Nadat Jesus die antichris en sy volgelinge verslaan het by die Slag van Armageddon en satan gebind gaan word vir ‘n duisend jaar lank, gaan die Een Duisend Jaar Vrederyk begin.
Daar gaan na al hierdie dinge mense wees wat nie die merk van die Dier ontvang het nie en nog steeds lewe. Die meeste van hulle gaan Christene wees wat gered was gedurende die verdrukking, maar weggekruip het sodat hulle nie deur die wêreldmag gevind kon word nie. Buiten hierdie mense, gaan daar volgens Sagaria 14:16-17 ook mense wees wat nie Christene is nie, maar ook nie die merk ontvang het nie. Hulle gaan die oordeel van die skape en die bokke gespaar bly soos in Mattheus 25:31-46 beskryf. Uit hierdie twee groepe mense gaan die wêreld se bevolking volgens Jesaja 27:6 weer opgebou word totdat dit weer so baie gaan wees soos vandag, maar hierdie mense gaan sterflik wees omdat almal op hierdie wêreld ongered gebore word en eers gered moet word om werklik aan God te behoort.
Jerusalem gaan spontaan erken word as die hoofstad van die wêreld en volgens Jesaja 2:2-4, Jesaja 24:23 en Sagaria 8:22 gaan dit die ontmoetingspunt tussen Hemel en Aarde wees. Jerusalem gaan ook die sentrum van goddelike wysheid, gesag en geregtigheid wees.
Gedurende hierdie Duisend jaar Vrederyk sal mense hoë ouderdomme bereik as hulle gered is en God as verlosser aanvaar het. Iemand wat nie gered word voor hy ‘n 100 jaar oud bereik nie, sal op 100 jarige leeftyd met die vloek getref word en sterf. Enige iemand wat onder ‘n 100 jaar oud is, sal in daardie dae as ‘n kind beskou word. (Jesaja 65:20-23)
Die natuur, wat as gevolg van die sondeval aan die nietigheid onderworpe is, sal volgens Romeine 8:19-22 en Jes. 41:18-20 herstel word. Harmonie sal in die diereryk heers, omdat die Here ‘n nuwe verbond met alle diere sal sluit en die diere sal die mens nie meer vrees soos nou nie.
Die Duisend Jaar Vrederyk gaan volgens Amos 9:13-14 en Joël 3:18 ‘n tyd van ekonomiese voorspoed wees. Daar sal ten volle ontwikkelde, ekonomies voorspoedige gemeenskappe wees (Jesaja 65:21-23) en dit sal ‘n tyd van seën, oorvloed, blydskap in die Here en vrede op aarde wees. Israel sal dan sy volle potensiaal as volk van God vervul en ‘n nasie wees waardeur die Here die hele aarde sal seën.
In Openbaring 20:1-3 lees ons dat satan van die begin van die Duisend Jaar Vrederyk gebind gaan word en daarby nie by magte gaan wees om die mense te versoek nie. Dit gaan egter nie beteken dat die mens oornag gaan verander in iets beter nie. Misdade soos diefstal, roof en verskillende vorms van gierigheid sal nog steeds voorkom omdat die mens ten spyte van satan se afwesigheid nog steeds ‘n sondige natuur het wat net na sy eie belange wil omsien.
In Openbaring 12:5 en in Openbaring 19:15 word gesê dat Christus die nasies gedurende die Duisend jaar Vrederyk met ‘n ystersepter sal regeer. In hierdie toekomstige koninkryk sal Jesus se getroue diensknegte, die wat voor die verdrukking weggeraap was, saam met Hom as konings regeer (Openbaring 2:25-27 en Openbaring 5:9-10).
Om dissipline toe te pas gaan die rol van die regters wees. Die regters gaan Christene wees wat na die wegraping gered gaan word, maar omdat hulle geweier het om die Antichris se merk te aanvaar of sy beeld te aanbid gaan hulle gedurende die verdrukking gedood word. Omdat hulle bereid was om vir God te sterf gaan hulle as regters aangestel word om die mense te oordeel. In Openbaring 20:4 lees ons dat hierdie mense saam met Christus op aarde gaan regeer vir die volle duisend jaar lank.
Volgens Jesaja 11:9, gaan slegs die Christelike Godsdiens erken word en aangehang word. Om die ongeredde mense te evangeliseer, sal die taak van die geredde Israel wees. Hulle sal die evangelie na alle nasies uitdra, maar volgens Openbaring 20 is dit duidelik dat daar gaandeweg al hoe minder mense van die opkomende geslagte gered sal word.
Aan die einde van die Duisend Jaar Vrederyk sal satan vir ‘n kort tydjie losgelaat word om die mense te versoek. Die wat nog nie gered is nie sal volgens Openbaring 20:7-9 dadelik in sy mag val. Die Bybel sê vir ons dat hulle in opstand gaan kom teen God en die heilige stad Jerusalem gaan omsingel en dat hulle so baie gaan wees soos die sand van die see. God gaan hulle egter met vuur uit die hemel vernietig. Hulle gaan saam met satan in die poel van vuur gewerp word saam met die wêreld leier en sy vals profeet.
Hierna sê die Bybel vir ons gaan die finale oordeel kom. Almal wat op aarde gesterf het en nie die HERE aangeneem het as Saligmaker nie, sal uit die dood opstaan om vir een laaste keer geoordeel te word volgens hulle werke. (Openbaring 20:12) Almal wie se name nie in die Boek van die Lewe geskryf was nie, was in die poel wat brand met vuur en swael gegooi. Dit sal die tweede dood wees; ‘n ewigheid sonder God.
Daarna gaan God alles nuut maak. (Openbaring 21:5) Die eerste Aarde en die eerste Hemel sal daar nie meer wees nie en ook nie enige see meer nie. Die Nuwe Jerusalem sal uit die Hemel neerdaal en weer die hoofstad van die wêreld wees. Die tabernakel van God sal in Jerusalem wees en God sal tussen ons woon. Die dood sal daar nie meer wees nie; ook geen droefheid nie en niks sal meer enige moeite wees om te doen nie, want hierdie dinge sal alles verby wees.
Liewe lesers, hierdie is voorwaar iets om na uit te sien! Dit maak die swaarkry wat ons nou beleef so die moeite werd! Jesus se woorde dat die smarte net aanhou tot die baba gebore is en daarna dink niemand meer daaraan nie, want almal is dan bly oor die nuwe baba wat gebore is. Is hierdie woorde nie waar nie, liewe Kind van God! Dis waarom ek vir julle sê: hou aan en hou uit! Hierdie tyd gaan nie vir altyd aanhou nie! Prys die Naam van Jesus!