Perfekte berou

Ons tyd op hierdie aarde is besig om nou vinnig tot ‘n einde te kom, veral as mens so kyk na wat in hierdie wêreld aan die gang is.

Ek sit nou die dag en kyk na die storms, die verspoelings en die verskriklike hoë temperature in Europa. Dis verstommend om te sien hoe ‘n land die een week so baie reën kry dat alles wegspoel en dan net die volgende week sulke hoë temperature sien dat mense van die hitte beswyk… Dis letterlik van een uiterste na die volgende en mense gaan aan asof alles normaal is… Wat gaan aan met die wêreld?

Hierdie hele besigheid laat my so dink aan die storie van die padda in die warm water. Hulle sê dat as jy ‘n padda vat en dit in ‘n kastrol met warm water gooi, dan sal dit uitspring, maar as jy dieselfde padda vat en jy gooi dit in ‘n kastrol koue water, dan sal dit bly. As jy dan begin om die water stelselmatig warmer te maak, sal die padda in die water dood gaan sonder dat dit besef dat dit in gevaar is.

Dis waar ons nou is, want die waarskuwings is daar en die ware Kinders van God sien dit, maar vir die wêreldling is dit normaal, want hulle kom nie agter dat die water stelselmatig warmer en warmer word nie! Vir hulle gaan die Dag van die HERE kom soos ‘n dief in die nag; as ‘n totale verassing, want hulle sien nie die gevaar wat hulle in is nie…

Maar ons is Kinders van die Een Lewende God! Ons sien die gevaar en ons kan die vermy en daarom val satan ons so aan. Hy wil hê dat so veel van ons as wat hy kan verly moet agterbly, want dan kan hy aan die wêreld wys dat God se plan nie werk nie.

Julle moet besef dat die wegraping nie vir almal is nie. Die feit dat jy gered is beteken nie dat jy in die wegraping geneem gaan word nie, want die wegraping is vir die uitverkore Kinders van God. Die wat hulle klere skoon hou van sonde! Weet julle hoe baie mense kom ek tee wat glo dat as jy gered is, jy kan sondig soos jy wil, want God sal mos verstaan. Hy was mos ook ‘n mens gewees en omdat Hy liefdevol is, sal Hy nooit ‘n geredde Kind van God agterlaat of in die hel laat vergaan nie…

Liewe leser; as jy hierdie laaste stelling glo, dan is jy is doods gevaar! Jou redding en jou ewigheid is op die spel en jy besef dit nie! Skrik wakker asseblief en hou op om na satan se leuens te luister!

Dis waar dat God liefdevol is en dis waar dat hy medelye het met ons, maar onthou dat God ook ‘n God van regverdigheid is en dat Hy sonde HAAT! Ons het alles wat ons nodig het om satan te kan verslaan, maar dan moet ons daardie wapens tot ons beskikking gebruik!

Ons almal val van tyd tot tyd. Ek ook, want ek is nie perfek nie. Ek wil graag wees, maar ek besef dat ek ook ‘n mens met swakhede is. Dis waarom ek na Jesus toe gaan as ek oortree het. Ek gaan vra vergifnis, selfs al het ek dieselfde oortreding al op verskeie kere gemaak. Ons is mense en ons leer. Selfs al vaal jy verskeie kere, leer jy uit elke ondervinding. Ons gaan miskien nie nooit perfek wees nie, maar ons kan perfek berouvol wees.

Gaan na Jesus toe as jy geval het en gaan vra vergifnis. Jesus sal jou nooit wegwys nie, selfs al probeer satan jou so oortuig. Staan op en loop verder. Jesus ken jou hart en Hy sien die bedoeling daarvan. Dis dus op jou om te sorg dat jou kleed so skoon bly as wat dit vir jou moontlik is.

Moenie met sonde speel nie, want jy gaan jou vingers brand! Vermy dit eerder sover as wat dit vir jou moontlik is. Ons almal dra ‘n kruis vir Jesus en ons gaan aanhou om daardie kruis te dra tot die dag van die wegraping, daarna gaan Jesus daardie kruis vat en dit wegbêre sodat jy dit nooit weer hoef te dra nie, maar vir jou moet ons aanhou om die goeie stryd te stry.

Vermy die sonde en bid vir vergifnis as jy vaal. Moenie hierdie afskeep nie, want Jesus gaan binnekort kom. Daardie dag is nou nader as ooit! Prys die Naam van Jesus!

Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën!

(Visited 228 times, 1 visits today)
Tagged , , , .

One Comment

  1. Amen! Dis so waar – as daar slegs één mens was, is of sal wees wat met sy eie krag ‘n sondelose lewe gelei het – selfs nie een keer gefaal het nie, sou Jesus se mensword en ondenkbare lyding oorbodig gewees het. Daarin lê ook vir my die troos wanneer ek struikel. Jesus Christus se offer Bloed is álles vir ons redding.

    As ek ook iets mag deel…: Net eergister het ek aan iemand gesê dat ons dade van geregtigheid uit gehoorsaamheid en verseker in en deur die Krag van die Heilige Gees in ons is – nie tot selfvoldane selfregverdiging nie!

    Ook…: Die Kruis wat ek moet dra – het die Heilige Gees aan my gewys is; om God in álles te bly aanbid, te vertrou, lief te hê, in Sy Woord te bly; om waarlik lief te hê; nederig te bly; sagmoedig te wees; álmal volkome te vergewe wat my leed aan doen of te na kom; in die Gees te wandel; te volhard; ander wat swaar kry ook te bemoediging; op my knieë te bly; om te besef – te wéét, dat selfs my vaste vertroue – geloof in onse hemelse Vader en onse Here Jesus Christus deur God aan my gegee is! Het Hy nie die Mosterdsaadjie geskape nie? Daardie saadjie wat ek ook lank terug ontvang het… Dat wanneer ek roem, ek alleen God moet loof prys en aanbid – want álles wat ek het wat tot my redding gekom het, van Hom ontvang is. Dat elkeen wat in Jesus Christus glo in Sy Ewige Hand bewaar word…

    Baie dankies nogmaals vir die bemoedigende Boodskappe – God se rykste seën aan u en u familie.

Comments are closed.