Toe ek ‘n kind was…

Jesus, wys ons die pad van die Lewe en gee ons die genade om U alleen te volg.

In 1 Korintiërs 13:11 skryf Paulus aan die Korinte die volgende gedeelte: “Toe ek ‘n kind was, het ek gepraat soos ‘n kind, gedink soos ‘n kind, geredeneer soos ‘n kind; maar nou dat ek ‘n man is, het ek die dinge van ‘n kind afgelê.”

As ons die HERE wil dien, dan is die eerste en die belangrikste vereiste afskeid van sonde en van die dinge van die wêreld. Dit sal jou oopstel om die HERE se weë te leer ken en om in Sy denkrigting gevorm te word. As jy nie bereid is om dit te doen nie, dan is jy nie gereed nie en sal dit beter wees dat jy wag tot jy werklik klaar is met die dinge van die wêreld voor jy jou bereid willigheid verklaar om die HERE te volg.

Soos ek in my vorige artikels geskryf het; daar is geen maklike middelpad as jy die HERE wil dien nie. As jy die HERE wil volg, dan moet jy bereid wees om alles wat jy het te gee. Dis soos iemand wat ‘n besige snelweg gebruik: as jy links van die pad loop is jy veilig; so ook as jy regs van die pad loop, maar as jy in die middel van die pad loop, gaan jy platgery word! Christendom is presies dieselfde: jy is of heeltemal daarby betrokke of jy is heeltemal daaruit; geen middelpad nie. Dis wanneer jy Christen probeer speel, dat satan jy jou sommer goed in die modder gaan rol!

Om ‘n Christen te kan wees gaan beteken dat jy moet afsien van sonde en dit gaan beteken dat jy bereid moet wees om reg gewys te word. Die Gees van die HERE sal dit stelselmatig en op ‘n baie liefdevolle manier doen, want sonde veroorsaak krake in jou lewens pot en dit laat die lewende water wat die HERE in jou wil gooi uitlek.

Baie van ons wat die pad van die HERE loop, werk nog aan hierdie krake en dit sal ons tien teen een die res van ons lewens vat. Ek is een van hulle! Die punt is egter nie om perfek te wees nie, maar die punt is om ‘n poging aan te wend om te probeer en so jou wil in lyn met die HERE s’n te kry!

Die weë van die wêreld is kinderagtigheid. Ons wil almal dinge op ons eie manier doen. Ons hou daarvan om gemaklik onder ons kombers te wees met ons kussings gemaklik rondom ons gepak. Lekker snoesig met ‘n warm drink dingetjie in die hand! Alles wat ons begeer is speelgoed: motors, bote, motorfietse, vakansies en al die voordele wat die wêreld kan bied. Hierdie dinge is gemik op die vleeslike en is daarom kinderagtig.

Ek sê nie dat die HERE nie hierdie dinge in jou lewe sal toelaat nie, want Hy laat dit toe as Hy sien dat dit nie jou siel gaan besoedel nie. Hoe lief is Hy nie om uitbundige geskenke aan die te gee aan die wat Hy so lief het nie! Maar die geskenke wat die HERE die graagste wil gee is nie die aardse soort nie. Dis die geestelike soort en daarvoor moet jy ‘n volwassene in die Gees wees om dit te kan ontvang. Weereens; jy hoef nie ten volle volwasse te wees nie, maar die wil om volwasse in die Gees te wees moet daar wees. As jy volwasse in die Gees is, sal jy die HERE nie tee gaan as Hy probeer om die aardse dinge van jou weg te neem.

Verstaan julle nou waarom die HERE in Sy Woord sê: Toe ek ‘n kind was, het ek gepraat soos ‘n kind, gedink soos ‘n kind, geredeneer soos ‘n kind? Is dit nie nou die tyd dat ons die dinge van ‘n kind wegsit nie?

Kan julle nou sien hoe verkeerd hierdie sogenaamde voorspoed christendom is? Christendom sonder pyn en lyding is die gedagtegang van ‘n kind, want as Christen moet jy jouself verloën, jou kruis opneem en die HERE volg! Dis die volwasse manier van dinge doen.

Onthou; die HERE het nie in voorspoed gelewe op aarde nie. Hy het pyn gevoel, Hy het siek geword, Hy is verraai. Die enigste plesier wat Hy gehad het, was om die Wil van die Vader te doen en die uitwerking daarvan op die mense te sien. Alhoewel Hy ‘n tragiese en pynlike dood gesterf het, was die plesier daarin dat die prys betaal is om ons eendag saam met Hom in die Hemel te kan hê! Tog het die HERE se vlees gerebelleer… “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.” (Mat 26:39)

Dit is die gedagtegang van ‘n volwassene wat kinderlike plesier eenkant toe geskuif het en dis waarheen die HERE vir my en vir jou wil vat, liewe leser, as jy gewillig is. Onthou, die HERE forseer niks op enige iemand af nie, maar as jy dit toelaat en volhou daarmee, dan sal jy die volwasse pad loop.

Soos Salomo in Prediker geskryf het: “Ek het in my hart gesê: Nou ja, ek sal jou met vreugde op die proef stel; geniet dan die goeie! Maar kyk, ook dit was tevergeefs. Van die lag het ek gesê: Dit is onsinnig! en van die vreugde: Wat verskaf dit? Ek het in my hart daaroor nagedink om my liggaam met wyn te verkwik—terwyl my hart my met wysheid sou lei—en om aan die dwaasheid vas te hou totdat ek sou sien wat goed is vir die mensekinders.” (Prediker 2:1-4)

As jy ‘n pad saam met die HERE wil stap, gaan jy swaarkry, maar die samesyn in die teenwoordigheid van die HERE deur Sy Gees gaan vir jou by verre meer werd wees as alles wat jy prysgegee het. As jy egter nog baie vashou aan die wêreld; dan is jy nog nie gereed nie, maar die HERE sal wag vir jou omdat Hy jou lief het en Hy jou wil hê waar Hy ook is.

Neem hierdie woorde ter harte, liewe lesers: die HERE is met jou die hele tyd! In elke voetspoor wat jy neem is Hy daar. Hy sal jou nooit alleen los nie. Jy moet net die begeerte hê om volmaak te wees en bereid wees om die berg saam met die HERE te klim. As jy dan bo kom, sal jy ook kan sien tot in die Ewigheid in.

(Visited 284 times, 1 visits today)