Ons lewenspad met die Here

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Die pad wat die HERE met elkeen van ons loop is uniek en vol seëninge, maar ons sien dit nie altyd raak nie.

Die HERE gebruik omstandighede in ons lewens om ons op die regte pad terug te skok. Hy sal baie keer toelaat dat satan ons versoek om hierdie doel te bereik, maar Hy sal nooit gedurende hierdie versoekinge ver wees as ons om hulp wil vra nie. Die van julle wat nou in ‘n krisis sit, weet dat die pad na hulp net 50cm ver is. Van jou knieë na die grond.

Die HERE staan langs die pad en Hy roep en Hy wuif. Hy wil vir ons ‘n ongekende lewe van rus en vrede vir ons siele gee; ‘n lewe sonder enige bekommernisse. Al wat ons moet doen is om ons lewens aan Hom oor te gee. Maak daardie eie ek dood en breek daardie veiligheids nette waaraan ons so vasklou af. Daardie “ek” wat altyd dinge op sy manier wil doen staan in die pad tussen jou en God! Daardie bank rekening met geld wat jy jou “backup plan” noem, sê vir die HERE dat jy hom nie ten volle vertrou nie!

Jy is tog baie meer werd as die voëls van die hemel en die blomme van die veld. Wanneer laas het jy ‘n honger voël gesien? Of selfs ‘n blom wat nie blom nie? Nou as die HERE vir hulle so sorg, waarom dan nie vir jou nie, kleingelowige! Waarom vertrou jy nie die HERE nie?

Die HERE wil ons lewens bestuur, maar Hy kan dit net doen as ons die stuur vir Hom gee en self op die agtersitplek gaan klim. Met ons in beheer van ons lewens, kan die HERE ons net bystaan. Hy kan niks meer doen nie, maar as jy beheer oorgee, dan sal die HERE vir jou dinge wys wat jy nog nooit gesien het nie! Dis dan wanneer mens tyd het om die HERE op ‘n intieme vlak te laat ken. Dan begin jou pad met die HERE werklik eers!

Vandag is ek VRY! Ek het nie ‘n enkele bekommernis in hierdie wêreld nie! Prys die HERE! Die mense dink ek is mal, maar dis so lekker! Jy doen wat jy met jou beperkte mag kan doen en los die res in die hande van die HERE! Hy het gesê dat Hy kan en Hy SAL! Ek kan nie vir julle sê hoeveel jare van Christen wees dit my gevat het om hierdie agter te kom nie! Vandag wens ek, ek het dit vroeër geweet! Dink net hoeveel anders my lewe sou gewees het!

Dink so daaraan: as jy nou moet doodgaan, wat gaan enige iets wat jy op hierdie aarde vermag het jou help, behalwe jou verhouding met die HERE? Leer Hom dus ken op ‘n intieme valk terwyl jy nog kan! As jy eers jou oë op hierdie aarde gesluit het, dan gaan net een ding jou help en dit is hoe goed jy die HERE geken het!

Dink aan daardie liedjie van Danie Botha, My Pa is die Koning! Ons glimlag so breed as ons die mense groet, dit lyk of ons so selfversekerd is. Die wêreld is aan ons voete; ons voel soos reuse, want die lewe bly ‘n fees. As teëspoed ons tref, dan skeel dit ons min! Die wêreld kan dit nie verstaan nie, want hulle weet nie dat ons Pa die Koning van die Heelal is nie. Kom wat wil ons sal dit nooit vergeet nie, want die wind kan waai en die berge kan val. Hy’t gesê Hy voorsien en Hy sal! Die lewe in Christus is ‘n fees en selfs die dood is ‘n wins! Vir niks is ons bang nie, want ons Pa is die Koning onthou!

Alles wat die liedjieskrywer hierbo geskryf het, is wat die HERE ons die graagte wil leer! Gee al jou bekommernisse vir Hom; ook beheer oor jy finansies en jou lewe. Moet niks terughou nie! Nie eers een klein dingetjie nie; en kyk of die HERE jou paaie vir jou gelyk gaan maak! Dit werk vir my en dis die lekkerste lewe ooit! PRYS DIE NAAM VAN DIE HERE!

(Visited 335 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , , .