Verlossing van Sonde en ‘n Rein Lewe

Vir ons as mens om op ons eie ‘n skoon en rein lewe te lei is haas onmoontlik as gevolg van ons swakheid en sondige natuur. Volgens Jesaja 64:6 is al ons “geregtighede” met ander woorde ons beste pogings, soos ‘n besoedelde kleed!

Hoe gaan ons dan skoon kom? Efesiërs 5:25-27 leer vir ons: [25] … soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het [26] om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, [27] sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees.” In Openbaring 7:14 lees ons van Christene wat tot bekering gekom het: “…hulle het hul klere gewas en hul klere wit gemaak in die bloed van die Lam.” Die antwoord oor hoe ons onsself gaan reinig van sonde is dus deur die bloed van Jesus soos Johannes ook in 1 Johannes 1:7 van skryf: “…en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.”

Nou dat ons gereinig is, berus die verpligting op ons om rein te bly! Ons moet sorg dat ons deurentyd onder die bloed bly en nie moedswillig sonde doen nie, maar ons moet dit met die hulp van die Here doen. Sonder Jesus se hulp, gaan dit onmoontlik wees om rein te bly.

Die grootste blokkasie in ons as Christene se lewens en die hoof rede waarom ons so struikel en sukkel om ons kleed wit te hou is as gevolg van on gekruisigde vlees. Die vlees word net in beginsel gekruisig wanneer ‘n mens gered word, maar as ons nie gaan afstand doen van die swakhede in ons lewens nie, gaan ons bly val oor dieselfde klippe! In Galasiërs 5:16 lees ons: “MAAR ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie;”

Ek gaan julle iets uit my persoonlike ondervinding vertel. Soos baie Christene het ek gesmeek en gepleit dat die Here my moet verlos van dinge wat Hom nie behaag nie. Vir ‘n rukkie het dit goed gegaan, maar dan kom satan en voor ek mooi weet wat aangaan is ek weer terug in die modder! Dan is dit maar weer smeek om genade. Dit het later vir my gevoel soos ‘n tou trek kompetisie! Uit die modder, in die modder, uit die modder, in die modder, sonder ophou! Een dag het satan my weer versoek. Ek het eers op my eie stoom weerstand probeer bied, maar dit het niks gehelp nie. Ek het by Jesus gaan smeek om verlossing. Ek het gevoel hoe ek al hoe nader aan die modder kom en dit is waar ek nie wou wees nie! Dis toe dat die beeld van Jesus teen die kruis by my opkom. Ek het eers nie verstaan nie, maar toe verstaan ek wat die Here vir my wou sê! Ek het vir satan geroep: “Haai, skurwe voete! Kyk hier!” In my geestesoog het ek dit waarmee hy my so versoek gevat, dit teen Jesus se kruis vasgedruk en met ‘n spyker vas gekap! “kap-kap-kap-kap” Dit was die laaste keer wat ek so versoek was! Sekelstert probeer so nou en dan weer om my te versoek, maar dan wys ek hom die vasgespykerde vlees en dan los hy my uit!

Ek kan die Here nie genoeg prys vir daardie openbaring nie! Dit, liewe leser is wat Jesus wil hê ons moet doen! Die oorwinning is daar, maar ons moet van die hulpmiddels wat Jesus ons gegee het gebruik maak om ons die doel te bereik!

Daarom, was jou klere elke dag in Jesus bloed deur elke dag te bid vir vergifnis van sonde. Niemand weet wanneer Jesus ons gaan kom haal nie, maar te oordeel aan dit wat in die wêreld besig is om te gebeur, kan dit nie meer lank wees nie. Sorg dus sat u klere ten alle tye skoon is!

Salomo leer in Prediker 9:8 vir ons: “Laat jou klere altyd wit wees, en laat olie op jou hoof nie ontbreek nie.” Die olie waarvan gepraat word is die Heilige Gees. Bly heeltyd onder die bewaring van die Heilige Gees. Moenie dat u soos die vyf diensmeisies gevang word met te min olie nie!

Prys die Naam van Jesus!

(Visited 173 times, 1 visits today)