Vra en vir jou sal gegee word

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Die Bybel is darem vol allerhande wyshede en die mees wonderlikste beloftes en baie keer vergeet ons daarvan totdat iemand dit weer aan ons uitwys.

Jesus sê in Lukas 11:9-10 [9] En Ek sê vir julle: Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. [10] Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word.”

Hoe baie van ons het al hierdie gedeelte gelees, dit met blydskap aanvaar en dit dan net daar gelos? Ons optrede is soos daardie saad wat tussen die dorings geval het. Ons ontvang die boodskap en ons groei daaruit, maar baie gou kom die sorge van die lewe en verstrengel die boodskap wat ons gehoor het. Dan wonder ons waarom ons so swaarkry en waarom ons niks het nie, maar ons het niks omdat ons niks vra nie! Jesus sê dit tog duidelik: “Want elkeen wat bid, ontvang!”; nou waarom ontvang ons nie? Omdat ons nie vra nie!

Sommige sal sê dat hulle vra, maar ook nie ontvang nie. My vraag is; waarvoor vra u? Die Here se dat ons duur gekoop is en dat niks ons uit sy hand sal pluk nie. As jy nou gaan vra vir ‘n duur motor of ‘n duur huis en die Here sien dat hierdie dinge in die toekoms tussen jou en Hom gaan kom, dan gaan Hy dit nie vir jou gee nie.

Vra vir die Here wat jy graag wil hê en wees baie beskrywend! Moenie enige detail uitlaat nie. As jy ‘n nuwe huis soek, sê dan hoeveel kamers dit moet hê en hoe groot dit moet wees! Moenie bang wees nie en moet nooit dink dat die Here sal dink dat jy laf is nie. Die aarde en die volheid daarvan behoort aan die Here en Hy kan gee vir wie hy wil!

As jy vir die Here iets gevra het, wees dan geduldig en laat die Here toe om sy deel te doen. Onthou dat windpompe nie gaan soek vir wind nie! Hulle staan vas waar hulle gebou is en wag tot die dag die wind begin waai; dan doen hulle dit waarvoor hulle gebou was. Wees dus geduldig!

Moet nooit dink dat as jy vir die Here een ding vra, Hy vir jou iets heeltemal anders gaan gee nie. Net soos ons wat kinders het weet om die goeie aan ons kinders te gee as hulle vra, so weet die Here ook om net die beste aan ons te gee as ons bid en vra. Glo en vertrou dus soos ‘n kind!

Mag die Here hierdie boodskap seën.

(Visited 895 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , , .