Om te kan triomfeer oor die aanvalle van satan is iets waarmee ons almal sukkel. Partykeer is ons suksesvol, maar in die meeste gevalle faal ons miserabel!
Waarom is satan so suksesvol? Dis omdat hy jou ken soos wat die HERE jou ken. Hy weet presies watter knoppies om te druk om watter resultaat te kry, maar die hoof rede waarom hy so suksesvol is, is omdat ons onsself nie ken nie. Ons ken nie ons eie beperkinge nie en dit is waarom ons so hard val. Ons probeer meer vermag as wat ons in staat is. Die van julle wat my vorige boodskap gelees het, gaan nou sien hoe die twee boodskappe bymekaar aansluit!
Om jou eie tekortkominge te besef, gaan dit vir jou makliker maak om teen satan te baklei. As jy weet dat jy ‘n swakheid het teen pornografiese materiaal, dan gaan jy weet om dit te vermy. As jy iemand is wat maklik jou humeur verloor, dan gaan jy leer om dit wat jou afsit te vermy.
Dis soos die HERE in die vorige boodskap gesê het; hierdie dinge leer jy in Sy teenwoordigheid as jy saam met Hom is. Dis waarom bid en vas so belangrik is. Satan is nie dom nie. Hy weet hoe kragtig bid en vas is en wat se gevaar dit vir hom inhou, daarom sal hy kom met allerhande slinkse leuens om jou te weerhou daarvan. Leuens soos dat jy nie sonder kos kan bly nie; of leuens dat vas nie werklik so belangrik meer is soos in die ou testament nie… Moenie na hom luister nie!
Vas is nie altyd net die ontneem van etes nie. Enige iets wat jy van jou ontneem vir ‘n tyd om tyd saam met die HERE te spandeer, is ‘n vorm van vas. Etens is maar net die mees aanvaarbaarste vorm daarvan omdat ons almal moet eet.
Moet ook nie dat die mense om jou weet dat jy vas nie, want dan het jy klaar jou beloning weg. As jy vas, moet dit ‘n saak tussen jou en God wees. Mense het niks daarmee te doen nie.
Nou kom die baie ou vraag op: hoe maak ‘n mense as jy uitgenooi word na ‘n ete? Eet baie diskreet van wat aangebied word sodat jy nie aanstoot gee nie. Die monnike van ouds het met dieselfde probleem gesit. Hulle het kos in hulle klere se sakke waggesteek en dit later onder die armes gaan uitgedeel!
Waaksaamheid is van die uiterste belangrikheid in hierdie tyd. Satan gaan geen moeite spaar om jou te laat vaal nie. Moet dus niks oorhaastig doen nie en waak daarteen om nie jou humeur te verloor as jy iemand is wat baie vinnig en maklik kwaad word. Wag eerder tot jy afgekoel het en probeer dan as wat jy in woede sondig.
Ken jou swakpunte. Maak voorbereiding vir ‘n aanval van die vyand op jou swakpunte. Onthou dat die vyand altyd speel op jou begeertes om iets te wil hê, want dis nie maklikste manier om jou aandag af te trek. Dit kan die begeerte wees om ‘n skoner huis te wil hê, iets om te eet, iets om te lees… Dis waarom hulle sal konsentreer.
As jy voel jy gaan dalk val; dink hieraan: as jy voor die Vader in die Hemel staan, gaan jy skaam wees omdat jy ingegee het? As die antwoord “ja” is, moet dit dan nie doen nie. Stel jou voor jy staan voor die HERE en jy moet rekenskap gee waarom jy ingegee het om te sondig of vir die toegewing wat jy gemaak het. Dit sal jou help om dit nie te doen nie!
Prys die Naam van die HERE!