Soms staan ek verbaas oor die boodskappe wat ek van Jesus kry en ja, ek leer net so baie uit hierdie boodskappe wat julle daaruit leer.
Nou dat ons so naby aan die wegraping en die hereniging met ons geliefde is, kyk ‘n mens altyd terug na waar jy was. Dis nou 15 jaar wat ek die Woord van Jesus verkondig en Jesus het hierdie bediening ongelooflik geseën deur vir my baie siele te gee om te bedien. Wat begin het as ‘n kudde van minder as tien mense staan vandag op ‘n paar duisend! Prys die Naam van Jesus! Ek is nie presies seker van die syfer nie en ek wil ook nie regtig weet nie omdat ek dit eerder wil los as ‘n verassing vir die dag wat Jesus ons kom haal.
Ek het ook nog nooit uit myself geskryf nie, maar uit die Gees. My eie opinies en gevoel oor ‘n saak is onbelangrik. Ek het dit ook so vir mense gesê as hulle gevra het, want baie wou weet waarom dit wat hulle hier hoor so anders is as wat hulle in hulle eie kerke hoor! Vandag, na al die jare het Jesus vir my die volgende vers gegee as stawing vir dit wat ek doen.
“[17] As iemand gewillig is om sy wil te doen, sal hy aangaande die leer weet of dit uit God is, en of Ek uit Myself spreek. [18] Hy wat uit homself spreek, soek sy eie eer; maar Hy wat die eer soek van dié Een wat Hom gestuur het, Hy is waaragtig en daar is geen ongeregtigheid in Hom nie.” (Johannes 7:17-18)
Prys die Naam van Jesus! Is Hy nie ongelooflik nie? Bevestiging uit Sy Woord uit!
Vir almal wat bydra tot hierdie bediening; ek weet nie wie julle is nie en dis soos dit moet wees, want jou linker hand moet nie weet wat jou regterhand doen nie, maar Jesus weet wie julle is. Ek het deur die jare self betaal vir alles wat ek nodig gehad het, maar uit die aard van die saak kon ek net vir die nodigste betaal. Danksy die skenkings het ek nou ‘n volwaardige nuusbrief waar al die funksies daarvan geoutomatiseer is. Ek hoef nou net die boodskappe te pos en die res is outomaties. Ek hoef ook nie meer vir ons webruimte uit my eie sak te betaal nie. Dit word ook deur julle moontlik gemaak!
Skenkings hoef nie groot bedrae te wees nie. Onthou wat ek geskryf het oor die balie wat baie kan hou en daarom baie kan gee. Tee koppies hou min, maar hulle gee alles wat hulle het. Enige skenking is daarom welkom, tot bedrae van R10!
Let daarop dat skenkings nie verpligtend nie en dit sal ook nooit wees nie. Ek weet maar net te goed dat daar mense is wat dit nie kan bekostig nie en Jesus weet dit ook. Dis waarom Suider Kruis verniet is en dit sal altyd so bly. Vir die wat bereid is om by te dra tot die uitbreiding van die Woord kan verseker weet dat hulle dit nie verniet doen nie, want niemand werk ooit vir Jesus verniet nie! Jou beloning wag vir jou in die tyd wat kom; weet dit verseker!
Ek gaan afsluit met die volgende vers wat ek by Jesus gekry het:
“En Ek sal hulle een hart gee, en ‘n nuwe gees in julle binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit hulle vlees verwyder en hulle ‘n hart van vlees gee, sodat hulle in my insettinge kan wandel en my verordeninge kan hou en dit doen; en hulle sal vir my ‘n volk wees, en Ek sal vir hulle ‘n God wees.” (Esegiël 11:19-20)
Kom ons bid: HERE, ek bid dat U my met U liefde sal vul en my sal help keer dat my hart nooit van u af wegdwaal nie. Gee dat my hart onverdeeld sal wees en verwyder enige hardvogtigheid in my. Ek nooi U om beheer oor my gedagtes en emosies te neem en my te help om volkome aan u oor te gee. Laat die vlam van begeerte in my na U nooit doodgaan nie. AMEN!
Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën!
