Water en Gees

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

In Johannes 3 lees ons hoe Nikodémus, ‘n Fariseër en ‘n owerste van die Jode in die nag na Jesus gekom het en hoe Jesus hom geleer het oor die wedergeboorte.

Vir iemand soos Nikodémus was die wedergeboorte ‘n vreemde konsep en het hy dit aanvanklik nie verstaan nie. Hy het aanvanklik gedink dat Jesus van ‘n fisiese geboorte praat, maar dit was nie die geval nie.

Almal van ons as ons tot bekering kom nadat ons besef het dat ons sondaars is wat onsself nie kan red nie, berou het oor ons sonde en daarna die besluit neem om ‘n omkeer te maak, word deur die Gees gebore tot ‘n nuwe wese. Daarna volg ons Jesus se voorbeeld deur ons te laat doop sodat ons die Heilige Gees kan ontvang.

Interessant is Jesus se woorde in Johannes 3:5 “Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie.” Die bekering, die doop en die ontvang van die Heilige Gees is dus ‘n integrale deel van die bekering. Mens kan sê dis soos ‘n perd, ‘n saal en ‘n ruiter. Op hulle eie kan hierdie drie dinge niks maak nie. Die ruiter moet op die perd klim en daar moet ‘n saal op die perd wees. Jy kan ‘n perd ry sonder ‘n saal, maar dit gaan maar ‘n seer affêre wees! (Nie vir die perd nie!)

In die volgende verse, ses, sewe en agt, verduidelik Jesus dat daar altyd ‘n skeiding sal wees tussen die wat uit die Gees gebore is en die wat uit die vlees gebore is, want hulle sal mekaar nooit verstaan nie. Die wat uit die Gees gebore is, sal vir die wat uit die vlees gebore is, altyd wees soos die wind wat waai. Jy hoor en jy voel die wind, maar jy weet nie waarvandaan dit kom of waarheen dit op pad is nie. Nou weet julle waarom die wêreldlinge so sukkel om ons wat Kinders van God is te verstaan.

Jesus waarsku ons ook dat as bekeerlinge sal ons spreek van wat ons weet en ons sal getuig van wat ons gesien het, maar die wêreld sal hierdie getuienis nie aanvaar nie. Is dit nie waar nie? Die van julle wat al met wêreldlinge gewerk het weet hoe moeilik dit is om hulle te oortuig van die bekering. Vir hulle is dit ‘n vreemde konsep wat moeilik is om te aanvaar.

[14]  En soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word, [15]  sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” (Johannes 3:14-15) Hier verwys Jesus na sy eie dood op die kruis. Die prys wat betaal was tot die redding van biljoene en die enigste pad na die ewige lewe! Prys Sy Naam!

In vers 18 herhaal Jesus wat deur die Gees aan my geopenbaar is ‘n paar dae gelede: “Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.”

Die wat in die duisternis wandel, haat die lig omdat hulle werke duister is en hulle bang is dat hierdie werke geopenbaar gaan word en hulle daarvoor gestraf sal word. Maar hy wat in die waarheid wandel, kom na die lig en is nie bang dat sy werke geopenbaar word nie, want hy weet dat daar vergifnis en genesing in die lig is! Prys die Wonderlike Naam van Jesus!

Niemand hoef dus bang te wees oor die sonde in sy lewe nie, want Jesus staan gereed om alles weg te vat en dit te begrawe in Sy see van genade. Al wat jy moet doen is vra en dit wat jy begeer sal vir jou gedoen word. Is Jesus nie wonderlik nie?

Al die eer aan Jesus!

(Visited 299 times, 1 visits today)
Tagged , , .