Ek wil hierdie week so bietjie met julle gesels oor outoriteit. Wat beteken outoriteit? Letterlik beteken dit met gesag en wettige mag.
Hoeveel van ons word dag in en dag uit deur satan se volgelinge versoek? Hoeveel keer oorwin satan in jou lewe deur jou met vrees te intimideer? Waarom laat ons dit toe? Omdat satan vir ons lieg oor die outoriteit wat ons regtig het, want hy weet dat sy werk aansienlik moeiliker gaan wees as ons eendag moet besef hoeveel outoriteit ons regtig het!
Wie van julle sal vir Prins Harry ‘n klap gaan gee dat hy sterretjies sien? Ek hoor al die verskonings: “Is jy kranksinnig?” “Wil jy hê ek moet in die tronk gaan sit?” Nou vra ek my vraag weer: Waarom laat ons dan toe dat satan met ons doen wat hy wil en daarmee wegkom? Is ons dat nie kinders van die Koning nie?
Kom ons kyk wat sê die Bybel:
Johannes 1:12 “Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;” As u vir Jesus aangeneem het as u persoonlike salig maker, dan is u ‘n kind van God. God is die Koning van alles, dus is u ‘n kind van ‘n Koning! Het u geweet dat u deur daardie mag ‘n prins/prinses is?
Mattheus 28:18 “En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.”
Johannes 14:14 “As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.” Jesus het al die mag op Hemel en Aarde. As kind van God het u toegang tot hierdie mag.
Ek het baie jare gelede ‘n fliek gaan kyk waar iemand ‘n demoon wou gaan uit dryf. Die film was nou nie juis iets om oor huis toe te skryf nie, maar dit het ‘n baie belangrike les gehad wat ek aan julle wil oordra. Een van die karakters in die film het dapper vorentoe gestap met ‘n metaal kruis in sy hande en die demoon beveel om te wyk. Die besete man het agter uit sy keel gelag, vorentoe getree, die metaal kruis tussen sy vingers gegryp en dit opgefrommel. Daarna het hy vir die man gesê: “Jy moet geloof hê vir dit om op my te werk!”
Toe ek dit hoor het ek skielik besef wat ons as Christene se grootste probleem is. Ons het nie die geloof nie! Ons wil vir satan allerhande bevele gee, maar sonder die geloof is dit hol en leë woorde! Satan lag vir ons en ons is te dom om dit agter te kom! As jy ‘n bevel in die naam van Jesus uitreik en dit met hart, siel en verstand glo, gaan satan sidder tot in sy toonnaels in! Dit belowe ek vir julle! Jy sal duiwels kan uit dryf en hulle terug stuur waar hulle vandaan gekom het! Die Bybel leer vir ons dat die demone Jesus gesmeek het om hulle nie terug te stuur hel toe nie! Dis hoeveel mag tot ons beskikking is!
Dit laat my dink aan ‘n getuienis wat ek baie lank gelede gehoor het van ‘n leraar wat vir mense gebid het om gesond te word. Hulle bring toe vir hom ‘n vrou in ‘n rolstoel. Hy het nog nooit vir iemand in ‘n rolstoel gebid nie, maar sy geloof het nie gewankel nie, al was die werk hoe groot! Hy het by die vrou in die rolstoel gaan kniel, maar voor hy kon begin, vra satan vir hom: “Wat gaan jy maak as die vrou nie uit die rolstoel opstaan nie?” Sonder om te twyfel, vra die leraar toe: “Wat gaan jy maak as sy wel opstaan en loop?” Satan het hom verlaat en daardie aand nooit weer versoek nie!
Hierdie is die tipe outoriteit wat ons as Kinders van God het! Dis tyd dat ons daardie outoriteit weer terugvat en dit gebruik! Jy hoef nie vir satan bang te wees nie, want Jesus is groter en baie sterker! Onthou! Jy MOET glo om dit te laat werk. Dis die sleutel!
Prys die Naam van die HERE!