Ons almal se lewens bestaan groot en deels uit roetine uit. Daar is sekere dinge wat ons elke dag soort van outomaties doen sonder dat ons dit werklik agterkom.
Oggende is seker die mees gemaklikste en die mees ongekompliseerde deel van ons lewens. Ons staan soggens op, was, borsel tande, trek aan, eet en begin dan met ons daaglikse take. Wat kan makliker wees as dit? Dis suiwer roetine; elke oggend dieselfde; geen verassings nie, behalwe as die warmwater silinder jou nie goedgesind is nie en jy in koue water hare moet was!
Ons gebedslewe is ‘n soortgelyke roetine. Ons lees ‘n paar verse en bid dan en ek is bereid om ‘n weddenskap met julle aan te gaan dat baie van julle presies dieselfde gebed elke oggend bid. Dis roetine en ons doen dit sonder dat ons dit werklik agterkom. Etenstye is presies dieselfde. Baie van ons bid presies dieselfde gebed met elke ete.
Julle weet, as mens nou terugkyk, dan dink jy hoe dom dit is! Gebede soos die word so ‘n gewoonte dat ons dit seker ‘n honderd duisend keer in ons lewens bid. Ons bid hierdie gebede sonder dat ons werklik dink met wie dit is wat ons praat.
In Openbaring 4:2-3 geen Johannes vir ons ‘n beskrywing van hoe die Vader lyk: “[2] En dadelik was ek in die Gees, en kyk, daar staan ‘n troon in die hemel en Een sit op die troon. [3] En Hy wat daarop sit, het in sy voorkoms gelyk soos die steen jaspis en sardius; en rondom die troon was ‘n reënboog wat in sy voorkoms gelyk het soos ‘n smarag.” As ons hierdie beskrywing lees en ons bid met hierdie beskrywing in ons gedagtes, is ek seker dat baie van julle nooit weer dieselfde sal bid nie! Dink volgende keer met wie dit is wat u praat en ek is seker dat baie van julle totaal anders gaan bid!
Dink ‘n bietjie hieraan: as jy nou voor die HERE moet staan en jy sien Hom in al Sy glorie voor jou staan, wat gaan die eerste woorde wees wat jy vir Hom gaan wil sê? As ons hieraan dink, dan gaan jy weet hoe om te bid, want dis wat ons moet doen as ons bid. Ons kom voor die HERE en ons praat met Hom!
Ek wil afsluit met die volgende verhaal. Daar was ‘n leraar wat elke Sondag vir sy gemeente gepreek het. Die van julle wat al voor mense gepraat het, sal weet hoe dit voel om na ‘n see van uitdrukkinglose gesigte te staar! Daar was hierdie een jong vrou wat elke Sondag se preek uitermatig geniet het en eendag kon die leraar sy nuuskierigheid nie meer bedwing nie en hy het haar gevra waarom sy, anders as die ander mense, elke Sondag se preek so geniet. Haar antwoord was dat die HERE mos die Skepper is en dat sy Hom elke Sondag vra om vir haar ‘n nuwe ondervinding te skep. Die leraar was verstom, want hy het nog nooit so daaraan gedink nie. Ons almal weet dat die HERE die Skepper is, maar wie van ons het al ooit daaraan gedink om die HERE te vra om vir ons nuwe ondervindinge te skep?
Prys die HERE vir hierdie boodskap!