Moenie met twee gewigte weeg nie

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media
image_pdfLaai afimage_printDruk

Die van julle wat oud genoeg is, sal nog daardie outydse weegskale onthou. Daardie soort waar jy gewigte op die een end gesit het en dan wat jy ook al wil weeg op die ander kant. Vandag se boodskap gaan oor daardie gewigte wat hulle gebruik het om mee te weeg.

“Jy mag nie twee soorte weegstene, ‘n grote en ‘n kleintjie, in jou sak hê nie.” (Deuteronomium 25:13)

Oneerlikheid sluip so vinnig in ons lewens in. In baie gevalle is dit satan se deur in ons lewens in sonder dat ons dit agterkom! Wie gaan tog weet as jy daardie ekstra inkomste wat jy het nie aan die belasting gaarder verklaar nie. Hulle steel tog in elke geval genoeg van die land, dan nie? En daardie rekenaar sagteware wat ek so kopieer en versprei. Niemand kry tog seer nie, reg?

Liewe kind van die HERE; God weet van alles wat jy doen!

“Want almal wat hierdie dinge doen, is ‘n gruwel vir die HERE jou God—almal wat onreg doen.” (Deuteronomium 25:16)

Jy kan vir die HERE niks wegsteek nie. Hy weet alles! Ek is persoonlik deur so ‘n ding en ek het my les op die harde manier geleer! Moenie ‘n vals weegskaal wees nie! Laat jou gewigte altyd die regte gewig weergee, want ‘n vals weegskaal is ‘n gruwel in die oë van die HERE!

“Sal Ek rein kan wees by ‘n valse weegskaal en by ‘n sak vol bedrieglike gewigte?” (Miga 6:11)

Die HERE het ons geroep om ‘n heilige leefstyl te volg (1 Thess. 4:3) sodat ons die dag van die wegraping voor Hom kan verskyn sonder vlek of rimpel of iets dergeliks. (Efesiërs 5:27) Waarom sal jy dan jou vleeslike begeertes wil vervul deur oneerlik te wil wees?

“‘n Valse weegskaal is vir die HERE ‘n gruwel, maar in ‘n volle gewig het Hy behae.” (Spreuke 11:1)

Julle moet weet dat ons as geredde Christene in ‘n spirituele oorlog gewikkel is elke uur van die dat en elke week van die dag. Jy kan nie slimmer wees as satan nie. Hy is ouer, het meer ondervinding en is baie meer slinkser as wat jy ooit kan wees. Jou enigste redding is ‘n betekenisvolle verhouding met die HERE. ‘n Verhouding waarin jy eerlik is en die opdragte van die HERE nakom. Wees daarom ‘n eerlike weegskaal wat die gewig korrek weergee!

Dit gaan jou moontlik duur te staan kom, maar om met ‘n skoon lewe voor die HERE te kan staan gaan tog baie meer werd wees, dan nie?

Daar sal altyd ander pogings wees van satan om jou te laat val, want satan gebruik jou swakhede teen jou. Jou beste verdediging is om op die pad te bly wat die HERE vir jou aangewys het. Moenie afdraai in die sy paadjies nie. Ken jou tekortkominge en waak teen aanvalle van satan op jou swak plekke.

Prys die Naam van die HERE!

image_pdfLaai afimage_printDruk