Die enigste pad uit

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Daar moet seker baie mense wees wat wonder waarom dinge in ons land skielik so sleg gaan. Kom ons kyk maar na die droogte wat eers in die binneland was en nou in die Wes Kaap voortgaan. Voor dit het die droogte in die Suid Kaap Begin en van daar af uitgebrei na die hele land.

Ons volk se geloof en ons verhouding met die HERE loop soos ‘n goue draad deur ons land se geskiedenis. Voor ons te diep hierin betrokke raak, wil ek net eers vir julle wys wat ons as volk het, want baie mense sê altyd hoe groen die gras in ander lande is. Vat dit van iemand wat al ‘n paar keer in Europa was: hulle mag miskien beter tegnologie en ‘n ander manier van dinge doen daar hê, maar ek kan julle verseker dat dit nie noodwendig beter is nie. Die Europeërs het ook hulle probleme. Hulle het nie dieselfde probleme as ons nie, maar hulle het weer te doen met dinge wat ons hier in Suid Afrika glad nie ken nie.

Self dink ek nog steeds dat ons dit beter het as hulle in baie opsigte. Ons natuurskoon is beter as hulle s’n, want hulle vlieg Suid Afrika toe om na ons s’n te kom kyk! Sand strande soos ons om ons kuslyn het is iets wat jy baie min in Europa sien. Die meeste strande daar is klip of vulkaan sand. As jy op ‘n sand strand wil ontspan, dan gaan jy moet betaal om in te kan gaan. Hier kan jy in jou motor stop en dit verniet geniet.

Wat plante betref is ons meer geseënd as enige ander land, want ons is een van die min lande wat ‘n hele blomme familie binne ons land se grense het! Gewoonlik strek blomme families oor verskeie lande se grense, maar ons het een hier! Ook wat minerale en edelgesteentes betref is ons meer geseënd as ander. Ons verbrand eerste graad steenkool in ons oonde waar die res van die wêreld derde graad steenkool gebruik! Ons het goud, diamante, platinum en nog baie meer!

As ons na alles kyk, dan het die HERE ons voorwaar geseën! Maar daar is een probleem: Suid Afrika het sy God verloën! Daardie goue draad wat deur ons volk se geskiedenis geloop het, is geknip! Ons het die mag wat die HERE aan ons toe vertrou het misbruik deur ander te onderdruk!

Daar is in die verlede baie profesieë oor Suid Afrika uitgespreek. Een daarvan was in 1994 toe die HERE gesê het dat hy hierdie land gaan oorgee totdat ons terugdraai na die Hom toe. Dit is die sleutel, liewe kind van die HERE. Ons het deur die jare so baie van die HERE ontvang, maar ons het weggedraai van die HERE af! Van daardie tyd af tot nou toe het dinge stelselmatig vir Suid Afrika al hoe slegter gegaan en hierdie droogte is die uitvloeisel daarvan.

As ons met gebed die damme in die noorde van die land kan vol bid van minder as 20% tot meer as 100%, dink dan net wat ons kan doen as ons begin bid vir ons land en sy leiers! Daar heers nog droogte in die Wes Kaap, maar ek is vol oortuiging dat hulle hierdie winter meer reën gaan kry as wat hulle in jare gesien het! Die HERE het in Sy Woord gesê dat die diere van die veld en die voëls Hom gaan eer oor die water en ek weet dat dit net ‘n kwessie van tyd is voor die droogte in die Wes Kaap iets van die verlede gaan wees.

Daarom, liewe Kinders van die HERE, keer terug na die HERE en BID! Dinge in hierdie land gaan nie verbeter voor ons nie gaan terugkeer na die HERE in gebed nie! Ons is werklik geseën met alles wat ons in hierdie land het, maar die HERE het ons gebede nodig om ons omstandighede vir ons te verbeter. Dis waarom gebed die enigste manier vorentoe is.

Bid vir ons land se leiers, selfs al stem jy nie met hulle saam nie. Satan het ons land se leiers verblind. Hulle sien nie raak wat hulle besig is om te doen nie. Bid dat die HERE mense se oë sal oopmaak en hulle bewus sal maak van wat aangaan sodat daar betyds ‘n stokkie voor satan se planne gesteek kan word! Bid, bid, bid, en bid! Net deur gebed kan ons oorwin!

Dis tyd dat Suid Afrika sy altaar vir die HERE herbou! Versamel daardie klippe wat so verstrooi lê. Gaan pak hulle terug waar hulle hoort en bou daardie altaar deur gebed! Dis die enigste pad uit!

(Visited 20 times, 1 visits today)