Ek hou daarvan om te dink dat Jesus mense ons pad langs stuur om by te leer of vir ons om van hulle te leer.
Baie jare gelede, dit was hier in die laat 90’s het ek saam met iemand begin werk by wie ek ‘n ontsaglike klomp goed geleer het. Ek het geleer wat Paulus bedoel het met 1 Korintiërs 6:12 “Alles is my geoorloof, maar nie alles is nuttig nie; alles is my geoorloof, maar ek sal my nie deur iets laat oorheers nie.”
Die een ding wat ek baie vroeg by hierdie persoon geleer het is dat jy versigtig moet wees waaraan jy jouself blootstel, want as jy eers die deur oopgemaak het, dan is dit bitter moeilik om daardie deur weer te sluit! Ek het ook by hierdie persoon geleer dat nie almal wat jy in jou lewe toelaat altyd jou beste belange op hulle harte het nie. Sommige mense is soos vuilis lorries! Hulle ry in mense se lewens rond en soek gedurig na skoon grond waar hulle hulle toksiese afval kan stort en so word jy net so negatief en paranoïes soos hulle!
Dit het my baie jare gevat om die betekenis van daardie woorde te verstaan. Dit was eers later toe Facebook begin het om lyf te kry dat die betekenis van hierdie woorde begin insink het. Ek het op ‘n stadium ‘n paar honderd vriende op Facebook gehad. Suiderkruis en die boeke wat ek geskryf het, het my bekend gemaak en skielik wou almal met my vriende op Facebook wees. Ek het aanvanklik alle vriendskap versoeke aanvaar, maar ek het baie gou agtergekom wat se fout ek gemaak het.
Skielik het ek boodskappe op Facebook begin kry van rasse haat, pornografie en sommer baie ander goed wat ek nie eers wil noem nie. Ek het hierdie persoon saam met wie ek gewerk het se woorde begin onthou en besef dat nie almal wat jy in jou lewe toelaat altyd jou beste belange op die hart dra nie!
Ek het my Facebook vriende lys drasties verkort: van honderde na net vyftig! Die maatstaf wat ek gebruik het was maklik: as jy ‘n positiewe bydrae tot my lewe maak, dan kan jy bly, maar anders moet jy gaan en ek doen dit tot vandag toe nog!
Leer vandag by my: ons lewens op aarde is baie kort. Om jou kosbare tyd te spandeer aan enige iets wat nie tot jou eie stigting lei nie, is ‘n mors van kosbare tyd. Satan gebruik die mense in jou lewe om jou van koers af te trek met onbenullige stories en so jou lewe vol toksiese afval te pomp en hy is baie slinks daarmee! “Kyk hier!” en dan wys hy vir jou daardie soetsappige stories wat in helder blink papier toegedraai is met die flitsende liggies om. Jy is so nuuskierig dat jy dit oopmaak… en so maak jy onwetend ‘n deur oop wat baie moeilik is om weer toe te kry!
Jesus sê in Mattheus 7:21 dat nie elkeen wat vir Hom se Here, Here, eendag sal ingaan in die koningryk van die Hemele nie. Net so is nie almal wat sê hulle is Kinders van die HERE werklik Kinders van die HERE nie.
Jesus se vir ons in Mattheus 7:16 dat ons hulle aan hulle vrugte sal herken. Dit sê ontsaglik baie, liewe lesers! Gaan kyk ‘n bietjie na jou vriendekring en vra jouself af hoeveel van hierdie mense ‘n positiewe bydrae tot jou lewe maak en dan kyk jy na die vrugte wat hulle dra. Daarna moet jy self besluit wat jy daaraan gaan doen.
Ons is in die laaste oomblikke voor die wegraping en satan is besig om sy aanvalle teen die Kinders van die HERE te verskerp. Hy weet dat as ons eers weggevat word, hy nooit weer die geleentheid sal kry om ons te versoek nie en daarom haal hy nou alles uit wat hy kan.
Ek sien elke dag hoe mense hulle verknog aan stories van sameswering (conspiracy) en stories van die sogenaamde “deep state”. Dis nou mense wat uit die donker sit en toutjies trek om dinge te laat gebeur. Ek weet hierdie goed gebeur en ek is nie soos ‘n volstruis wat dink dat as ek my kop in die grond druk niemand my lyf kan sien nie! Ek het maar net besluit dat stories soos die my tyd saam met Jesus negatief beïnvloed en daarom luister ek nie meer daarna of stuur dit ook nie aan nie. Hier kom Paulus se woorde nou weer van toepassing “Alles is my geoorloof, maar nie alles is nuttig nie” (1 Korintiërs 6:12)
Ek kan net hoop dat hierdie boodskap vir iemand tot nut gaan wees. Ek sê nie dat julle nie vriende mag hê nie. Om die waarheid te sê, wil Jesus juis hê dat ons vriende moet hê, maar kies jou vriende, want nie almal dien tot jou stigting nie.
Mag die HERE hierdie boodskap seën!
Dankies vir die boodskap.
Die ou bekende spreekwoord “voël van dieselfde vere vlieg saam, gaan hand aan hand.
Van ons kant af moet ons besef dat ons ook ‘n beeld, geur en vrug saamdra – orals waar ons gaan… Hetsy goed of sleg. Wetend of onwetend.
My pa het my iets geleer wat my áltyd bybly!: Hy het gesê – onthou altyd dít – jou naam wag ook vir jou in die volgende dorp waarheen jy oppad is… Ondervinding het my geleer dat dit ‘n verstommende waarheid is!
Die waarde van Swyg is nog-iets wat so dikwels onderskat word… Want, Swyg kan jou of vryspreek of aankla – afhangend van die omstandighede.
En moet nie dat Opgeruimd jou mislei nie… Ek het Opgeruimd gevind in die huis van ‘n Swendelaar, ‘n Dwaas, ‘n Moordenaar en iemand wat totaal verlore is in sy ongeloof…
Wysheid leer ons met haar dikwels fluisterende stem aan hoeveel wysheid in ons nogsteeds ontbreek. Wee my die dag as ek nie meer na haar dors nie.