Ons is almal lede in Jesus se liggaam; elkeen geskep om een funksie te kan verrig, maar dit beteken nie dat ons minderwaardig is teenoor ander nie.
Net omdat ek nie lekker kos kan kook of kan hekel of brei nie, beteken dit nie dat daar iets met my verkeerd is nie. Dit beteken maar net dat Jesus ‘n ander plan met my het. Daar is ‘n ander plek waar ek gaan inpas, maar dit sal nog aan my bekend word; ‘n plek waar ek kan uitstaan en presteer en waar ander weer kan wens dat hulle soos ek is.
Ek het ‘n swaar wat ek absoluut beny, maar nie op ‘n slegte manier nie. Hy is een van daardie mense wat se hand vir absoluut niks verkeerd staan nie. Hy kan eenvoudig alles regmaak! Hy is een van daardie mense wat goed regmaak wat ander probeer regmaak het! Ek wens ek kan soos hy wees, maar ek weet dat ek dit nooit sal wees nie.
In 1 Korintiërs 12:14-18 sê Jesus vir ons die volgende: “[14] Want ook die liggaam is nie een lid nie, maar baie. [15] As die voet sou sê: Omdat ek nie die hand is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie—behoort hy daarom nie aan die liggaam nie? [16] En as die oor sou sê: Omdat ek nie die oog is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie—behoort hy daarom nie aan die liggaam nie? [17] As die hele liggaam oog was, waar sou die gehoor wees? As dit geheel en al gehoor was, waar sou die reuk wees? [18] Maar nou het God elkeen van die lede in die liggaam gestel soos Hy gewil het.”
Ons is tog so geneig om na satan te luister as hy vir ons vertel dat omdat jy nie ‘n skroef kan indraai nie, jy op een of ander manier ‘n swakkeling is… Dis absolute bog snert! Daar is niks mee verkeerd om iemand te beny oor die vermoëns wat hy of sy het nie, maar ons moet besef dat die HERE elkeen van ons gemaak het soos ons is, omdat Hy ‘n doel daarmee net!
Daar is ‘n baie spesiale plekkie in die liggaam van die HERE waar jy eendag gaan inpas. Net jy gaan in daardie plekke kan inpas en niemand anders nie. Geen plaasvervanger kan ooit jou plek inneem nie, want daardie plekkie wat vir jou gereserveer is, is net joune. Net jy kan daar in pas. Jy kan miskien nie ‘n skroef indraai nie, maar daar is ander dinge wat jy kan doen wat die ander miskien nie kan nie.
Kom ons vat vir my af ‘n voorbeeld. Ek kan glad nie ‘n motor herstel nie, maar my swaer kan! Ek kan die bande omruil en die basiese goed doen soos olie aftap, maar dis waar dit vir my eindig. Is ek, omdat ek nie daardie vermoëns het wat hy het nie, nou ‘n swakkeling? Nee, natuurlik nie! Ek kan skryf en is die outeur van ‘n hele paar boeke! My swaer, so goed soos hy met die meganiese dinge van die lewe is, het geen aanvoeling vir die lettere nie.
Verstaan julle wat ek probeer sê? Dit gaan nie oor wat jy kan of nie kan doen nie. Jesus het vir jou ‘n stel gawes gegee wat niemand anders het nie. Jy is uniek! Daar is net een soos jy en jy het ‘n plekkie in Jesus se liggaam waar net jy eendag gaan kan inpas! Is dit nie wonderlik nie? Jesus het jou so lief dat hy vir jou jou eie spesiale plekkie gegee het om in te pas!
Hou dus op om vas te kyk in jou tekortkominge. Ja, daar is dinge wat jy nie kan doen nie. So what!? Daar is dinge wat jy weer kan doen wat ander weer nie kan nie! Jy is ‘n deel van Jesus se liggaam. Jy mag dalk nie die oog of die oor wees nie, maar jy is die hand en sonder die hand kan die liggaam glad nie vat nie! Sien jy hoe belangrik jy vir Jesus is? Die oog sien en die oor hoor, maar die hand vat! As die hand nie daar was nie, hoe sou die liggaam die stof uit die oog vryf of die oor krap as dit juk?
Jy het ‘n doel op hierdie aarde en jy is baie spesiaal in die oë van die HERE. Moet dit nooit vergeet nie! Sê vir satan hy moet gaan slaap! Jy is Jesus se Kind en Jesus is baie lief vir jou, self met al jou foute!
Prys die Naam van Jesus!