Vals profete mislei die Kinders van die Here

En so het 23 September 2017 gekom en gegaan, net soos 21 Mei 2011, 21 Oktober 2011 en 21 Desember 2012… Sien julle die patroon? Ons kan nie vir God voorspel wanneer die einde van die wêreld moet aanbreek of wanneer die wegraping moet plaasvind nie!

Elke slag wat daar so ‘n voorspelling gemaak word, is daar mense wat se beursies lekker vet word van die geld wat hulle uit die hele storie maak. Daar is ook diegene wat aandring om hierdie stories te versprei ten spyte van verskeie waarskuwings om dit nie te doen nie. So help die wat die storie aan die gang hou die skelms met bemarking sonder betaling! Dit veroorsaak weer op sy beurt weer onrus en onstabiliteit in die liggaam van Christus, want nie behoort te wees nie.

Liewe lesers, luister nou baie mooi: hou asseblief op om sulke stories te versprei. Jy doen niks goed wat bydra tot stigting van die HERE se liggaam nie! Dit wat jy doen is verkeerd, want mense luister daarna en dit maak hulle bevrees en angstig.

Die HERE het ons wat in hierdie groepie is bymekaar gebring om ‘n baie spesifieke rede. Die HERE het ook vir my ‘n opdrag gegee om te volbring:  “Totdat Ek kom, moet jy aanhou met voorlesing, vermaning en lering. Let op jouself en op die leer; volhard daarin; want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as die wat jou hoor.” Ek wil julle baie graag almal aan die bruilof tafel van die Lam sien, maar ons sal dit net kan regkry as ons luister na die stem van die Herder!

Die nuus op Internet gons oor Noord Korea, Rusland en nou Iran. ‘n Week gelede het die HERE vir ons gesê om weg te bly van die nuus af, want dit breek mense af met vrees sodat hulle makliker is om te beheer. Nou het julle praktiese ondervinding oor hoe giftig sulke stories kan wees! Jy drink gif water en jy besef dit nie. Verstaan julle?

Vir die wat nie geluister het nie en ook nie die stories aangehelp het nie, sê die HERE dat hy baie trots is op jou. Mooi so getroue dienskneg! Jy het geluister en jy was gehoorsaam aan die stem van die HERE. Jy het baie vrug in die Koningryk van die HERE omdat jy uitgehou het, jou fokus op die HERE gehou het en nie ure en ure van jou tyd gemors het om in die media te soek na wanneer die HERE se koms gaan wees nie! Die HERE is baie trots op jou!

In Mattheus 24:11 sê die HERE: “En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei.” Nou het julle dit gesien gebeur! Dit is nie die HERE se wil vir jou nie. Dit wat gesirkuleer word as ware profesie is niks anders as giftige water nie. ‘n Put kan tog nie goeie en bitter water voortbring nie… Die wat hierdie gerugte versprei is putte vol bitter en giftige water en hulle probeer jou aandag aflei van die vrede en die sekuriteit wat die HERE vir jou beplan. Moenie dat jou geloof in die HERE ontspoor word nie.

Daar is van julle wat seker gaan vra hoe ‘n mens se geloof dan ontspoor word. Voorspellings soos die kom gewoonlik vinnig in en word net so vinnig oorgedra. As niks dan gebeur nie, word jy uitgemaak as die een wat wolf geskreeu het, want jy het so baie mense gewaarsku en niks het dan gebeur nie! Verstaan julle? Jy ondermyn nie net jou eie geloof nie, maar ook die geloof van die om jou. Die wat gered kon gewees het, glo nou nie meer nie omdat jy na gerugte luister en dit herversprei.

Die HERE roep ons nou om ons harte te reinig van alle stories. Hou op om jou te laat vermaak deur onsinnige praatjies. Ware Kinders van die HERE hou hulle nie besig met hierdie dinge nie, maar hulle verdedig eerder die eer van die HERE deur uit te praat teen gerugte soos dit.

Hou vas aan die HERE en Hy sal aan ons bekend maak wat gaan gebeur en wanneer om gereed te wees daarvoor.

Prys die Naam van die HERE!

(Visited 129 times, 1 visits today)