Iemand het ‘n video op ons Watsapp Groep gepos met hierdie titel en dit het my so laat dink aan my eie ondervinding en die pad wat ek saam met Jesus loop.
God se tydsberekening is perfek en dis so waar! Hy is nooit laat nie en Hy is nooit vroeg nie. Gaan dink ‘n bietjie na alles wat al met u gebeur het in u lewe en vergelyk dit dan met God se tydsberekening om dit te laat gebeur en julle sal sien wat ek bedoel: presies op die regte tyd! Net so gaan die wegraping ook op God se perfekte tyd plaasvind en nie wanneer ons wil nie! Prys Sy Naam!
God se tydsberekening in ons lewens vat ‘n klein bietjie geduld, maar baie geloof! Amen! Amen! Amen! God se tyd is nie ons tyd nie, maar aan die einde van die dag, is al die wag en al die geloof so die moeite werd! Prys die Heilige Naam van die HERE!
God se plan is altyd die beste, selfs al is die proses waardeur ons moet gaan moeilik en pynlik. As God die dag stil raak in ons lewens, dan dink ons dat God ons verlaat het, maar dis nie so nie. God is maar net besig om iets spesiaal vir ons te doen en dis waarom Hy stil is.
Soms sluit God ‘n deur in ons lewens omdat dit tyd is om aan te beweeg. God weet dat jy nie vorentoe sal beweeg tensy omstandighede jou forseer om dit te doen nie en dis waarom Hy daardie deur sluit.
God antwoord gebed in een van drie maniere: Ja, jy verdien dit; Nee, want jy verdien beter en Nie nou al nie, want die tyd is nog nie reg daarvoor nie.
As ek nou hierdie boodskap vat en dit vergelyk met my eie lewe, dan sien ek oral hoe God sê: Ja, jy verdien dit of nee, want jy verdien beter of nie nou al nie, want dit tyd is nog nie reg nie. Ek sien ook hoe God sekere deure in my lewe gesluit het en gesluit gehou het sodat ek moet aan beweeg. Ek weet daar is van julle wat ook hierdie dinge in julle lewens sien en ek is seker dat julle net so baie getuienisse het om daaroor te lewer net soos ek!
As God nie deure in my lewe gesluit het en dit gesluit gehou het nie, dan sou ek nooit vandag hier gewees het om julle met hierdie boodskap te kon voed nie. Vandag weet ek dat dit wat alles met my gebeur het deel van God se plan was, selfs al het ek baie dae soos ‘n stout kind geskop, geskree en geslaan.
Dien ons nie ‘n wonderlike God nie? Is dit nie liefde so groot dat ons nie ons arms daarom kan sit nie? Prys die Naam van die HERE in die Hoogste Hemele, want Hy weet wat die beste is! Prys Sy Naam!
Mag die HERE hierdie boodskap dubbeld seën!