Die Gees van die HERE het aan my ‘n waarskuwing gegee om aan julle te bring en die waarskuwing is om nie te begin slap lê nie.
Die gedeelte wat ek gekry het was in Amos 3. Julle kan dit self gaan lees. In kort gaan dit oor ‘n waarskuwing wat aan die volk van Israel gerig word dat die HERE hulle gaan besoek oor al hulle ongeregtighede. Alhoewel hierdie gedeelte oor die Israeliete uitgespreek was, kon ek dit nie help om te besef hoe hierdie gedeelte op vandag se lewe ook van toepassing is nie. Net soos die HERE vir Israel besoek het en toegelaat het dat die volk weggevoer word in ballingskap, net so gaan die HERE hierdie aarde binnekort besoek oor al sy ongeregtighede.
Amos skryf verder dat twee mense nie sal saamloop as hulle nie eers vooraf afgespreek het om dit te doen nie. ‘n Leeu sal ook nie in die woud brul as dit nie ‘n prooi gevang het nie en ‘n voël sal ook nie op die grond val as daar geen wip daarvoor gestel was nie. Net so sal geen onheil ‘n stad tref as dit nie die Wil van die HERE is nie. In die afgelope paar jaar is daar al verskeie waarskuwings uitgestuur oor hierdie wêreld om tot bekering te kom, maar hierdie waarskuwings val op dowe ore! Deur Amos se hand, bevestig die HERE in vers 7 dat Hy niks doen voor Hy dit nie eers aan sy knegte, die profete bekend gemaak het nie! Jesus waarsku hierdie wêreld al ‘n geruime tyd en Hy het op soortgelyke manier ook al bekend gemaak presies wat gaan gebeur. Die leeu het dus gebrul en die HERE het gespreek, maar niemand vrees nie!
Hef daarom nou jou oë op en kyk na die verdrukking waarin die wêreld tans is. Die hoë pryse, hongersnood, pessiektes, droogtes en nog baie meer met geen einde in sig nie. Die wêreld weet nie meer hoe om reg te doen nie en daarom gaan die oordeel binnekort kom! Amos skryf in vers 12 dat net soos ‘n herder ‘n lam uit die bek van ‘n leeu red, so sal ons wat die Naam van die HERE vrees ook gered word. Die HERE het ons nie ‘n gees van vrees gegee nie en daarom het ons geen vrees oor wat nou oor die aarde kom nie. God se oordeel kom ons wat Sy Naam vrees nie toe nie! Prys Sy Naam!
Waarsku die mense, selfs al word jy uitgelag. Dis nie vir jou wat hulle verwerp nie, maar vir God. Jou waarskuwings dien as ‘n getuienis teen die wat nie luister nie. Hulle sal jou woorde na die tyd onthou en dan wens dat hulle geluister het. Moet daarom nie bekommerd wees as daar vir jou gelag word nie.
Een van my mede broers in die bediening het so ‘n kosbare gedeelte geskryf wat ek graag hier wil aanhaal. Dit gaan oor die simptome wat ons op moet let en nie moet afmaak as niksseggend nie.
- Wees versigtig wanneer daaglikse gebed vir jou ‘n moeilike ding begin word om elke dag te doen.
- Wees versigtig wanneer vas iets geword het wat volgens jou in die verlede behoort.
- Wees versigtig wanneer dit nie meer loutere plesier word om die Woord van die God elke dag te lees nie.
- Wees versigtig wanneer ‘n lewe van heiligheid vir jou soos ekstremisme begin lyk.
- Wees versigtig wanneer in die naam van “GENADE”, ‘n heidense lewe jou leefstyl word.
- Wees versigtig wanneer jy honger en dors na dinge wat God nie verheerlik nie.
- Wees versigtig wanneer jy in die nag wakker word om te bid en dit vir jou meer soos ‘n nagmerrie lyk wat jy gehad het.
- Wees versigtig wanneer jy nie meer begeer om die Here Jesus eendag persoonlik te sien nie.
- Wees versigtig wanneer jy begin wens dat die wegraping nog langer uitgestel kan word.
- Wees versigtig wanneer jy meer eet as wat jy bid.
- Wees versigtig wanneer jy nie meer die Woord van God met ander deel nie.
- Wees versigtig wanneer jy begin om die Woord van God te verkondig terwyl jy probeer om almal tevrede te stel.
- Wees versigtig wanneer jy besef dat al jou vriende ongelowiges is of geestelik swakker as jy is.
- Wees versigtig wanneer jy meer en meer tyd spandeer op sosiale media sonder goeie rede! Hierdie afgode sal die plek van God in jou lewe inneem en jy sal geestelik koud word.
- Wees versigtig vir al hierdie dinge, want Satan rus glad nie. Daarom moet ons ook waaksaam wees.
Kom ons berei onsself voor want Jesus kom binnekort terug vir ‘n Gees vervulde Bruid wat gretig op Hom wag! Die tyd is min liewe lewers; bly waaksaam en moenie verslap nie. As jy oortree en jy gaan oortree, want ons is almal mense, gaan dan dadelik terug na Jesus toe sodat jy gereinig kan word! Moenie satan se leuens glo dat Jesus vir jou kwaad is nie. Hy is nie! Hy wil net nie hê dat jy verlore gaan nie.
Mag die HERE hierdie woord aan julle harte seën!