Skatte in die Hemel

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

HERE, ek wil bid dat U ons oë oop sal oopmaak en dat ons sal besef dat hierdie aarde en sy rykdomme vir ons niks goed inhou nie en dat U en net U alleen die antwoord tot al ons vra is! Amen!

Kom ons kyk wat sê Jesus in Mattheus 6: [19] MOENIE vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; [20] maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie; [21] want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.”

Wie van ons het nie al gewens vir ‘n mooi huis, duur motor of selfs geld om ons wildste drome te bevredig nie? Ek het al en ek is seker dat baie van julle ook so sal antwoord! Die beste is dat daar niks mee verkeerd is nie! Die Bybel is glad nie daarteen as u ryk of suksesvol is nie. In teendeel, die HERE is versot daarop om duur geskenke aan sy getroue Kinders te gee. Baie keer is dit geestelike geskenke, maar soms is dit materialistiese geskenke. Die HERE gee eerder die geestelike geskenke, omdat hy weet dat die geestelike geskenke nie tussen jou en Hom sal kom nie, maar as Hy sien dat jy dit kan hanteer en Hom nog steeds bo enige materialistiese geskink gaan kies, dan sal hy aan jou die materialistiese ook gee.

Voor ons nou verder gaan, kom ons kyk na een van die Bybel se bekendste figure: Salomo. Volgens 2 Kronieke 9:13 was Salomo se jaarlikse inkomste 666 talente (ongeveer 22,000 kg) goud. As mens dit terugwerk in ‘n rand waarde vir vandag, dan was Salomo se jaarlikse inkomste R9.2 biljoen! Dis ‘n inkomste van R768.17 miljoen per maand!

Nodeloos om te sê was Salomo so ryk dat hy alles kon doen wat mens maar kan begeer, maar kyk net wat sê Salomo in Prediker 1: [13] En ek het my hart daarop gerig om met wysheid te ondersoek en na te speur alles wat onder die hemel gebeur. Dit is ’n moeilike taak wat God aan die mensekinders gegee het om hulle daarmee te kwel. [14] Ek het al die werke gesien wat onder die son gedoen word, en kyk, dit was alles tevergeefs en ’n gejaag na wind.”

Hoe dan nou? Hier is ‘n man wat sy wildste drome kon bevredig; wat alles gedoen het wat onder die son gedoen kan word en hy sê dis alles ‘n gejaag na wind! Hoe kan dit dan wees?

Hoeveel vermoënde mense ken julle? Ek praat nou van mense wat geld het om die meeste van hulle drome te kan verwesenlik? As u aan iemand soos dit kan dink; wanneer laas het u daardie persoon werklik gelukkig gesien? Die persoon het geld om alles te kan koop, maar maak dit hom werklik gelukkig? Ek kan vir julle met alle eerlikheid sê dat die antwoord op daardie vraag nee is. Op die oppervlak lyk daardie persoon gelukkig, maar delf ‘n bietjie dieper en u sal sien dat die duur huis, duur motor en die groot skerm TV net ‘n manier is om die hartseer weg te steek! Geld kan baie dinge koop, maar dit kan nie gelukkig maak nie, maak nie saak hoeveel daarvan jy het nie. Die dag as dit tyd is om jou aarde woning af te breek, dan kan jy niks daarvan saamvat nie. Dan gaan ander uitgee wat jou ‘n leeftyd gevat het om bymekaar te maak!

Moenie ‘n fout maak nie; ek is glad nie teen rykdom nie, maar ek wil u net een vraag vra: Hoeveel skatte het u in die Hemel? Met ander woorde, hoe sterk is u Hemelse Bank Rekening? Baie gaan nou vra: Hemelse wat? Hemelse Bank Rekening, met ander woorde hoeveel skatte het u al in die Hemel bymekaar gemaak? Die volgende vraag is nou: Hoe maak mens skatte in die Hemel bymekaar?

Ons maak skatte in die hemel bymekaar deur die manier hoe ons op aarde leef en met ander oor die weg kom. Kyk wat sê Jesus in Mattheus 10 [40] Wie julle ontvang, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het. [41] Wie ’n profeet ontvang omdat hy ’n profeet is, sal die loon van ’n profeet ontvang; en wie ’n regverdige ontvang omdat hy ’n regverdige is, sal die loon van ’n regverdige ontvang. [42] En elkeen wat een van hierdie kleintjies net ’n beker kou water laat drink, omdat hy ’n dissipel is, voorwaar Ek sê vir julle, hy sal sy loon sekerlik nie verloor nie.”

Hoeveel mense het u al gehelp sonder om iets terug te verwag? Onthou dat alles wat u op aarde doen ‘n effek op u Hemelse Bank Rekening het. Elke Christelike e-pos wat u aanstuur, elke Christelike boodskap wat u op Facebook pos. Hoeveel mense u gehelp het; nie net geldelik nie, maar ook fisies sonder om iets terug te verwag. Alles dit laat u Hemelse Bank Rekening groei! Ons sien baie keer nie die effek wat ons hande werk het nie, maar glo my, alles wat jy vir Jesus doen, gaan jy voor vergoed word voor!

Gaan u een van dié wees wat Jesus se woorde in Mattheus 25:21 gaan hoor? “Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel.”

Werk dus sonder ophou en moenie bekommerd wees oor wat die mense gaan dink nie! Dis nie hulle opinies wat tel nie, maar God s’n! Werk dus op aarde om te leef, maar spaar in u Hemelse Bank Rekening! Amen!

(Visited 936 times, 1 visits today)