Ons aardse tent woning

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Kom ons gesels vandag so iets waaroor min mense praat en dis ouderdom, want oud te word is ‘n onderwerp wat mense nie graag aanraak nie!

Toe ek 35 jaar oud was, was ek onaantasbaar! Koeël bestand, man! Daar was net mooi niks wat my kon onder kry nie! Oud word en dood gaan was iets wat mos met “ou mense” gebeur en omdat ek nog so baie jare oor gehad het, het ek daardie idee ver wag in die donkerste hoekie van my brein gaan bere; een van daai donker hoekies waar die stof ‘n handbreedte diep lê en waar niemand in die laaste 15 jaar nog ooit gekrap het nie!

Maar die horlosie wag vir niemand nie en uiteindelik word almal van ons ouer. Die eerste ding wat jy oplet is dat dieselfde hoeveelheid kos jou nou skielik vetter maak, want jou liggaam het nie meer so baie nodig soos in jou jong dae nie. Baie van ons begin daarom gewig optel of soos iemand eenslag gesê het, hy het so baie kennis in sy jong dae opgedoen dat daar nie meer plek in sy brein daarvoor is nie en nou word al daardie kennis om sy middellyf gestoor!

Dan kom jy agter dat die dinge wat so maklik gedoen het as ‘n jongman, nou skielik baie moeiliker of selfs onmoontlik is om te doen. Daardie trappe wat jy so twee-twee afgehardloop het, kan jy nie meer doen nie… Jou oë word swakker, want skielik het jy ‘n leesbril nodig om dokumente of Bybel te kan lees.

Dan kom jy agter dat goed wat altyd so twee tot drie dae gevat het om te genees, nou twee tot drie weke of selfs maande vat om te genees! Jou vermoë om te kan onthou is nie meer wat dit was nie, want jy sukkel om mense se name te onthou, selfs vir die wat al vir jare jou beste vriende is! Dan slaan die realiteit jou as jy sien hoe jou ouers agteruit gaan en dan besef jy dat jy ook so gaan wees oor ‘n paar jaar van nou af…

Alles hierdie is genoeg om enige iemand sommer lekker bang te maak as jy nie klaar is nie, maar daar is iets oor oud word wat belangrik is om te weet. Soos jy sien hoe mense ouer word, begin jy besef dat oud word God se manier is om jou te maak ontslae raak van die dinge wat jy nie meer nodig het nie en om ons so gereed te maak om na ons ewige huis te verhuis.

Ons begin om vriende te verloor, ons geld raak minder, ons gesondheid raak minder, ons vermoë om te kan onthou raak minder, alles wat ons vanselfsprekend aanvaar het, begin God om stelselmatig weg te vat sodat al wat ons op die einde van die dag oor het, net Hy is omdat ons gereed maak om saam met Hom te wees.

Paulus skryf in 2 Korintiërs 5:1-10 dat ons liggame soos ‘n tent is en hierdie tent is gedurig besig om agteruit te gaan. So word ons gereed gemaak vir ons hemelse liggame gemaak deur die krag van Jesus se opstanding uit die dood, waar ons vir altyd gaan bly saam met Jesus.

Hier is iets vir julle om huis toe te vat en dit is, dat as jy nou weer begin wonder oor oud word, weet dan dat dit Jesus se manier is om jou gereed te maak sodat jy hierdie aarde kan verlaat net soos jy gekom het om vir altyd by Jesus te kan wees.

Mag Jesus hierdie boodskap aan julle harte seën!

(Visited 69 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , .