan kom om ons te kom haal. Help ons om staande te bly teen die aanvalle van satan. AMEN!
Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën!
