Lewens probleme kom en gaan, maar wat belangrik is, is dat ons elkeen se pad met Jesus uniek is; niemand se pad is ooit dieselfde nie.
Die pad wat ons saam met Jesus loop gaan gepaard met ons groei as mens om eendag ‘n produktiewe lid van hemel te kan word. Dis waarom daar regstellings in ons lewens moet wees. Die HERE vind geen plesier daarin om tugstappe te neem nie, maar net soos in die geval van ‘n kind is dit soms die enigste manier om te verseker dat daar verandering plaas vind.
As jou seun voëls met klippe gooi, want doen jy? Jy gee vir hom die grassnyer en laat hom die gras sny en die kante van die tuin kap. As jy daar klaar is gaan hy te moeg wees om die voëls verder te wil treiter!
Julle sien; alles in die lewe het ‘n doel waarom dit gebeur. Mense sê so graag dat dit toeval is, maar ek kan julle verseker dat daar glad nie iets soos toeval is nie. Dis die HERE wat verandering in ons lewes bewerkstellig. In baie gevalle is hierdie veranderinge liefdevol en sag en jy sien dit later as jy terugkyk op jou lewenspad, maar soms is ons halsstarrig soos jong perde en dan moet Jesus omstandighede in ons lewens gebruik om verandering te verseker en dit is nie altyd so aangenaam nie.
Die verskil is wat ons met hierdie omstandighede wat ons onsself in bevind doen. Kom ek vertel vir julle ‘n storie.
Daar was ‘n sekere pasgetroude dogter wat na haar ma toe gegaan het en gesê het dat die huiswerk te veel is vir haar en dat dit haar onder kry. Sy het lus om op te gee en te skei van haar man.
Haar ma het sonder om ‘n woord te sê drie potte met water op die stoof gesit. Toe die water kook, het sy wortels in die eerste pot gegooi, eiers in die tweede en koffieboontjies in die derde pot. Na 20 minute het sy die wortels, eiers en die koffieboontjies uitgeskep en vir haar dogter gesê sy moet kom kyk. Die dogter het aan die wortels gevoel en gevind dat hulle sag gekook was. Die eiers was hard gekook, maar die koffie boontjies het die heerlikste koffie gemaak in die pot met die water.
Haar ma verduidelik toe aan haar dat dit ons gesindheid in die lewe is wat ons maak of breek. Sy het drie verskillende goed in die warm water gesit en al drie het verskillend gereageer op hulle omstandighede. Die wortels het hard en styf in die warm water ingegaan, maar sag anderkant uitgekom. Die eiers het sag en breekbaar in die warm water ingegaan. Hulle enigste beskerming was die harde dop om hulle, maar die water het hulle hard gemaak in so ‘n mater dat hulle nou nie meer kan breek nie. Die koffie boontjies het in die warm water ingegaan en in plaas van self verander, het hulle die water om hulle verander. Net so is elkeen van ons se omstandighede in die lewe uniek, maar dis wat jy daaromtrent doen wat die uitkoms bepaal.
Die vraag nou is; wat gaan jy doen met die omstandighede in jou lewe? Gaan jy die HERE toelaat om jou te verander soos die wortels of die eiers of gaan jy self nie verander nie, maar jou omstandighede eerder verander?
Prys die Naam van die HERE!