HERE, Koning, wees ons arme sondaars genadig! Ek wil bid en vra dat almal wat hierdie boodskap lees se ore sal oopgaan en hulle sal verstaan. Die tyd is min, so baie min! Amen!
Julle moet my maar verskoon as ek myself die laaste ruk baie herhaal. Hierdie boodskap word vreeslik op my hart gelê, want glo dit of nie, daar is nog steeds mense wat dink dat hulle gereed is as die HERE gaan kom om ons te haal…
Op hierdie oomblik word ons as Kinders van die HERE getoets om ons waardigheid te bepaal. Om afskeid te neem van sonde behoort enige een van ons se nommer een prioriteit te wees. Paulus sê dat om dit reg te kry geen maklike taak is nie, want die gees begeer geestelike dinge en die vlees begeer vleeslike dinge. (Galasiërs 5:16-17) Jy gaan dus ‘n oorlog teen jouself gewikkel gaan wees soos jy gaan keer dat die vlees nie die oorhand moet kry nie.
Of jy slaag of nie slaag nie, dis nie belangrik nie. Wat wel belangrik is, is dat jy ‘n poging aanwend! Soos ek reeds aan julle gesê het, die poging wat jy aanwend is meer werd as enige iets anders, want jy probeer! Jy lê nie in die stof en laat Gods water oor Gods akker loop nie! Hou dus aan met probeer en as jy vaal, gaan na die HERE en vra vergifnis; dan probeer ons weer!
Onthou: Jesus het gesê dat baie geroep is, maar dat min uitverkies is! (Mattheus 22:14) Onthou dat naasteliefde die sleutel tot sukses is! As jy jou naaste nie lief het nie, kan jy die wegraping nie meemaak nie! Dis so maklik! Jy sal nog steeds Hemel toe gaan as jy sterf, maar om die wegraping mee te maak, moet jy jou naaste lief hê! Dis soos Paulus gesê het: sonder liefde is jy ‘n klinkende metaal of ‘n luidende simbaal! (1 Korintiërs 13:1) Ek kan dit nie meer beklemtoon nie!
Wat beteken dit? Doen goed aan jou naaste; wees lief vir die wat jou haat; vergewe ander hulle skulde net soos die HERE ons tekortkominge ook vergewe! Verstaan julle! Hierdie is dinge wat jou waardig gaan maak om die bruilofsfees van die Lam by te woon!
Soos ek gesê het, word ons waardigheid getoets. Satan is slinks! Pasop vir hom! Hy gaan probeer om jou te laat val, maar soos al sy beloftes, is dit leeg en sonder enige betekenis! Gaan kyk maar net na die wêreld vandag en julle sal baie voorbeelde sien!
“Lady Gaga” het haar siel aan satan verkoop. Sy het fenomenale sukses gehad vir ‘n kort rukkie; die wêreld was aan haar voete… Waar is sy nou? ‘n Vergete sterretjie; dof en uitgebrand.
Kyk maar na die wat mag en erkenning soek. Hulle kry dit, maar wat is die prys om daar bo te wees? Eensaamheid op ‘n vlak wat jy vir niemand kan beskryf nie. Dis waarom so baie bekendes hulle vergryp aan dank en dwelms! Hulle sal enige iets doen om daardie eensaamheid te breek, selfs beteken dit dat mense nie gaan hou van wat hulle sien nie.
Dis wat satan doen! Hy belowe jou die wêreld en jy kry dit, maar kyk net teen watter prys! Wat satan nie vir jou vertel nie is dat hy nooit sy mag deel nie. Alles wat hy jou belowe is net tydelik; dan vat hy meer as wat hom toekom! Dan kom jy agter dat die ooreenkoms wat jy gemaak het nie die papier werd is waarop dit geskryf is nie! Liewe Kinders van die HERE, PAS TOG OP!
In teendeel is die beloftes wat die HERE maak blywend en as dit HERE vir jou iets gee, dan is dit permanent! Hy vat nie dit wat Hy vir jou gee ‘n rukkie later terug nie! Is dit dan nie beter om eerder die regte pad te loop nie? Die beloning is tog soveel beter!
Kom ons kyk wat sê Petrus in 1 Petrus 2:11-12 vir ons: “[11] Geliefdes, ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge om julle te onthou van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel; [12] en hou julle lewenswandel onder die heidene skoon, sodat as hulle van julle kwaad spreek soos van kwaaddoeners, hulle op grond van die goeie werke wat hulle aanskou, God kan verheerlik in die dag van besoeking.”
Beter kan ek dit nie self stel nie! Prys die Naam van Jesus!