Wat sê die Bybel; moet ons as Kinders van God ons land se wette of as ons in ‘n vreemde land is, die se wette gehoorsaam wees of nie?
Paulus skryf die die volgende in Romeine 13:1-3, “[1] LAAT elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel, [2] sodat hy wat hom teen die mag versit, die instelling van God weerstaan; en die wat dit weerstaan, sal hulle oordeel ontvang.”
Hierdie gedeelte maak dit baie duidelik dat ons die regering wat God oor ons aangestel het gehoorsaam moet wees. Daar word geen onderskeid getref tussen watter regering dit is nie; dus kan dit ons eie land se regering wees of ‘n vreemde land se regering wat ons net besoek.
Ons moet weet dat God regerings daargestel het om orde te handhaaf, misdaad te straf, en geregtigheid te bevorder. Ons moet daarom die regering in alles gehoorsaam wees—belastings betaal, reëls en wette gehoorsaam, en respek betoon. As ons dit nie doen nie, is ons inderdaad oneerbiedig teenoor God, want Hy is die Een wat hierdie regering aangestel het en bekragtig het.
Ek weet maar net te goed dat ons nie altyd met die regering saamstem nie; ek ook nie en is glad nie skaam om my misnoeë uit te spreek daaroor nie, maar ongeag hoe ek daaroor voel, dit is mense wat deur God aangestel en bekragtig is en as ek nie doen soos wat daar van my verwag word nie, dan staan ek die aanstelling van God tee.
Hier om die interessante gedeelte: Tydens Paulus se skrywe aan die Romeine, was hy onder die regering van Rome tydens Nero se bewind. Nero was by uitstek seker die mees goddeloosste van al die Romeinse keisers, maar ten spyte daarvan het Paulus nog steeds die Romeinse regering se gesag oor hom erken. Hoe kan ons dan anders maak?
Die volgende vraag is “Is daar ‘n tyd wanneer ons opsetlik nie aan die wette van die land ongehoorsaam hoef te wees nie?” Die antwoord hierop vind ons in Handelinge 5:27-29 “[27] Hulle het hul dan gebring en voor die Raad gestel; en die hoëpriester het hulle gevra en gesê: [28] Het ons julle nie uitdruklik verbied om in dié Naam te leer nie? En kyk, julle het Jerusalem met julle leer vervul; en julle wil die bloed van hierdie Man op ons bring. [29] En Petrus en die apostels antwoord en sê: Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.”
Hieruit blyk dit duidelik dat solank as die landswette nie God se gebooie weerspreek nie, ons daartoe verbind is om die landswette te gehoorsaam. Sodra die landswette God se gebooie weerspreek, moet ons die landswette ongehoorsaam wees en God se gebooie gehoorsaam. Maar selfs dan moet ons die regering se heerskappy oor ons erken.
Om dus op te som: As Christene is ons verplig om aan die landswette gehoorsaam te wees net soos ons aan God gehoorsaam is, want Sy gesag word uitgebeeld in die wette van die land. Ons mag dalk nie altyd met die politieke leiers van die tyd saam stem nie, maar die Bybel sê baie duidelik dat God die regering aangestel het en dat ons respek moet toon. Ek besef dat hierdie laaste sin waarskynlik vir baie ‘n bitter pil is om te sluk, maar doen ons dit nie, dan is ons oneerbiedig teenoor God.
Dus is ons verplig om belastings te betaal en is ons ook verplig om tol geld te betaal, want dis hoe God dit van ons verwag as voorbeeldige ambassadeurs van Hom. As Kinders van God is die oë van die wêreld die hele tyd op ons en word ons verplig om ‘n voorbeeld te stel. Ons moet pasop wat ons sê en hoe ons optree, want hierdeur word ons deur die wêreld beoordeel; deur ons optrede. Tree dus altyd onberispelik op sodat daar nooit ‘n vinger na jou Christenskap gewys kan word nie.
Mag die HERE hierdie boodskap aan almal wat dit lees se harte seën!