Julle het seker almal al die dik toue gesien waarmee skepe vasgemaak word en mense selfs mee die tou trek sport beoefen.
Daardie tou het baie keer ‘n leer omhulsel om die punt om te keer dat die tou nie uitrafel nie. Kom ons stel ons voor dat daardie leer omhulsel van die tou ons aardse lewe voorstel en die res van die tou die ewigheid. Alhoewel die tou ‘n definitiewe einde het, gaan ons maak of daardie tou oneindig lank is, so speel saam.
Soos julle weet is die leer omhulsel baie kort in vergelyking met die res van die tou. Ons tyd op aarde is net soos daardie leer omhulsel baie kort in vergelyking met die ewigheid wat vir ons wag. Ons weet dit, maar die wat in die wêreld is, sien nie die res van die tou raak nie. Al hulle beplanning gaan in daardie kort stukkie leer aan die begin van die tou in. Hulle maak geld bymekaar vir die dag as hulle aftree en hulle beplan alles wat hulle wil doen na aftrede gebaseer op daardie klein stukkie leer aan die begin van die tou.
Ons as Kinders van God se beplanning is geheel en al anders. Ons beplan vir die res van die tou. Vir ons is die leer gedeelte net daar om ons gereed te maak vir die ewigheid. Ons werk baie hard nou terwyl ons kan, want ons weet dat ons eendag die grens tussen die leer en die tou gaan oorsteek en dan gaan daar nie meer tyd wees om vir God te werk nie.
Begin julle nou verstaan waarom ons so sukkel om met wêreldlinge oor die weg te kom? Dit gaan oor die verskillende uitkyke in die lewe. Ons beplan vir die ewigheid terwyl wêreldlinge beplan vir die hede. Die wêreldlinge word deur satan verblind sodat hulle nie die waarheid kan sien nie en dis waarom hulle so graag met ons wat die waarheid ken, daaroor stry; omdat hulle die waarheid nie sien nie.
Ek sien dit in my eie lewe ook en ek kan julle verseker dat daar ‘n definitiewe skeiding is tussen die wêreld en die Kind van God oor hierdie verskil in denkwyse. Julle gaan dit ook in julle families sien, net soos ek dit sien. Ek begin nou verstaan waarom Jesus in Mattheus 7:14 gesê het: “Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.”
Die aantal mense wat hierdie leefstyl van ons vind en dit kan volhou is sonder twyfel in die minderheid. Die wêreldling word geleer om oor alles bekommerd te wees en die wêreldling word geleer om te presteer vir dit wat jy in die lewe wil hê. Ons as Kinders van die HERE is oor niks bekommerd nie, want ons weet dat ons Vader vir ons sal sorg. Ons weet dat ons nooit ‘n oorvloed sal hê nie, maar ons sal genoeg hê om van te lewe. Ons moet ook presteer, maar ons presteer vir Jesus en nie vir die wêreld nie! Amen!
Ons is klaar erfgename van die Koningryk! Ons hoef dus net vir ons beloning te werk en onthou dat niemand ooit vir Jesus verniet werk nie! Elke dingetjie wat jy doen, maak nie saak hoe klein dit is nie, tel op die ou end van die dag! Ons is die sout van hierdie aarde. Die wêreldlinge spog sodat hulle sonder ons oor die weg kan kom, maar hulle besef nie dat daar ‘n simbiotiese verhouding tussen hulle en ons bestaan nie. Dit beteken dat Jesus hulle seën deur ons gebede. Hulle gaan dit na die wegraping besef wanneer die seëninge ophou omdat die gebede nie meer daar is nie.
As mense jou dus beskuldig vir alles wat sleg is en jy soos ‘n uitgeworpene voel, dra jou kruis met waardigheid! Hulle het met Jesus presies dieselfde gedoen, tog het Hy hulle nog steeds lief gehad. Dis die voorbeeld wat Jesus vir ons gelos het om te volg. Gebruik daarom daardie voorbeeld en laat jou lig vir Jesus skyn!
Ek kan elkeen van julle verseker dat die wat jou nou so stief behandel jou gaan onthou na die wegraping. Vir baie gaan jou optrede nou die enigste lig na die waarheid wees. Daarom, liewe lesers, vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie. Net soos die leer omhulsel van die tou gaan jou stryd ook nie vir altyd aanhou nie.
Prys die Naam van Jesus, want Hy is waardig om geprys te word! AMEN!

Dankie vir hierdie Woord van vandag. Nou voel ek nie meer so alleen nie. Dit is asof jy my met hierdie Woord as voorbeeld gebruik het.
Prys onse Here Jesus Christus vir die
bemoediginde Boodskap! Dis waarlik ‘n bevestiging tot volharding.
Baie seën aan u en u familie.