Nêrens in die Bybel s die HERE vir ons dat die lewe van ‘n Christen ‘n maklike een gaan wees nie; veral nie in die laaste van dae nie. Daar word wel gesê dat jy beloon gaan word vir jou werk op aarde en dat hierdie beloning groot gaan wees en dis waarom dit die moeite werd is om aan te hou, ten spyte van die groeiende teenstand teen ons.
In 2 Timoteus 2 laas ons hierdie bekende gedeelte: “[1] MAAR weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. [2] Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, [3] sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, [4] verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; [5] mense wat ’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af.”
Dit hoort nie vir een van ons wat die HERE dien ‘n geheim te wees nie: die wêreld haat ons, want ons is nie van hierdie wêreld nie. Ek is seker daarvan dat julle wat dit lees dit al agtergekom het! Begin by julle eie families en praat ‘n bietjie oor die Woord van die HERE en kyk wat die reaksie is! Baie gou word jy uitgemaak as ‘n “bible puncher”, ‘n fanatikus of self nog erger; een van hulle! Al agtergekom?
Vir die van julle wat terneergedruk voel in julle pogings, wil ek vra dat julle asseblief vir my Johannes 17 gaan lees. Lees die hele gedeelte, want dit gaan oor Jesus se gebed vir Sy dissipels kort voor Sy kruisiging. Vers 14 was vir my veral treffend: “Ek het hulle u woord gegee, en die wêreld het hulle gehaat, omdat hulle nie van die wêreld is nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie.”
So het twee van my vriende die week op Facebook twee boodskappe gepos wat my tot in my siel geskok het. Ek moet net byvoeg dat dit nie die mense is wat ek hierdie tipe van boodskappe verwag het nie en dit is wat die skok nog erger gemaak het.
Die eerste boodskap wys ‘n prentjie van drie mense wat elkeen ‘n boek vashou. Die eerste hou ‘n Bybel vas, die tweede ‘n Joodse Torah en die derde hou ‘n Quran vas. Onder aan die prentjie staan geskrywe: “Sharing fake news long before social media.”
Die tweede boodskap wys ‘n bordjie wat iemand agter in sy motor aangebring het. Die boodskap op die bordjie is: “I’ve got nothing against God, it’s his Fan Club I can’t stand.”
Een ding moet julle verstaan: ek is nie kwaad vir hierdie mense nie, want hulle weet nie wat hulle doen nie. Hierdie persoon wat na die Bybel verwys as vals nuus is vir my skokkend, maar dit wys my net die vlak van onkunde wat daar in die wêreld bestaan betreffende die HERE en Sy Woord! Iemand wat so ‘n stelling maak is iemand wat net een ding bewys en dit is sy totale onkunde oor die onderwerp!
Dieselfde geld vir die tweede boodskap. As die persoon wat dit geskryf het enigsins die HERE geken het, dan sou hy geweet het dat jy nie skeiding kan maak tussen die HERE en sy Kinders nie, want ons is een! Hy moes eerder geskryf het “I hate God and his children”, dan sou hy ten minste die waarheid geskryf het, maar hierdie boodskap is een van ‘n ateïs wat sy ware kleure wil wegsteek. Dis waarom hy die HERE verkleineer in sy woorde “his Fan Club”. Let op dat die woord “his” met ‘n klein lettertjie gespel is.
Soos ek gesê het is ek nie vir een van hierdie mense kwaad nie; ek kry hulle uit my hart uit jammer, want hulle probeer oordeel wat hulle nie verstaan nie. Dis soos iemand wat ‘n lemoen eet: jy ruik die geur van die lemoen en nou probeer jy die smaak van die lemoen oordeel gebaseer op wat jy ruik!
Hierdie gebeurtenis bewys maar net vir my hoe ver ons al gevorder het en hoe naby die koms van die HERE werklik is.
Liewe vriend, jy wat hierdie lees; kan daar by jou nog enige twyfel wees? Jy weet die HERE praat al lank met jou. Jy kan dit aanvoel in jou hart. Dis daardie onrustigheid wat jy al lank aanvoel. Wil jy nie maar daardie oorgawe maak nie? Jy hoef nie God se oordeel oor hierdie wêreld deur te gaan as dit kom nie. Die HERE wag geduldig vir jou. Hy wil jou alles vergewe; Hy weet klaar van alles wat jy verkeerd gedoen het en daar is dus geen rede om daaroor skaam te wees nie, maar jy moet daardie eerste skuif maak. Wil jy dit nie maar doen nie?
Prys die Naam van die HERE!