Dis geen geheim nie. Ons tyd is besig om vinnig uit te loop! Daar is al baie oor hierdie onderwerp geskryf en ek besef dat mense seker al moeg is om die boodskap weereens te lees…
Dis waarom ek hierdie boodskap elke nou en dan herhaal. Die HERE wil nie hê dat een van julle moet agterbly nie. Hy het elkeen van julle baie lief, so lief dat Hy Sy enigste Seun gegee het om te kom sterf vir jou sodat jy nie ‘n ewigheid sonder God hoef deur te bring nie. (Johannes 3:16) Maar die keuse bly joune!
Stel jou voor jy is besig om inkopies te doen. Skielik hoor jy trompette blaas. Jy kyk om jou rond. Behalwe vir ‘n ou man aan ‘n paar meter van jou af lyk dit nie of enige iemand iets gehoor het nie… Jy sien die ou man opkyk en jy kyk om te sien wat dit is waarna hy kyk. Dis Jesus en Hy sê: “Dis tyd…”
Die Bybel sê vir ons in ‘n oogknip. Die slim mense het bereken dat ‘n oogknip een honderdste van ‘n sekonde duur. In een honderdste van ‘n sekonde gaan hierdie wêreld verander soos wat niemand ooit gedink het moontlik is nie. Mense gaan uit hulle huise en kantore gestorm kom, op hulle borskaste slaan en roep: “Vat my saam, HERE”, maar dit gaan te laat wees!
My vraag, liewe leser: Is jy gereed?
Of staan jy voete nog stewig geplant in hierdie aarde? Gaan jy vir die HERE sê Hy moet nog so ‘n bietjie wag, want jy het ‘n besigheid om na om te sien, dinge om te gaan doen?
Ek weet dat daar mense is wat nie glo in die wegraping nie. Sommiges glo dat dit ‘n vals lering is…
My vraag: Is jy bereid om die kans te vat?
Vergeet een oomblik van al die slim redenasies en al die kop kennis. Vra die Heilige Gees of dit die waarheid is; ek daag jou uit! Die Bybel leer ons in Jakobus 1:5 “En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word.” As jy dus kennis nodig het, moenie dit van mense probeer kry nie. Vra dit by die HERE, want die HERE se kennis is altyd reg!
Die HERE wil nie hê dat een van Sy geliefdes moet agterbly nie. Jy is Sy geliefde. ‘n Ontsnap roete is klaar vir jou geskep. Jy moet dit net aanvaar en die HERE deel van jou lewe maak!
Mag die HERE hierdie boodskap seën!