Om ‘n oordeel te vel is darem so maklik… Al wat nodig is, is om ‘n opinie te lug en die skade is gedoen!
Met ons opinies kan ons ‘n ongelooflike groot klomp skade aanrig in iemand se lewe en wat bring dit ons in die sak? Niks! Vir die oomblik wat jy jou opinie lug, het jy almal se aandag en voel jy seker belangrik oor die aandag, maar die persoon wat geraak word, gaan weke, partykeer maande daarna nog steeds vir die gevolge van jou woorde moet betaal.
Jesus sê in Matteus 7:1-2 vir ons: “[1] Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie. [2] Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word; en met die maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.”
Iemand van die pers het eenslag vir Angus Buchan gevra wat sy siening oor Homoseksuele en Lesbiërs was. (Donderdag, 6 Augustus 2015 in Bloemfontein) Die doel van die vraag was duidelik; om hom in ‘n strik te vang met sy eie woorde, maar sy antwoord het my absoluut verbaas! Hy het geantwoord: “Ek is lief vir homoseksuele mense, ek is lief vir lesbiërs, maar ek kan nie hul lewenstyl aanvaar nie, want dit is in teenstelling met die Woord van God.”
Selfs ek kon dit nie beter gestel het nie! Ek gaan nie vandag met julle oor hierdie onderwerp gesels nie, maar ek gebruik hierdie antwoord as ‘n voorbeeld van hoe mens jou opinie kan lug sonder om iemand seer te maak.
‘n Baie slim persoon het eenslag gesê: “Put brain in gear before engaging mounth!” Ek weet dat baie van julle nou hieroor lag, maar beter kan mens dit seker nie stel nie! Dink dus voor jy jou mond oopmaak om iets te sê.
Mense kyk na ons as Christene en die dinge wat ons doen en daardeur besluit hulle of hulle die Christelike leefwyse wil volg of nie. As jy jou mond die hele tyd uitspoel oor allerhande dinge en opinies lug oor alles, want se beeld dra jy dan uit?
Ons is ambassadeurs vir Jesus op aarde en ons moet optree soos ambassadeurs doen. ‘n Ambassadeur hou sy mond in toom, want dit wat hy sê kan tot groot verleentheid lei nie net vir hom nie, maar ook vir die land wat hy verteenwoordig. Op soortgelyke wyse kan ons vir Jesus ‘n groot verleentheid wees oor die dinge wat ons hier op aarde uiter. Pas dus op!
Jakobus 1:19-20 stel dit seker die beste: “[19] So dan, my geliefde broeders, elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word. [20] Want die toorn van ‘n man bewerk nie die geregtigheid voor God nie.”
Prys die Naam van Jesus!