As ek moet vra hoeveel van julle graag perfek wil wees vir Jesus, dan is ek seker dat ek ‘n see van hande gaan sien!
Baie van ons sukkel ons hele lewe daarmee. Ons wil perfek wees vir Jesus en die rede waarom ons perfek wil wees is omdat Jesus so baie vir ons gegee het en ons graag iets wil teruggee, maar dis ‘n opdraande stryd van epidermiese proporsies! Sodra ons vordering maak, dan val ons en ons val seer! Vir baie van ons is hierdie uiters frustrerend!
Weet julle dat tot Paulus; ja, dieselfde Paulus wat meer as die helfte van die Nuwe Testament geskryf het, ook hiermee gesukkel het? Ons lees daarvan in 2 Korintiërs 12:7 “En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie, is my ‘n doring in die vlees gegee, ‘n engel van die Satan, om my met die vuis te slaan, dat ek my nie sou verhef nie.”
Jesus HAAT grootmoedigheid en daarom sal Hy nooit toelaat dat een van ons dink dat ons meer werd is as die ander een nie. Dis ook die rede waarom satan toegelaat word om ons te versoek; om te keer dat ons begin dink dat ons beter daaraan toe is as ander mense! Ons is almal stukkend vir Jesus. Daar is nie een van ons wat kan roem dat hy of sy volmaak is nie, want dan sal ons lieg as ons dit sou sê.
Paulus was so gefrustreerd deur die feit dat hy nie volmaak kan wees nie dat hy tot God gebid het en gevra het waarom Jesus nie toelaat dat hy volmaak kan wees nie en Jesus het hom geantwoord: “En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon.” (2 Korintiërs 12:9) Prys die Naam van Jesus!
Roem daarom in jou swakhede, liewe leser, want dit gaan nie vir altyd so wees nie! Baie word op die oomblik van ons weerhou, maar dit gaan ook nie vir altyd so wees nie.
Ek wil hê dat julle so moet dink daaraan: as jy volmaak sou kon wees, waardeur sou Jesus se lig wat binne in ons almal is dan skyn? Die mense om jou word aangetrek na die lig toe, maar hulle kan daardie lig net sien deur die krake en die swakhede in jou eie lewe. Wees dus bly oor daardie krake, want Jesus laat die krake toe met ‘n doel! Dien ons nie ‘n wonderlike HERE nie?
Prys die Wonderlike Naam van Jesus!