Ons het iets wat nie eers die Engele in die Hemel het nie en dit is die vryheid van keuse.
Iemand wat baie slimmer is as ek het eendag gesê dat die vryheid van keuse die enigste werklike vryheid het wat enige iemand van ons het. Daardie persoon was natuurlik reg, want om jou eie besluite te kan maak is die grootste vryheid denkbaar!
Die vryheid van keuse is vir Jesus so belangrik dat hy glad nie inmeng in die keuses wat ons maak nie. Selfs al maak die keuses ons ontrou aan God of selfs al sit dit ons op ‘n pad wat ons van Hom af wegvat, sal Jesus nie inmeng nie. Elke een van ons moet die keuse maak of ons vir Jesus wil dien of nie en of hy die Wil van die Vader in sy lewe gaan laat geskiet. Glo dit of nie; elkeen van ons kom op een of ander tyd in ons lewens te staan voor daardie keuse.
Ek gaan vir julle ‘n getuienis vertel wat ek jare gelede gehoor het: Daar was ‘n sekere restaurant eienaar wat ‘n bestuurder vir sy besigheid gehuur het. Saam met die aanstelling moes hy ook ‘n hele klomp kelners en kelnerinne aanstel wat soort van saam met die bestuurder getrek het van besigheid tot besigheid. Die restaurant eienaar het eers gedink dat dit vreemd was, maar hy het tog die aanstellings gemaak, want hy sou kelners en kelnerinne moes aanstel om sy besigheid te laat vlot. Later het hy agtergekom dat die bestuurder ‘n natuurlike motiveerder is en dis waarom hy mense na hom toe aantrek soos ‘n magneet yster sal aantrek.
Vir etlike maande het dinge goed gegaan, maar een aand maak die bestuurder toe die fout wat mens nooit in ‘n restaurant maak nie. Hy het die agterdeur oop gelos nadat die restaurant gesluit het. Drie rowers het die plek binnegekom en hom aangehou. Die geld vir die dag was toe reeds in die kluis gebêre en hulle het hom forseer om die kluis oop te maak. Sy vingers het geglip toe hy die slot probeer oopmaak en een van die rowers het hom drie keer deur die rug geskiet uit paniekerigheid. Hulle is daarna sonder die geld daar weg en het die man op die vloer gelos vir dood. Dit het etlike ure gevat voor iemand hom kom soek het en hom op die vloer naby aan die dood gekry het. ‘n Ambulans is ontbied en hulle het met hom hospitaal toe gejaag.
Later toe hulle by hom wou weet wat gebeur het, het hy gesê dat die lewe ‘n eindelose ry keuses is. Elke oggend besluit ons hoe laat ons wil opstaan; watter kant van die bed jy wil afklim; wat jy wil aantrek; of jy wil eet of nie; of jy wil gaan werk of nie. Terwyl hy daar op die vloer gelê het, het hy besluit dat hy wil lewe. Op pad hospitaal toe en ook in die hospitaal het hy dit op die verpleeg personeel se gesigte gesien. Hulle het almal gedink hy is ‘n dooie man. Hy wou dit nie hê nie, want hy het besluit dat hy gaan lewe!
Terwyl hy in ongevalle afdeling op ‘n bed gelê het en al die mense aan hom gewerk het, het daar ‘n fris geboude verpleegster na hom toe gekom en hom begin peper met die vrae: naam, van, adres ens. Toe sy by die vraag kom of hy allergies is vir enige iets het hy ja geantwoord. Skielik het almal opgehou om aan hom te werk en hom aangekyk, wagtende dat hy moet sê waarvoor hy allergies is. Koeëls het hy geantwoord! Terwyl almal skater van die lag, het hy hulle gevra om aan hom te werk asof hy gaan lewe en op te hou maak of hy klaar dood is!
Dit liewe leser is wat die vryheid van keuse behels. Die Here staan reg om jou te help met al jou probleme, maar u moet die KEUSE maak om Hom te vra. Daarna moet u die KEUSE maak om die saak in die Hande van die Here te laat sodat God aan die probleem kan werk! Onthou dat net een persoon op ‘n slag aan ‘n probleem kan werk. As jy aan ‘n probleem werk, dan kan God nie daaraan werk nie. Los jou probleem dus by Hom sodat Hy kan werk daaraan en moenie die probleem elke slag gaan terugvra nie!
Mag die Here u seën!