Ek let die laaste ruk op hoe die HERE ons lei om ons vrese te oorwin en hoe om sterk en vasberade te staan vir dit wat reg is!
Daar is baie dinge wat op hierdie oomblik in die wêreld gebeur wat ons bekommerd maak, maar soos Jesus gesê het moet ons opkyk as ons hierdie dinge sien gebeur, want ons tyd het naby gekom! Prys Sy Naam!
Iemand het eenslag gesê dat as die uitdaging voor jou jou nie bang maak nie, dan is die uitdaging nie groot genoeg nie! Baie waar woorde daardie! Ek kan julle verseker dat Josua na Moses se dood net so moes gevoel het. Na Moses se dood het die Israeliete se swerftog van 40 jaar deur die woestyn tot ‘n einde gekom en het die leierskap van die volk op die skouers van Josua geval om hulle in die Beloofde Land in te lei. Stel jou net voor om skielik in beheer geplaas te word van oor ‘n miljoen mense! Dit sal tot vir my bang maak!
Dis waarom die HERE met Josua gepraat het en die volgende vir hom gesê het: “Het Ek jou nie beveel nie: Wees sterk en vol moed, wees nie bevrees of verskrik nie; want die HERE jou God is met jou, oral waar jy heengaan.” (Josua 1:9)
Vandag sê Jesus vir jou, liewe lesers, presies dieselfde: Wees sterk, wees vol moed en moenie bevrees of verskrik wees nie, want Ek is met jou!
Slegte dinge moet oor hierdie aarde kom terwille van die ongeredde en voor ons weggevat gaan word, want Jesus probeer desperaat om hulle aandag te trek voor die antichris gaan kom. Jesus het vir jou, liewe leser, nodig. Hy soek mense wat wil sterk staan, vol moed is en nie bang is nie, want as die wêreld sy kop verloor, dan moet ons die bakens van hoop wees wat staande gaan bly. Die stuurmanne wat die stuur van oorvat om die skip deur die storm te kry. Verstaan julle wat ek bedoel?
Terwyl almal hulle koppe verloor, gaan ons die leiers wees wat dinge aanmekaar gaan hou en mense na Jesus toe gaan lei. Ons kan nie bekostig om bang te word en te twyfel nie. Daarom, gryp die kleed van die HERE vas, liewe lesers en vertrou op God soos ‘n kind sy pa vertrou, want Pappa Jesus weet wat Hy doen!
Ek gaan afsluit met die volgende waar woorde: Die wat hulle vertroue in die HERE gesit het sal nie teleurgestel word nie, want net soos die berg Sion wat nie beweeg word nie, maar bly vir ewig staan, so sal jou vertroue in die HERE ook wees! Soos die berge om Jerusalem staan, so sal Jesus ook om die staan wat Syne is van nou af tot in ewigheid staan. Weet dat niks met jou sal gebeur sonder die Wil van die Vader nie. Prys die Naam van Jesus!
Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën!
