‘n Waarskuwing om Heilig te lewe

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

As Kinders van die HERE moet ons onsself daarop beroep heilig te lewe en om heiligheid na te streef met ons hele hart!

Vandag se boodskap kom uit die boek van Judas. Daar is net een hoofstuk en julle kan dit gerus alles self gaan lees. Alles wat Judas hier beskryf van die laaste tyd is vandag waar. Net soos daar in 2 Petrus 3 vir ons gewaarsku word, herhaal Judas die selfde waarskuwing in Judas 1:18 dat daar in die laaste tyd spotters sal wees wat volgens hul eie goddelose begeerlikhede sal wandel. Mense wat God nie ken nie en net daarop uit is om ‘n skeuring onder mense te maak.

Maar ons moet ons daarop beroep om onsself op te bou in heiligheid en deur in die Heilige Gees te bid. Dit wil sê, liewe leser, streef heiligheid na met jou hele hart! Prys die Naam van Jesus!

Moenie leuens vertel nie. As jy nie die waarheid kan praat nie, bly dan liewer stil.

Leef ‘n eerlike leefwyse. Moenie jou naaste te na probeer kom om watter wyse ook al nie. Daardie bietjie wins wat jy gaan maak gaan nooit kan vergoed vir die ewigheid van pyniging in die hel nie.

Moenie dink dat jy op die laaste oomblik net voor die wegraping tyd gegun gaan word om vinnig alles wat verkeerd is reg te maak nie. Daardie tyd gaan nie vir jou gegun word nie!

Luister na die Gees van die HERE in jou. Daardie stemmetjie wat al baie lank met jou praat oor alles wat verkeerd is in jou lewe. Spreek daardie tekortkominge aan deur ‘n poging aan te wend om daarvan ontslae te raak en reg te maak wat jy verbrou het. Soos met alles in die lewe gaan jy dit nie dadelik regkry nie, maar hou aan met probeer. Dit sal makliker word soos jy aangaan, want Jesus sal jou help deur jou te bewaar. Prys Sy Naam!

Onthou dat enige poging wat jy aan wend meer tel as wat jy ooit sal besef! Moet dus nie jou pogings as gering afmaak nie! ‘n Baba val ontelbare kere voor dit leer om regop te loop. Net so met ons as ons die regte wil nastreef.

Pasop vir satan se leuens! Jesus is ‘n God van liefde, maar dit beteken nie dat die sonde wat ons pleeg ongestraf sal bly nie. Judas sê vir ons in vers ses dat selfs die engele wat hulle eie beginsels nie bewaar het nie, het die HERE gestraf deur hulle onder die aarde geboei te hou en in duisternis te bewaar sodat hulle geoordeel kan word! Dit is waar dat Jesus ook ‘n mens was en dat Hy begrip het vir ons swakhede, maar dit beteken nie dat ons kan aanhou sondig nie. Alle sonde sal gestraf word!

Daarom, liewe lesers, maak reg wat stukkend is en sorg dat jy weer terugkom op daardie nou paadjie. Dis glad nie moeilik nie. Jesus staan gereed om jou te help as jy vra. Ek weet glad nie hoeveel tyd ons meer het nie. Ek beskou elke dag wat ek nog hier is as ‘n geskenk, want ek weet dat die wegraping enige oomblik kan plaasvind! Prys Sy Naam!

Plaas julle self onder bewaring vir die HERE en haat daardie kleed wat met sonde bevlek is! (Judas 1:23) Mag die HERE julle bewaar van die bose en julle strewe na heiligmaking seën!

Prys die Naam van Jesus!

(Visited 192 times, 1 visits today)
Tagged , , , , .