Wag geduldig op die HERE

Die Gees wys vir my dat daar vreeslike ongeduld in die liggaam van die HERE is oor wanneer Hy gaan kom.

Jesus weet hoe moeg julle is; moeg van die hele tyd baklei; moeg van sukkel; moeg van die verdrukkinge en moeg om soos ‘n bywoner behandel te word. Jesus weet alles, liewe leser! Hy voel wat jy voel en Hy ken jou ongelukkigheid, maar jy moenie toelaat dat satan jou moedeloos maak nie! Dis wat satan die graagste wil doen. Hy wil jou moedeloos het sodat jy soos Job op sak en as moet gaan sit; jou situasie moet betreur en God moet bevraagteken! Moet hom nie daardie satisfaksie gee nie!

Paulus sê vir ons in Romeine 5:33-5 “En nie alleen dit nie, maar ons roem ook in die verdrukkinge, omdat ons weet dat die verdrukking lydsaamheid werk, en die lydsaamheid beproefdheid en die beproefdheid hoop; en die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is.”

Jy moet weet, liewe leser, dat niks op hierdie aarde vir ewig aanhou nie. Satan gaan jou nie vir ewig kan versoek nie en hy weet dit. Hy weet ook dat sy tyd naby is en dat hy daarna nooit weer die kans gaan kan kry om jou te versoek nie. Dis waarom hy nou alles uithaal en dis waarom jy nou so voel asof die hele wêreld teen jou is. Maar dis ook ‘n leuen, want die hele wêreld is nie teen jou nie. Dis maar net een van satan se baie goed gekonstrueerde leuens om jou moedeloos te kry!

Soos Paulus in Romeine 5:1-2 sê “Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus; deur wie ons ook deur die geloof die toegang verkry het tot hierdie genade waarin ons staan; en ons roem in die hoop op die heerlikheid van God.”

Beter kan ek dit nie stel nie! Ons is geregverdig deur die geloof in Jesus Christus en deur hierdie geloof van ons, het ons genade by God die Vader en kan ons roem daarop!

Roem daarom in jou verdrukkinge! Wys vir satan dat hy nie gaan wen nie! Maak hom so ‘n bietjie kwaad, want wie is hy dat hy dit durf waag om ‘n bloed gewaste Kind van God te versoek!

Jesus gaan kom om ons te kom haal, maar op Sy perfekte tyd. Soos ek voorheen vir julle gesê het, God is nooit laat nie en Hy is ook nooit vroeg nie. God se tydsberekening is altyd perfek! Die dag wat die HERE gaan kom gaan ‘n dag wees soos geen ander nie, want dit gaan die mees perfekte tyd daarvoor wees. Daarop kan julle bank! God se tyd is nie ons tyd nie, maar aan die einde van die dag, is al die wag en al die geloof so die moeite werd! Prys die Heilige Naam van die HERE!

Mag die HERE hierdie boodskap seën aan julle harte!

(Visited 219 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , .