Om met My saam te stem is om te oorwin!

Jesus, kan u ons asseblief waarsku as ons begin is om na satan te luister in plaas van na U? Amen!

Hoe maklik gebeur dit nie dat ons na die vyand begin luister in plaas van die HERE nie. Dan begin ons twyfel oor die dinge wat die HERE vir ons gesê het gaan gebeur, want die argument wat satan maak klink vir ons meer na die werklike ding! Ek wens ek kan vir julle sê hoeveel keer dit al met my in my lewe gebeur het!

Ons vergeet partykeer van die dinge wat die HERE vir ons sê; veral as dit kom by profesieë. Ons maak dit af as niksseggend, maar ons vergeet dat die HERE se Woord nooit leeg na Hom sal terugkeer nie en ons vergeet ook die die HERE ‘n waarmaker van Sy Woord is! Niks sal ooit keer dat die HERE Sy Woord waar sal maak nie! Moet dus nie jou steur aan wat mense sê nie.

Ek sien dit in my daaglikse werk ook. Die HERE het elkeen van ons geseën om ‘n spesifieke taak vir Hom te verrig. Weet julle hoe baie keer het mense na my toe gekom en vir my gesê dat ek nie goed genoeg is nie; dat ek nooit sal slaag nie en dat ek moet opgee terwyl ek voor is? Ek het al opgehou tel! ‘n Paar keer het hulle amper geslaag, maar dan stuur die HERE mense my pad langs om my op te tel en te verseker dat Hy sal volbring wat Hy belowe het Hy sal doen! Dan skep ek weer moed en dan baklei ek verder!

Julle weet, mense soos die het net mag oor jou as jy dit vir hulle gee! Om met hulle saam te stem is ‘n kragtige invloed, maar om met die HERE saam te stem is oorwinning! Prys die Naam van Jesus! Dis waar die mag is; met wie jy in ooreenkoms is! As dit met Jesus is, SAL jy oorwin!

Dis daarom belangrik dat ons in ooreenkoms met die HERE is en ten alle tye sal bly. Moenie toelaat dat die vyand enige iets doen om daardie ooreenkoms in die wiele te ry nie, want hy sal deur jou te laat twyfel, ongelowig te maak of jou te laat oordeel. As die vyand eers ‘n krakie in jou mondering gemaak het op hierdie manier, dan moet alles gestop word om die skade eers te herstel.

Kom ek gee julle ‘n voorbeeld: Iemand het gister vir my gesê dat ek na ‘n demoon van satan luister as ek die Woord van die HERE aan julle bring! Ja, dis ‘n harde klap in enige mens se gesig… Ek was totaal oorbluf gewees en ek het nie geweet wat om te antwoord nie. In sulke gevalle gaan ek na die HERE en vra vir wysheid, want self weet ek nie. Vanoggend gee die HERE vir my Markus 3:22-30. Dis die gedeelte waar die Skrifgeleerdes vir Jesus daarvan beskuldig het dat hy van die duiwel besete was. Jesus het hulle gewaarsku dat hulle besig is om teen die Heilige Gees te laster. Die van julle wat nie weet nie, dis die een sonde wat jou nooit vergewe word nie… Vir elke moontlike sonde op hierdie aarde is daar vergifnis voor, maar nie as jy gesondig het teen die Gees van die HERE nie.

Sien julle nou hoe gevaarlik dit is om te weet na wie dit is wat jy luister en met wie jy in ooreenkoms is? Dis ook die rede waarom die HERE ons die afgelope tyd geleer het om onsself te ken. Ken jou swakpunte en jou geneigdheid tot sonde. As jy dit weet, dan kan jy slimmer as die vyand wees en so kan jy voorkom dat die verhouding wat jy met die HERE het in die wiele gery word. Moenie dat die vyand jou inspireer om te sondig en jy dalk in ooreenkoms met hom aangaan sonder dat jy dit weet nie.

Let op na die vyand se taktiek. Die HERE is besig om ‘n vestig in elkeen van ons te bou, dis waarom daar so baie klem gelê word op naasteliefde, selfopoffering en  nederigheid. Hierdie dinge vorm die basis van die vestig en dit moet sterk wees as dit die seëninge wat die HERE in ons lewens wil uitstort, moet kan hou.

Tel nou jou kruis op en volg die HERE. Solank as wat ons in die voetspore van die HERE loop, sal ons oorwin! Jou droom sal nooit ontspoor word solank jy aan die HERE se kleed vashou nie!

Prys die Naam van Jesus!

(Visited 33 times, 1 visits today)