As die wegraping plaasgevind het en jy lees hierdie, gaan jy tien teen een baie verward wees. Jy geen heel moontlik nie verstaan wat gebeur het nie.
As jy ‘n Kind van die Here is en jy het tot bekering gekom, gaan jy sekerlik nie verstaan waarom jy nog hier is nie. Jy gaan iemand probeer blameer: die kerk, die Bybel, Jesus; iemand moet tog die skuld dra! Die waarheid is dat niemand te blameer is, behalwe jy self nie. Jesus het met jou gepraat en jy weet dit, maar jy wou nie gehoor gee nie. Miskien het jy gedink dat jy nog baie tyd het of miskien het jy gedink dat jy gereed is. Sien hierdie tydperk as ‘n tweede kans vir jou; ‘n kans om jouself te bewys!
Om te oorleef gedurende hierdie tydperk gaan uiters moeilik wees. Dit moet dus nie jou doel wees om te oorleef nie, maar om jou siel gereed te kry. As jou siel gered is, gaan jy vir ewig lewe in die hiernamaals, ongeag wat met jou fisiese liggaam gebeur.
Ek gaan met jou geen doekies omdraai nie. Gedurende die Verdrukking gaan God die wêreld gee wat dit nog altyd wou gehad het en dit is ‘n wêreld sonder God. Dit gaan die mees verskriklikste tyd van die mens se geskiedenis op aarde wees. Daar gaan geen naaste liefde wees nie en geen genade nie. Doen soos daar vir jou gesê word, of word doodgemaak. Dit gaan so eenvoudig wees soos dit.
Dit sal eers baie subtiel gedoen word en jy sal sien hoe mense weggeneem word vir “rehabilitasie”. Onthou dat alles wat gaan gebeur en alles wat jy gaan sien, gaan gebaseer wees op ‘n leuen. Satan het net een oogmerk en dit is om jou sover te kry om jou rug op God te draai en jou siel aan satan te verkoop! Satan stel nie belang in jou as mens nie; hy stel belang in jou onsterflike siel en hy sal selfs jou vrees vir die dood teen jou gebruik om jou sover te kry om afstand daarvan te doen!
Openbaring 13:15 sê vir ons wat satan se oogmerk gedurende die verdrukking gaan wees: “[15] En dit is hom gegee om ‘n gees aan die dier se beeld te gee, sodat die dier se beeld ook sal praat en maak dat almal gedood word wat die dier se beeld nie aanbid nie.” En in Openbaring 14:9 en 10 lees ons wat gaan gebeur met die mense wat gaan weier: “En ‘n derde engel het hulle gevolg en met ‘n groot stem gesê: As iemand die dier en sy beeld aanbid en ‘n merk op sy voorhoof of op sy hand ontvang, sal hy self ook drink van die wyn van die grimmigheid van God wat ongemeng ingeskink is in die beker van sy toorn, en hy sal gepynig word met vuur en swawel voor die heilige engele en voor die Lam.”
Liewe leser, as jy die merk van satan ontvang of sy beeld aanbid, is jy skuldig aan die oordeel wat oor satan gevel is en sal jy deel in sy straf. Vir die wat die merk aanvaar is daar geen redding meer beskikbaar nie; geen omdraai kans meer nie. Jou siel gaan vir ewig verlore wees… Dis wat jou nie vertel gaan word nie, want satan wil hê dat jy blindelings hierin moet gaan!
As jy weier om die merk te aanvaar of die beeld van satan te aanbid, sal jy doodgemaak word. Dit staan in Openbaring 20:4 “En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank.”
Satan gaan mag hê oor jou fisiese liggaam, maar jou siel het hy geen mag nie. Jy moet uit jou eie vrye wil afstand van jou siel doen voor satan mag daaroor gaan hê. As jy nie afstand doen van jou siel nie, dan verloor satan. Om jou bang te maak, gaan hy jou laat doodmaak, maar jy moet onthou dat jou siel veilig gaan wees by God en dat jy vir ewig saam met die HERE gaan lewe!
So wat staan jou nou te doen?
Moenie die wegraping probeer weg verduidelik nie. Die wêreld gaan dit probeer weg verduidelik… Allerhande verduidelikings waar almal heen is gaan die lig sien. Al hierdie verduidelikings gaan egter belaglik wees en moeilik om te glo en daad werklike bewyse vir hierdie verduidelikings gaan nie gevind kan word nie.
Moenie die kerk blameer nie. Die kerk is daar om mense te wys waar die regte pad is. Alles wat ek tot nou toe genoem het hierbo, staan in die Bybel en ek het teksverse bygesit waar dit opgeteken staan. Almal van ons het die vryheid van keuse om self te kan besluit, maar dit beteken nie dat ons vry is van die gevolge van daardie keuses nie. As jy nie geluister nie, sal jy die gevolge van jou keuses dra.
Moenie hulp gaan soek nie. Onmiddellik na die wegraping gaan die wêreld in chaos wees. Baie mense sal seergekry het as gevolg van motor bestuurders wat uit hulle motors verdwyn het. Versamel punte sal opgestel word waar jy mediese hulp, voedsel en water sal kan ontvang. As jy daar gaan aanmeld, sal hulle jou persoonlike besonderhede vat en daar sal rekord wees dat jy oorleef het. Jy sal daarna weer opgespoor kan word, selfs al kruip jy weg. As jy nie aanmeld nie, sal daar aangeneem word dat jy dood is of verdwyn het. Niemand sal na jou kom soek nie…
Moenie enige Christene gaan soek nie. Daar gaan kerke wees net soos nou en hulle gaan aanhou werk ook, net soos nou, maar die wat waarlik glo gaan nie meer daar wees nie. Die wie gaan agterbly gaan mense wees wat nie glo nie, vir wie Jesus net ‘n profeet was en vir wie Jesus nie gesterf het vir hulle sonde nie. Jy gaan geen Christelike redding in enige van daardie kerke vind nie!
Vermy die groot stede. Die eerste veranderinge gaan in die groot stede begin en so ook die implementering van die merk. Hoe verder weg jy van enige vorm van beskawing kan kom, hoe beter. As jy nie aangemeld het na die wegraping nie en jy kan wegkom uit die groot stede uit, dan gaan jy grootliks onsigbaar wees vir die nuwe wêreld orde.
Moenie die merk van die dier aanvaar nie! Die Bybel is baie duidelik hieroor. Jy gaan vir ewig verlore wees as jy die merk aanvaar. Die merk hoef nie ‘n fisiese merk wees nie, maar kan iets soos ‘n mikroskyfie wees wat onder die vel ingeplant gaan word deur middel van ‘n inenting. Die tegnologie om dit te doen is reeds beskikbaar!
Moenie verwag om die dood vry te spring nie. Die rampe wat die aarde gaan tref in hierdie tyd gaan erg wees. Die kans op oorlewing gaan baie skraal wees. Die Bybel leer vir ons dat net ‘n kwart van die aarde se bevolking dit deur die verdrukking sal maak. Die Bybel leer ons ook dat baie onthoof gaan word vir hulle geloof. Satan gaan mag hê om oorlog teen die Kinders van God te maak en hulle te oorwin. Die doel moet in elke geval nie wees om te oorleef nie, maar om te sorg dat jou siel veilig is.
As jy hierdie lees en die wegraping het nog nie plaasgevind nie, maak dan nou jou saak met die HERE reg. Moenie meer uitstel nie. Niemand weet hoe baie tyd ons nog oor het nie. Om nog langer uit te stel gaan geen doel dien nie.
As jy dan tot bekering gekom het, raak ontslae van sonde in jou lewe. Dis nie ‘n maklike proses nie, maar soos jy groei, sal jy vind dat jou verhouding met die HERE al hoe dieper en meer persoonlik word. Gee die Heilige Gees ‘n kans in jou lewe. Laat die vuur van die Gees groei sodat jy genoeg olie van die Gees het om die wegraping te kan meemaak! Sodoende sal jy waardig gevind word om alles wat kom te kan mis soos die HERE vir ons in Lukas 21:36 sê.
Liewe leser, net jy kan hierdie verandering maak. In Openbaring 3:20 sê die Here: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My.” Net jy kan die deur van jou hart vir Jesus oopmaak. Niemand anders kan nie. Ek smeek by u, moenie wag tot dit te laat is nie…
Mag die Here hierdie boodskap seën!