Vloeke en opdragte teen alle Christene

Vandag ‘n les uit die klaskamer van Jesus; mag dit inslag vind almal se harte sodat ons ten volle toegerus is as die vyand ons wil aanval.

Ons almal se humeure raak maar kort een of ander tyd. Myne kom wanneer iemand iets van my wegvat waarmee ek besig is. Alhoewel my woede geregverdig is; is dit nie reg nie, want op daardie oomblik oordeel ek my naaste. Jesus roep ons egter tot geduld en broederlike liefde ongeag die omstandighede. Ons is in ‘n konstante oorlog gewikkel, nie teen vlees en bloed nie, maar teen die bose magte in die lug. (Efesiërs 6:12)

Jesus waarsku ons dat die aanvalle teen ons meer gaan word. Die oplossing is nie om te sit en die storm uit te wag en te hoop op beter dae nie. Nee, die oplossing is om outoriteit oor die situasie te vat en die demoniese sade van bitterheid wat in ons harte geplant word uit te trek voor dit wortel skiet.

Sommige mense dink dat vloeke nie op Christene kan land nie, maar dis nie my ondervinding nie. Ek probeer ‘n pad van vrede en liefde loop, maar ek kan nog steeds in die vlees reageer op invloede van buite. Vloeke word elke dag op ons afgegooi en hulle hang in die lug totdat ons in ‘n oomblik van vleeslike swakheid ‘n opening maak vir hulle om ingang te vind. Kom ons sê ek word kwaad, dan laat ek daardie demoon van woede toe om ‘n saadjie van bitterheid in my hart te saai. Daardie saadjie sal baie vinnig en baie groot groei tensy ek ‘n plan daarmee maak. Dus, as jy gevloek word met woede en jaloesie, sal daardie vloek in die lug bly hang totdat jy jaloers of kwaad raak.

Mens raak ook eers bewus van hierdie gevoelens van bitterheid, jaloesie en kwaad, ‘n dag of meer later. Teen daardie tyd het die saad al wortel geskiet in jou hart. Soos ek dit verstaan, moet jy die oomblik wat jy kwaad of jaloers raak, dit onmiddellik by Jesus bely, want ‘n dag later is te laat. Daarna gaan jy ‘n ander tipe gebed nodig hê om daardie saad van bitterheid en jaloesie te verwyder.

So word die vloek gestuur en jy word kwaad en die saadjie word geplant. En die saadjie was besoedel met demone van oordeel, woede, ongeduld, frustrasie en bitterheid en dit het alles wortel geskiet. Erger nog was dat die deur oopgemaak was vir nog baie meer gemene dinge om ingang te vind. Jy word aan dit alles oorgelewer en skielik is jou hart ‘n slagveld!

Bogenoemde is net ‘n voorbeeld, maar dis ‘n voorsmakie van wat gaan gebeur soos ons nader aan die einde kom. Ons gaan getoets word! Elkeen van ons! Die deure wat ons almal gereeld oopmaak is die van weier om te verstaan, gebrek aan naasteliefde, gebrek aan geduld en ‘n gebrek aan menslikheid.

Ons voer satan en sy demone deur hierdie swak punte in ons lewens, maar dank aan Jesus vir die lesse om hierdie gewoontes te breek en dank aan Jesus dat Hy satan toelaat om dit te doen, want die vyand is besig om ons opleiding te gee! Gratis soos in verniet!

Onmiddellik as jy hierdie gevoelens kry, werp dit onmiddellik van jou af en bid Jesus se vergifnis oor jou af. Vra Jesus om die deur te sluit en die demoon en die saad te verwyder voor dit tyd het om te groei. Moet ook nie vergeet om te bid vir die persoon wat jou kwaad gemaak het ook nie, want om te bid vir jou vyand is ‘n baie kragtige gebed.

Op jou knieë, smekend om vergifnis is die beste plek om te wees. Vra die Heilige Gees om alles wat gemeen is te verwyder en glo dan dat dit gedoen sal word. Jesus wil ook nie hê dat jy hierdie dodelike gif saam met jou dra nie, want Hy het jou lief en HY sal jou help.

Kom ons kyk wat sê die Bybel in Mattheus 12:43-45: [43] En wanneer die onreine gees uit die mens uitgegaan het, gaan hy deur waterlose plekke en soek rus en vind dit nie. [44] Dan sê hy: Ek sal teruggaan na my huis waar ek uitgegaan het. En hy kom en vind dit leeg, uitgeveeg en versier. [45] Dan gaan hy en neem sewe ander geeste slegter as hy self met hom saam, en hulle kom in en woon daar; en die laaste van daardie mens word erger as die eerste. Só sal dit ook wees met hierdie bose geslag.”

Let op hoe Jesus gesê het “Só sal dit ook wees met hierdie bose geslag.” Hy het nie gesê dat dit so sal wees met iemand wat vergifnis vra nie, want hulle sal vry wees, gevul met Sy Gees sodat niks terug kan kom nie!

Ons mag dalk nie perfek in vlees wees nie, maar as ons harte gestel is op perfektheid, dan behoort ons absoluut aan Jesus!

Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën!

(Visited 393 times, 1 visits today)
Tagged , , , , .