Ons kies om God te dien

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Iemand het eenslag gesê dat die lewe een eindelose lang ry keuses is en elke dag maak ons keuses wat ander mense se lewens beïnvloed.

As ons in die oggend opstaan het ons reeds die vorige aand die keuse gemaak hoe laat ons wil opstaan hierdie oggend. Jy kies of jy in ‘n goeie of ‘n slegte bui wil opstaan. Jy kies of jy jou tande wil borsel of nie. Jy kies of jy wil koffie drink of nie. Sien u wat ek bedoel by eindelose lang ryk keuses? Hierdie is maar net ‘n klein voorbeeld, maar dieselfde geld vir geloof.

Vir jare het ek gedink God stuur ongelowige mense hel toe, maar dis glad nie so nie. Ons stuur onsself hel toe en ons doen dit deur die keuses wat ons maak! Die Here wys vir ons die pad wat Hy wil hê ons moet loop, maar ons maak die keuse of ons die pad wat vir ons gewys word te loop of nie. Die dag as ons sterf, dan gaan ons siel hemel of hel toe gebaseer op ons keuses in die lewe. Ek weet daar is diegene wat sal sê dat dit nie so maklik is nie, maar dis presies soos dit is!

Ek het ‘n tyd gelede ‘n baie interessante gesegde gelees: “Die feit dat ons die vryheid van keuse het, beteken nie dat ons vry is van die gevolge van daardie keuses nie.” Hierdie is seker van die waarste woorde wat nog ooit geskryf is! Elkeen van ons het die keuse om te vinnig met ons motors te ry, maar as jy dit doen en jy kry ‘n boete vir spoed, dan is die gevolge ons s’n om te dra.

Satan kom met allerhande liegstories na mens toe. Die bekendste is die een dat jy nog baie tyd het! Liewe leser, daar is nie meer tyd nie! Die Here gaan kom om sy Kinders te kom haal, of jy nou gereed is of nie. As jy nie gereed is deur jou eie keuse nie, gaan jy agterbly. Die skuld gaan joune en joune alleen wees om te dra! Dit wat daarna in die sewe jaar van verdrukking gaan kom, gaan geen grap wees nie. As jy gaan agterbly, gaan jy jouself verwens omdat jy nie maar geluister het nie.

Jesus sê vir ons in Mattheus 16:26 die volgende: “Want wat baat dit ‘n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy siel?” Met ander woorde, liewe leser, dit help jou niks jy wen die hele wêreld, maar jou siel gaan spandeer ‘n ewigheid in die hel nie! Glo my, die wat in die hel is op hierdie oomblik, sal enige iets gee net een kans om reg te kan maak! Vir u hoef dit nie so te wees nie!

Die Bybel sê vir ons in Romeine 3:23 “…want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God.” Dit beteken dat daar geen mens op aarde is wat nie gesondig het nie. Romeine 6:23 se verder: “Want die loon van die sonde is die dood.” Dit beteken dat ons almal verdien om te sterf vir ons sondes. Hierby word nie bedoel sterf soos in sterf van ouderdom nie. Sterf beteken om ‘n ewigheid te spandeer sonder God; ‘n ewigheid in die hel. Hierdie is die enigste straf vir sonde omdat God ewig is. As iemand eers in die hel is, dan is dit vir ewig. Daar is geen uitkomkans nie; niks wat u kan sê doen of redeneer om daaruit te kom nie. Daar is geen verskoning nie; geen jammerte en bowenal geen genade nie.

Ek weet dat baie van julle gaan sê dat ek nou besig is met bangmaak stories, maar die bewyse van ‘n hel wat ‘n werklikheid is, is in die Bybel opgeteken in Lukas 16:19-31. Uit ‘n ander oogpunt: wat verkies u? Om nou bang gemaak te word terwyl u nog die tyd het om iets aan die probleem te doen, of om later uit te vind dat die Bybel reg was en dan niks daaraan te kan doen nie?

Gelukkig is daar ‘n oplossing en Sy Naam is JESUS! Meer as twee duisend jaar gelede het Jesus op Golgota’s heuwel op die kruis gesterf vir ons. Die prys vir ons sondes is betaal; alles daarvan, ongeag wat jy gedoen het!

Jesus sê self in Johannes 14:6 “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” Dit beteken dat Hy die enigste weg Hemel toe is. Daar is geen ander nie. Geen mate van self regverdigheid of deur ‘n goeie lewe te lei gaan vir jou help om Hemel toe te gaan nie, want ons het ALMAL gesondig. (Romeine 3:23) Sonde verwyder ons van God en die Hemel. Die enigste pad Hemel toe is die een wat lei deur die verlossing wat deur Jesus daar gestel is.

 Die HERE is vir ons as mens baie lief, want Hy het ons gemaak. Hy ken elkeen van ons op die naam en Hy wil nie hê dat enige een van ons verlore moet gaan nie. Jesus erken dit self in Johannes 3:16 “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” Ons het dus nie nodig om ‘n ewigheid in die hel sonder God deur te bring nie. Jesus is die antwoord! In Romeine 3:22 en 24 staan geskrywe: [22] …deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie; [24] en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is.” Deur jou hart vir die Here te gee en Hom as Saligmaker aan te neem, kan enige iemand gered word, ongeag wie jy is of wat jy gedoen het. Die prys vir ons sonde is reeds op Golgota betaal. Ons moet net die kaartjie gaan afhaal en glo!

Hoe eis ons dan ons vergifnis? U moet op u knieë gaan en u sonde voor God bely. Dan moet u berou daaroor toon en onderneem om dit nooit weer te doen nie. Dis ‘n gelofte wat u voor God aflê. Onthou dat daar geen maklike bid-gou-hierdie-gebed-en-alles-is-vergewe is nie. Dis ‘n nuwe lewenswyse wat u op u knieë gaan begin!

Nadat u die Here aangeneem het as u Persoonlike Saligmaker is dit baie belangrik dat u afstand doen van u sonde en ‘n sondige bestaan. As u ‘n strafregtelike hof op aarde vrygespreek word van ‘n oortreding teen u, gaan u tog nie uit en doen dit weer nie! Soortgelyk help dit nie u smeek God om genade, maar gaan dan uit en doen dieselfde sonde weer nie.

As u mense te na gekom het, dan moet u om verskoning gaan vra. Ek weet dan dit ‘n ongemaklike taak is om te doen, maar dis vir God uiters belangrik dat ons mekaar se oortredinge vergewe net soos Hy ons oortredinge vergewe! Maak nie saak of die persoon u verskoning aanvaar of nie. U kant van die saak is dan skoon.

Die volgende stap is om ‘n lewe in Christus te lei. U moet u lewe inrig volgens die Wet van Christus soos uiteen gesit in Mattheus 22:37 – 40: [37] En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. [38] Dit is die eerste en groot gebod. [39] En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. [40] Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.”

Let daarop dat hierdie veranderinge is wat nie onmiddellik gaan plaasvind nie. Die HERE gaan begin om met u ‘n pad te loop en dit gaan tyd vat om die weg op die regte manier te wandel. U gaan struikel en val. U gaan wonder of u die regte ding gedoen het. Dis menslik om te wonder, maar weet dit: U KAN GEEN BETER KEUSE MAAK NIE!

Onthou wat ek in die begin gesê het? “Ons is vry om enige die keuse in die lewe te maak, maar ons is nie vry van die gevolge van daardie keuse nie.” Die keuse om God te volg is nou u s’n om te maak. Openbaring 3:20 sê: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My.” Net jy kan die deur van jou hart vir Jesus oopmaak. Niemand anders kan nie. Maak die regte keuse!

Mag die HERE hierdie boodskap seën!

(Visited 947 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , , .