Ons liggame is die tempel waarin die Heilige Gees op aarde woon, maar tog sien ek elke dag hoe mense hierdie ongelooflike geskenk van God oorgee aan allerhande wêreldse dinge…
Ek praat nie nou van die wêreldlinge nie, want hulle weet nie wat hulle doen nie. Ek praat nou met ons wat geredde Kinders van God is!
Die Here het hierdie week vir my op twee geleenthede vir my twee verskillende teks verse gegee waarin Hy hierdie boodskap oorbeklemtoon. Die feit dat ek twee keer ‘n soortgelyke boodskap gekry het uit twee verskillende dele van die Bybel beteken hoe belangrik vir die Here is dat hierdie boodskap verstaan moet word!
Kom ons kyk na die eerste gedeelte in 1 Korintiërs 6:12-20 “[12] Alles is my geoorloof, maar nie alles is nuttig nie; alles is my geoorloof, maar ek sal my nie deur iets laat oorheers nie. [13] Die voedsel is vir die maag, en die maag is vir die voedsel, maar God sal die een sowel as die ander tot niet maak. En die liggaam is nie vir hoerery nie, maar vir die Here; en die Here vir die liggaam. [14] En God het ook die Here opgewek en sal ons opwek deur sy krag. [15] Weet julle nie dat julle liggame lede van Christus is nie? Sal ek dan die lede van Christus neem en dit lede van ‘n hoer maak? Nee, stellig nie! [16] Of weet julle nie dat hy wat ‘n hoer aanhang, met haar een liggaam is nie? Want die twee, sê Hy, sal een vlees wees. [17] Maar wie die Here aanhang, is een gees met Hom. [18] Vlug vir die hoerery. Enige sonde wat ‘n mens doen, is buite die liggaam; maar wie hoerery bedryf sondig teen sy eie liggaam. [19] Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? [20] Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.”
Alles is ons geoorloof, liewe leser, maar nie alles is nuttig nie. In kort beteken dit dat ons vry is om ons lewens te geniet, maar dit beteken nie dat alles wat ons doen, nuttig is nie. Onder geen omstandighede moet ons toelaat dat ons deur iets oorheers word nie: daardie een drankie wat skielik vyf word of daardie een krag word wat skielik ‘n hele rympie word. Dis dinge waarteen ons moet waak!
Ons liggame is tempels van die Heilige Gees op aarde. Deur ons te laat oorheers deur ons begeertes, bevuil ons die tempel van die Here en sondig ons teen ons eie liggaam! Waak teen jou begeertes, want baie van ons, mans en vrouens, is hopeloos te opgemaak met die ander geslag. Niemand kan vir my sê dat hy of sy nog nooit na ‘n ander man of ‘n vrou gekyk het nie. Ons almal doen, of jy nou getroud is of nie. Niemand van ons is van hout gemaak nie. Daar is ook niks mee verkeerd nie, maar wanneer ons kyk en begeer, sê die Bybel vir ons, dat hoereer ons in die oë van die Here! Dit hoort nie so te wees nie, liewe leser!
Ons liggame behoort nie aan ons nie, maar aan die Here wat dit gemaak het. Ons is duur gekoop deur Jesus se bloed! Ons sondes is ons vergewe, maar dit beteken nie dat ons ‘n kaartjie het wat toelaat dat ons kan doen wat ons wil nie. Onder geen omstandighede mag ons die Gees van God ontstel nie! Pas dit dus op wat jy met hierdie Tempel van die Here doen.
Kom ons kyk wat sê die Here vir ons in die tweede gedeelte in Romeine 12:1-2 “[1] Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens. [2] En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.”
Hier herhaal die Here die eerste gedeelte weer: pas julle liggame op, want dis ‘n heilige welgevallige offer. Die kern is egter in egter in vers twee: “word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie”. Met ander woorde, liewe leser, moenie doen wat die wêreld doen nie! Die feit dat almal die linker afdraai vat, beteken nie dat die linker afdraai die beste pad is nie! As Kinders van die Here moet ons anders wees as die wêreld.
Vermy en vlug vir die hoerery! Ons liggame is tempels van die Heilige Gees. Hou dit skoon en moenie die Gees van die Here ontstel nie. Moenie gelykvormig word aan wat die wêreld sê en doen nie, maar word gelykvormig aan God!
Mag die Here hierdie boodskap seën!